Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student deel passie vir lees met minder bevoorregtes
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 21/08/2019

​Toe finale-jaar mediese student, Rosemary Pitsi, gekies is om die Global Engagement Summit in Illinois, in die Verenigde State by te woon vroeër hierdie jaar, het sy geen idee gehad dat dit wat sy daar sou leer haar sou help om haar droom om 'n leesprojek te begin 'n opwindende en veel meer ambisieuse werklikheid sou maak nie.

Die week-lange konferensie – wat in April plaasgevind het – was 'n keerpunt vir Pitsi se projek, Book Buddies, wat ontstaan het uit haar passie vir lees, en haar sterk drang om boeke te deel met mense wat minder bevoorreg was as sy.

Die Global Engagement Summit, wat geborg en gereël is deur die Northwestern Universiteit, bring mense van dwarsoor die wêreld byeen wat 'n sosiale projek in gedagte het, en dit stel hulle bloot aan mentors en bronne wat daarop gemik is om die projekte te ontwikkel.

“Uit my aanvanklike plan om slegs boeke te herversprei van meer bevoorregte na minder bevoorregte mense, het ek my doel geherdefinieer om 'n gemeenskapsbiblioteek tot stand te bring by die Emmanuel-Sentrum in Khayelitsha," het Pitsi gesê.

“Ek het my doel aan een van my mentors verduidelik, wat toe gevra het: 'Hoekom begin jy nie 'n gemeenskapsbiblioteek nie?' Dit was 'n oomblik van helderheid! Ek het eers huiwerig gevoel, maar toe het ek gedink dis 'n goeie idee om vir myself 'n uitdaging te skep. Ek het die aantal mense wat betrokke wou raak heeltemal onderskat. Die projek het soveel gegroei in die twee maande sedert ek teruggekeer het. Ek kan nie wag om te sien hoe dit verder ontwikkel nie."

Pitsi, wat in Pretoria gebore is, was altyd lief vir lees. “Ek en my vriende het boeke geruil, wat ons baie blootstelling aan 'n wye verskeidenheid van leesstof gegee het. Ek wou daardie geleentheid aan meer mense bied, en ek het toe begin werk aan 'n projek waar ek letterkundige bronne aan minder bevoorregte mense herversprei het."

Sy het gehoor van die Global Engagement Summit en is daarvoor aanvaar in Desember verlede jaar.

“Die konferensie – waar daar mense van dwarsoor die wêreld was, insluitende Soedan, Indië en die Verenigde State – is geopen deur Cheryl Dorsey, die hoof uitvoerende beampte van Echoing Green, 'n nie-winsgewende organisasie wat gemik is daarop om sosiale projekte te help ontwikkel. Haar inspirerende toespraak het die toon aangegee vir die hele konferensie. Ons het toe geluister na 'n hele verskeidenheid van ongelooflike gassprekers en individue van groot maatskappye, soos Google en Facebook, oor hoe om ons projekte uit te brei en oor hoe om veldtogte te loods, handelsmerke te skep en spanne bymekaar te sit. Ons het ook geleer hoe om 'n gemeenskap krities te assesseer om sodoende vir hulle tot die grootse voordeel te kan wees.

“Hulle het vir ons een-tot-een sessies gebied oor hoe om ons projekte te verbeter. Dit was gesofistikeerd, professioneel en 'n ongelooflike ondervinding. Die keerpunt vir my was dat ek my projek kon neem van 'n denkproses tot 'n proaktiewe plan wat ek nou besig is om 'n werklikheid te maak."

Planne vir haar gemeenskapsbilioteek vorder goed en Pitsi beplan klaar lees-sessies  vir die kinders in die Emmanuel-Sentrum en ook om hoërskoolleerders te help met toegang tot handboeke.

“Ek was onlangs daar saam met Professor Jimmy Volmink wat ook by die sentrum betrokke is. Deur middel van sy konneksies het Mediclinic 'n struktuur geskenk aan die sentrum wat die kinders kan gebruik om in huiswerk in te doen. Ek hoop om die boek-komponent van die onderneming te laat gebeur. Ek het 'n paar uur deurgebring deur vir die kinders te lees. Ek bly in kontak met diegene wat die sentrum bestuur om te assesseer hoe om die projek in die toekoms te laat ontwikkel.

Wanneer sy haar mediese studies voltooi het, hoop Pitsi om haar internskap by die Khayelitsha Distrikshospitaal te doen – waar sy reeds 'n paar mediese rotasies voltooi het. “Ek geniet die werksomgewing en is baie lief vir die gemeenskap. Ek het nog altyd myself voorgestel as dienende teenoor die township-gemeenskappe. Dis waar ek self grootgeword het in my vroeë kinderjare. En natuurlik is 'n geleentheid om in die Wes-Kaap te bly ook altyd 'n voordeel."

Wanneer sy oor haar langtermyn doelwitte uitgevra word, het Pitsi die volgende te sê: “Ek sal kyk oor hoe ek my leierskapseienskappe kan aanwend en hulle tesame met my passie vir geneeskunde kan gebruik. Ek oorweeg dit om in die rigting van mediese bestuur in te gaan. Wat ek ookal sou doen, sal my hart altyd aan gesondheidsorg toegewy wees." 

* Enigeen wat belangstel om betrokke te raak by Pitsi se projek, kan haar by hierdie e-pos adres kontak:  rosemarypitsi@gmail.com.

 

Foto-erkenning: Wilma Stassen