Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent wil kultureel-simpatieke opvoeders kweek
Outeur: Asiphe Nombewu / Corporate Communication
Gepubliseer: 28/08/2019

​Dr Zelda Barends, 'n dosent by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, het 'n Sosiale Impak-projek van stapel gestuur om Grondslagfase-onderrig en -leer vir beide die student-onderwyser en die leerder te verbeter.

Die “I Can Read – Read to Serve, Serve to Read"-projek is in Februarie vanjaar ingestel en is nog 'n voorbeeld van hoe die US 'n onderrig- en leernaaf is wat sy studente ondersteun om die graduandi-kenmerke soos deur die Universiteit bepaal, te ontwikkel.  

Volgens Barends is die projek begin as 'n manier om die gaping tussen die wêreld van teorie en die praktyk vir die student-onderwysers te oorbrug. Deur middel van die program verskaf student-onderwysers Huistaal-ondersteuningsaktiwiteite wat op geluidsleer en woordbou (twee van die kern komponente vir leesvaardigheidsontwikkeling) fokus aan leerders by sekere nasorginstellings in die Groter Stellenbosch-gebied. 

Tans neem 75 BEd-studente aan die projek deel. Aktiwiteite sluit in om die leerders te help om 'n storie te skryf wat later in 'n werkboek vir die toepaslike graad uitgegee sal word. Die program voeg ook waarde by tot die ontwikkeling van die studente-onderwysers deur hulle voor te berei om met leerders uit verskeie agtergronde te werk.

Picture1.jpg 

“As 'n swart vrou het ek die voorreg gehad om skole by te woon wat nie vir my ouers beskore was nie. Die onderwysers by hierdie skole het nie altyd 'n begrip gehad vir die kwessies wat die leerders in die gesig gestaar het nie en wat hul hindernisse om te leer was nie. Onderwysers skeer dikwels al die leerders oor dieselfde kam in hul een-grootte-pas-almal-benadering tot onderrig," meen Barends.

“Onderwysers moet bewus wees van hul vooroordele en deur reeds van vroeg in hul onderwysloopbaan af met leerders te kan werk, leer hulle om elke leerder se omstandighede in ag te neem," voeg Barends by.

Barends sê sy wil graag sien dat die US se Fakulteite Opvoedkunde onderwysers oplewer wat hul leerders verstaan en respekteer, en wat toegerus is om verskille in die klaskamer te kan hanteer.

Barends, wat ook die koördineerder van die Grondslagfase BEd-program is, sê die projek het 'n positiewe uitwerking op beide die leerders en die US-studente wat daarby betrokke was, gehad.

“Die leerders het gegroei; hulle kan nou langer beskrywende sinne formuleer. Daarbenewens weet my studente ook nou al om nie leerders te vinnig reg te help nie. Die studente het geleer dat net omdat 'n leerder 'n taal anders gebruik, hulle nie noodwendig verkeerd is nie. Die studente het hul 'aha'-oomblik in die klaskamers gehad," sê sy. 

“Ek was baie bly om die betrokkenheid in die onderrig en leer gedurende die sessies te sien. Daar word gepraat van kultureel-simpatieke onderwysers wat die vaardigheid het om oor kultuurgrense heen en in multikulturele omgewing onderrig te kan gee; dit is presies wat ons wil hê ons studente moet wees," sê Barends.