Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong vroue en leierskap
Outeur: Noloyiso Mtembu
Gepubliseer: 22/08/2019

Jong vroue en leierskap

 

JEUG-leierskap moet nie 'n reserwe vir moeilike tye wees nie, maar moet konsekwent wees en vanaf 'n jong ouderdom aangekweek word.

 

Dit was die boodskap van die voormalige studente- en jeugleier Farai Mubaiwa van die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs as spreker by die jeugleierskapgeleentheid in die Universiteit Stellenbosch Museum opgetree het.

 

Die geleentheid, in vennootskap met die leerstoel vir Historiese Trauma en Transformasie, wou studente, akademici en lede van die breë publiek byeenbring vir 'n gesprek oor jeugleierskap in moeilike tye. Mubaiwa het egter gesê daar behoort nie alleen op die moeilike tye gefokus te word nie, maar dat jeugleiers deurgaans gekweek moet word.

 

Sy sê op hierdie vasteland waar die meerderheid van die landsburgers jeugdiges is, behoort deelname deur hierdie groep aan leierskaprolle vanselfsprekend te wees. Volgens haar moet jongmense aangemoedig word om meer leierskapsrolle te vervul in elke konteks waarin hulle hul bevind.

 

“Daar is altyd iets gebroke in ons samelewing. Wanneer jy dit sien, tree op, en maak dit reg," was haar boodskap aan 'n stampvol studentegehoor wat vertroud is met haar leierskapprestasies as 'n student en landsburger ná universiteit.

 

Mubaiwa het verskeie leierskapposisies beklee toe sy 'n student was, onder meer as speaker van die Studenteparlement en 'n lid van die Sonop-huiskomitee. Sy was ook 'n lid van die Studenteraad (SR). Ná die voltooiing van haar voorgraadse studie in rekeningkunde, het sy vir haar meestersgraad in die politieke ekonomie van opkomende markte aan die King's College in Londen ingeskryf.

 

Sy is 'n medestigter van Africa Matters, 'n jeuggeleide niewinsgewende organisasie wat dit ten doel het om die jeug van Afrika deur kapasiteitsbou op die gebied van leierskap en maatskaplike entrepreneurskap te bemagtig. Mubaiwa het jongmense aangespoor om deel te neem en te poog om 'n verskil te maak, nie net in die politiek nie, maar ook in die akademie, die korporatiewe wêreld, en oral waar hulle hul bevind.

 

Saam in gesprek met Mubaiwa was nog 'n voormalige US-studenteleier, Nomzamo Ntombela, wat bekend geraak het as die eerste swart SR-voorsitter toe sy in 2017 die leisels geneem het in die finale jaar van haar voorgraadse studie.

 

Ntombela begin binnekort met haar PhD-studie aan die Michigan State University (MSU) se PhD-program in Afrika Geskiedenis, in die Verenigde State.

 

Ntombela het haar honneursstudie in kulturele antropologie aan die US voltooi en het nie gedink dat sy vir 'n PhD-program aanvaar sou word voordat sy 'n magistergraad verwerf het nie, maar sy was aangenaam verras toe sy genooi is om 'n aansoek in te stuur, en onlangs gehoor het dit was suksesvol.

 

Oor haar leierskapervaring aan die US sê Ntombela dat sy tot die besef gekom het die uitdagings verbonde aan leierskap gaan nie alleen oor leidinggewing aan mense nie, maar ook oor die hantering van giftige omgewings en institusionele kultuur.

 

“Waarom is dit moeilik vir 'n swart student om meer as 20 jaar ná die aanbreek van demokrasie in hoër onderwys te floreer?" vra sy.

 

Ntombela sê sy het ook besef dat diegene wat voor haar in die leiersrol was, dikwels nie bereid was om uitgedaag te word nie, wat die lewe bemoeilik het.

 

Ntombela se toelating tot die PhD-program kom nadat sy in 2018 aan die Ubuntu Dialoë-projek deelgeneem het, 'n vennootskapprojek tussen die US en die MSU, wat deur die Andrew W Mellon-stigting befonds word om internasionale samewerking te bevorder.

 

Links na regs: Mnr Bongani Mgijima, me Nomzamo Ntombela, me Farai Mubaiwa en dr Mosa Phadi.