Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skokkende tempo van plantuitsterwing in Suid-Afrika
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 22/08/2019

Nuwe navorsing het bevestig dat 79 plante sedert 1700 in Suid-Afrika se drie biodiversiteitsbrandpunte uitgesterf het – naamlik in die Kaapse Blommeryk, die Sukkulente Karoo-bioom, en die Maputaland-Pondoland-Albany gang.

Volgens 'n studie wat hierdie week in die vaktydskrif Current Biology gepubliseer is, verteenwoordig dit 'n skokkende 45,4% van alle plantuitsterwings in 10 van die wêreld se 36 biodiversiteitsbrandpunte. Biodiversiteitsbrandpunte is gebiede wat uitsonderlike hoë getalle van endemiese spesies huisves, maar wat terselfdertyd erg bedreig word deur menslike aktiwiteite.

Suid-Afrika is besonders in die opsig dat dit die tuiste is van drie van hierdie biodiversiteitsbrandpunte, alhoewel dit 'n relatief klein land is.

'n Internasionale span navorsers, gelei deur Prof Jaco Le Roux en Dr Heidi Hirsch, beide geaffilieer met die Sentrum vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch (US), het 'n omvattende datastel geanaliseer van 291 plantuitsterwings sedert 1700 in tien biodiversiteitsbrandpunte en ses lae biodiversiteitsgebiede (bekend as coldspots), wat ongeveer 15% van die aarde se landoppervlakte uitmaak.  

Dit is bevind dat die hoofaandrywers van uitsterwings in Suid-Afrika die gevolg van landbouaktiwiteite (49,4%), verstedeliking (38%) en indringerspesies (22%) is.

Veranderlikheid in voorspellings oor die tempo van plantuitsterwing

Die resultate van hulle analise van 300 jaar se data toon dat die tempo van plantuitsterwings teen die 1990s gestabiliseer het teen ongeveer 1,26 uitsterwings per jaar. Op sy piek was dit egter ten minste steeds 350 keer meer as natuurlike uitsterwings, met ander woorde voor die industriële revolusie.

Hulle voorspel dat, teen die heersende tempo, 'n addisionele 21 plantspesies teen 2030 uitgestorwe sal wees in die areas wat hulle bestudeer het, 47 spesies teen 2050, en 110 spesies teen 2100.

Hierdie bevinding staan egter in skrille kontras met voorspellings van ander studies wat sê dat so veel as die helfte van die aarde se geskatte 390 000 plantspesies kan verdwyn binne die bestek van hierdie eeu.

“Dit sal daarop neerkom dat meer as 49 000 plantspesies oor die volgende 80 jaar moet uitsterf in die streke wat ons bestudeer het, wat onwaarskynlik is, tensy 'n katastrofiese  gebeurtenis sou plaasvind soos in die geval dat 'n asteroïed die aarde sou tref!" argumenteer hulle.

Prof Le Roux sê dat streeksgebonde datastelle waardevolle data verskaf ten einde algemene afleidings oor plantuitsterwings en die onderliggende aandrywers van hierdie uitsterwings te kan maak. Daar is egter steeds baie streke wêreldwyd soos bv. Madagaskar en Hawaii, waar 'n Rooi Lys van plante nie eers bestaan nie, of wie se lyste verouderd is. Die data van hierdie “brandendste" van brandpunte is dus nie in hierdie analise ingesluit nie.

“'n Gebrek aan opgedateerde lyste verhoed ons om 'n meer omvattende en presiese prentjie te kan vorm van wat ons besig is om te verloor, en teen presies watter tempo," voeg Dr Hirsch by.

Hulle glo dat dringende biodiversiteitsassesserings op streeks-, of ten minste op landsvlak, die enigste manier is om die omvang van die uitsterwingskrisis wat plante in die gesig staar te kan verstaan, sowel as biodiversiteit in die algemeen.

“Terwyl ons studie suggereer dat hedendaagse plantuitsterwings relatief laag is, is dit belangrik om te onthou dat plante besonder goed is met 'uithou ter wille van oorlewing'. Sommige van hulle is vandag van die langslewendste organismes op aarde en baie van hulle kan voortbestaan alhoewel in lae digtheid, selfs onder uitgerekte periodes van ongunstige omgewingstoestande. 'n Onlangse verslag het bv. aangedui dat 431 plantspesies, (wat voorheen geglo is uitgesterf het) herontdek is," verduidelik Le Roux. Dit beteken dat baie plantspesies moontlik tegnies nie uitgesterf het nie, alhoewel daar slegs een, of net 'n paar lewende individue in die natuur oorgebly het.

Om die uitsterwingstempo's van plantspesies vas te stel is dus geen eenvoudige taak nie.

“Ons het omvattende en opgedateerde datastelle nodig ten einde ingeligte voorspellings oor die toekoms en die bewaring van die aarde se flora te kan maak," beklemtoon hulle.

Verlore plantspesies in Suid-Afrikaanse biodiversiteitsbrandpunte

Psoralea cataracta, 'n tipe fonteinbos wat langs stroompies in die Tulbagh-area voorgekom het, is die eerste spesie wat in die 1700s as uitgestorwe aangeteken is, en dit as gevolg van bosboubedrywighede. In 2008 is dit as uitgestorwe gelys op die Rooi Lys van Suid-Afrikaanse Plante.

Plant extinctions.png

Die volgende spesie wie se uitgestorwe status bevestig is, was een van die Afrika-magrietjies, Osteospermum hirsutum, wat laas in 1775 opgemerk is, gevolg deur die heuningbos, Cyclopia laxiflora, wat laas rondom 1800 opgemerk is. Die redes vir hulle uitsterwing is gelys as landbou- en bosboubedrywighede en verstedeliking.

Meer onlangs in 2012 is 'n besondere rare vygiespesie, Jordaaniella anemoniflora, as uitgestorwe in die natuur verklaar nadat dit die stryd teen groeiende verstedeliking en ontwikkelings teen die kus in die omgewing van die Strand, Macassar en Hermanus verloor het.

Die Sukkulente Karoo het drie bevestigde plantuitsterwings beleef: 'n vygie, Lampranthus vanzijliae (in 1921 uitgesterf as gevolg van landbouaktiwiteite en verstedeliking), die peulgewas, Leobordea magnifica (in 1947 uitgesterf as gevolg van landbouaktiwiteite en beweiding) en die 'knopie' Conophytum semivestitum, wie se verlies toegeskryf is aan verstedeliking en mynboubedrywighede.

In die Maputaland-Pondoland-Albany gang het twintig spesies bevestigde uitgestorwe status, hoofsaaklik toe te skryf aan landbouaktiwiteite en medisinale gebruik. Van bogenoemde plantspesies is Adenia natalensis (1865), Barleria natalensis (1890) en meer onlangs, Pleiospilos simulans (2007).

Ten slotte

Die navorsers benadruk dat die verlies aan biodiversiteit, tesame met klimaatsverandering, die grootste bedreigings is wat die mensdom in die gesig staar: “Saam met habitatvernietiging, is die verwagting dat die impak van klimaatsverandering besonder straf op daardie plante sal wees wat nie in staat is om hulle sade oor lang afstande te versprei nie," sluit hulle af.

Op die foto bo: Hierdie delikate vygie, Jordaaniella anemoniflora, is in 1924 vir die eerste keer beskryf nadat plante naby Hermanus versamel is, en dit is later in Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad gekweek. Vandag word dit as uitgesterf in die natuurlike habitat beskou. Foto: Abu Shawka. Wiki Commons

Medianavrae

Dr Heidi Hirsch

Nadoktorale genoot, Sentrum vir Indringingbiologie, Universiteit Stellenbosch

E: heidihirsch71@gmail.com

T: +27 (0)21808 3396 

 

Prof Jaco le Roux

SIB genoot en medeprofessor in die  Departement van Biologiese Wetenskappe, Macquarie Universiteit, Sydney, Australië

E: jaco.leroux@mq.edu.au

T: +61 (0)48 494 5367