Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons betuig solidariteit teen gender-gebaseerde geweld
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 05/09/2019

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch betuig solidariteit met diegene wat protes aanteken teen die epidemie van gender-gebaseerde geweld in Suid-Afrika. Ons gee erkenning aan die kommer, hartseer, vrees en frustrasie van ons studente en personeellede. Ons weet daar moet baie werk gedoen word om ons te help om as ʼn nasie te genees en erken dat dit ‘n noodsaaklike deel van die proses is om die voortgesette geweld teen vroue en ander kwesbare groepe aan te spreek.

Ons wil ons steun uitspreek teenoor studente en personeel wat op Donderdag 5 September die byeenkoms “Gathering Against Gender-based Violence” by die Parlement wil bywoon, en moedig ons onderskeie omgewings aan om voorsiening te maak vir diegene wat die byeenkoms wil bywoon. Let asseblief daarop dat die gewone prosesse van toepassing sal wees, naamlik dat personeel aansoek kan moet vir jaarlikse verlof en studente vorms vir verlof tot afwesigheid moet voltooi.

Terwyl ons rou oor die tragiese verliese van die mees onlangse slagoffers, gedenk ons ook die duisende vroue en kinders wat elke jaar misbruik, aangeval, verkrag en vermoor word. Baie van ons kollegas is gesondheidspraktisyns en hulle en ons studente word daagliks gekonfronteer met die pyn van slagoffers en hulle families. Daar is geen twyfel nie dat dit bydra tot die sielkundige druk wat ons kollegas en studente beleef. Ons moet oop gesprekke oor dié kwessie voorsit en ons is verbind tot voorgesette skakeling met alle rolspelergroepe oor hoe ons die krisis beter kan aanspreek.

Studente wat ʼn behoefte het aan berading of sielkundige ondersteuning word aangemoedig om die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling op die Tygerberg-kampus te kontak by (021) 938 9590 of die ER24 krisisdiens te skakel by (010) 205 3032. As jy ondersteuning op ons kampus nodig het of iemand nodig het om jou na-ure na jou motor of koshuis te begelei, kontak Kampussekuriteit by (021) 938 9507. Enige voorvalle van onregverdige diskriminasie, teistering of gender-gebaseerde geweld kan by die US se Gelykheidseenheid aangemeld word deur ʼn e-pos aan unfair@sun.ac.za te stuur.

Neem asseblief ook kennis dat ons in die lig van onlangse gebeure besluit het om die funksie vir die bekendstelling van die Fakulteitshandves wat more sou plaasvind, tot verdere kennisgewing uit te stel.

Prof Jimmy Volmink, namens die Dekaan se Bestuurspan