Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skaapnavorsing nou makliker danksy BKB-skenking
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 28/08/2019

Veekunde navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal voortaan 'n raps makliker, vinniger en meer presies hul studies oor die voeding van skape kan uitvoer. Dit word moontlik gemaak deur die installering van 'n gevorderde outomatiese voerstelsel (“autofeeder") op die Welgevallen Proefplaas van die US Fakulteit AgriWetenskappe. Dit is deur die landboumaatskappy BKB aan die US Departement Veekundige Wetenskappe geskenk.

Daarmee kan navorsers presies aanteken hoeveel voer elke skaap in 'n trop per dag vreet en wat elkeen se voeromset gedurende 'n proef is. Dit help veekundiges om beter doeltreffendheidstudies te doen en die effek van verskillende diëte op 'n dier akkuraat te bestudeer.

Die sagteware en tegnologie verbonde aan die outomatiese voerder is ontwikkel deur 'n Suid-Afrikaanse en 'n Duitse firma en daarna deur BKB oorgekoop. Tot 100 skape kan in die demonstrasie-eenheid aangehou word. Die skenking ter waarde van 'n kwartmiljoen rand sluit ook die gebruik van 'n mobiele outomatiese sorteerder (“autosorter") in waarmee diere vinnig en doeltreffend geweeg en gesorteer kan word.

“Dit skep 'n besonderse geleentheid vir die US Departement Veekundige Wetenskappe, want hierdie tegnologie word nog nêrens anders in Suid-Afrika op 'n eksperimentele of kommersiële basis gebruik nie," vertel dr Brink van Zyl, voorsitter van die US Departement Veekundige Wetenskappe. “Ons gaan dit hoofsaaklik gebruik in proewe wat die intensiewe voeding van skape bekyk."Tag-skaap.jpg

Die toerusting behels 'n plastiekvoerbak met 'n tregter wat bo-op 'n baie fyn gekalibreerde skaal staan. As diere daaruit wil vreet, moet hulle hul koppe deur 'n opening druk, waarom 'n elektroniese leserstelsel geïnstalleer is. Dié stelsel “herken" elke proefdier outomaties op grond van 'n geel elektroniese sensor in hul ore.

Soos wat die voerbak met elke sessie ligter word, registreer die stelsel hoeveel elke dier afsonderlik vreet. Dit teken ook aan hoe lank en hoe gereeld elke skaap vreet. Na elke vreetsessie word die inligting outomaties na 'n oorhoofse rekenaarstelsel gestuur, en dan danksy 'n spesiaal-ontwikkelde sagtewareprogram tot 'n daaglikse verslag verwerk wat deur die betrokke navorser verder ontleed kan word.

Volgens dr Van Zyl was dit voorheen tydrowend vir die Universiteit se navorsers om inligting rondom die voedingspatrone van individuele skape vir hul proefnemings in te samel. Dit het behels dat hulle elke dag met die hand die hoeveelheid voer moes weeg wat vir elke dier uitgesit is. Die diere moes ook in aparte kampies aangehou word, omdat dit die enigste manier was waardeur bepaal kon word hoeveel elke skaap self vreet.

“Die nuwe toerusting outomatiseer nie net ons navorsing nie, maar bevorder ook die welstand van die diere in ons proefnemings, omdat hulle nou in 'n groter, meer natuurlike trop aangehou kan word," reken dr Van Zyl.

Hy verduidelik verder dat die harde- en sagteware verbonde aan die stelsel ook gebruik sal kan word om die naspeurbaarheid van skape te verbete, en ook aangepas sou kon word om ander soorte vee te akkommodeer.

Volgens Schalk de Villiers van BKB, is dit vir die maatskappy belangrik om in tegnologie te belê wat waarde toevoeg tot opvoeding, navorsing, hul kliënte en die veebedryf. Die eenheid sal navorsing moontlik maak op verskeie gebiede. Dit sal van groot waarde wees vir alle rolspelers in die bedryf, en hulle help met winsgewende produksie in 'n toenemend uitdagende omgewing.

Drie meestersgraadstudente in Veekundige Wetenskappe aan die US gaan in oorleg met die bedryf die eerstes wees om die toerusting in te span wanneer hulle voerkraalstudies op lammers doen. Een student gaan kyk hoe vetneerlegging by lammers danksy beter voeding gemanipuleer kan word. Sewe verskillende voertipes gaan getoets word om die invloed op vetneerlegging van die lammers van Kalahari Dorpers en Karoo Dorpers te bepaal. 'n Tweede student gaan die besparende effek van bioflavonoïede op die aktiwiteit van Vitamiene A en Vitamiene E in die dieet van voerkraal lammers evalueer, terwyl 'n derde student alternatiewe dieetproteïnbronne vir voerkraal lammers gaan ondersoek.

Volgens dr Van Zyl word 'n hoë prestasie skaaptoetsfasiliteit tans oorweeg. Verskeie bedryfsvennote het ook reeds hul belangstelling uitgespreek om studies saam met die Departement Veekundige Wetenskappe in die ​nuwe fasiliteit te doen.

  • Hooffoto: Dr Brink van Zyl, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch se Departement Veekundige Wetenskappe, by die geoutomatiseerde voersisteem wat by die Welgevallen Proefplaas op Stellenbosch geïnstalleer is. Fotograaf: Engela Duvenage
  • Foto 1: Elke skaap wat deel is van 'n proef word outomaties deur die voersisteem “herken" op grond van 'n spesiale merk aan die oor. Fotograaf: Engela Duvenage

Slegs vir medianavrae:
Dr Brink van Zyl
Voorsitter: Departement Veekundige Wetenskappe
Universiteit Stellenbosch
brinkvz@sun.ac.za
021 808 4746

Mnr Schalk de Villiers

Namens BKB
schalk@rfid-experts.co.za
083 255 5110