Die Ubuntu-leergemeenskap (oftewel ULC) bied aan vir individue wat tans gevangenisskap uitdien, 'n geleentheid om sy aan sy met studente en akademici van die Universiteit Stellenbosch te leer.
Die ULC is Suid-Afrika se eerste gevangenisuniversiteitsvennootskap met dr Mary Nel van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die spits. Hierdie unieke projek is in samewerking met die Departement Korrektiewe Dienste (DKD) by die Brandvlei Korrektiewe Sentrum op Worcester van stapel gestuur. Internasionale vennote en organisasies wat die projek geïnspireer het, is die Amerikaans-gebaseerde organisasie Prison-to-College Pipeline en Learning Together, 'n inisiatief wat in die Verenigde Koninkryk gesetel is.
As deel van Suid-Afrika se Vrouedagvieringe, vertel dr Nell ons meer van hierdie baanbrekerswerk.
Vertel ons meer oor die ULC.
Die doel van die ULC is vir studente wat gevangenisskap in Brandvlei uitdien en studente van die US om saam 'n interdissiplinêre kortkursus in die Brandvlei-gevangenis te volg. Die projek bevorder nie net samewerkende leer nie, maar dien ook as 'n grondslag vir gevangenes om die tyd wat hulle in die gevangenis spandeer, goed aan te wend. Ons hoop ook om saam met die Brandvlei-personeel te werk om 'n gemeenskaplike doel te bereik: om die studente in die gevangenis se vooruitsigte op suksesvolle herintegrasie ná hul vrylating te verbeter en om die vlakke van terugvalling te verminder. Dit is 'n loodsprojek en die eerste vennootskap tussen 'n gevangenis en 'n universiteit in Suid-Afrika, maar ons hoop om dit in die toekoms na ander gevangenisse en universiteite uit te brei.
Wie neem aan die ULC deel?
Altesame 30 US- en Unisa-studente van die Brandvlei-gevangenis uit verskeie studierigtings en jaargroepe is vir die Ubuntu-leer kortkursus ingeskryf. Die tema van die kursus is “Is ek omdat ons is? Verken jouself en jou gemeenskap". Kollegas van die Departemente Geskiedenis, Regte, Ekonomie en Engels bied die kursus aan.
Waarom is die ULC-projek uniek?
Dis is daarop gemik om die menslikheid terug te sit in leer deur op leer se sosiale eienskappe en ubuntu-ingesteldheid te fokus – samewerking, gemeenskapsbou en verbondenheid.
Jy fokus tans op die onderrigdeel van die ULC. Watter ander onderdele gaan by die projek gevoeg word?
Ons is op soek na befondsing om verder as net die interdissiplinêre kursus uit te brei. Ons wil 'n herintegrasieprogram vir gevangenisstudente ná hul vrylating begin.
Die herintegrasie-deel stel akademiese en maatskaplike ondersteuning in die vooruitsig om studente met die oorgang van die gevangenis na die gemeenskap te help sodat hulle hul studies kan voortsit, werk kan vind en stabiele, produktiewe, vervulde lewens ná hul gevangenisskap kan lei.
Ons sal ook student-gedrewe inisiatiewe ondersoek wat daarop gemik is om US-studente en die breër gemeenskap te op te voed en in te lig oor die gevangenisstelsel.
Hoekom is dit belangrik om hierdie onderdele by die ULC-projek te voeg?
Ons wil die stigma wat aan 'n kriminele rekord kleef, help afbreek en ander mense help om diegene wat gevangenisskap uitgedien het, in 'n ander lig te sien. Indien ons hulle verstoot en 'n etiket om hul nekke hang, sal hierdie mense nooit in staat wees om werk te vind en produktiewe lede van die samelewing te word nie. Dit is in die samelewing se belang om die narratief oor mense wat uit die gevangenis vrygelaat is, te verander.
Hoekom is dit vir US-studente en -akademici belangrik om aan die UCL-program deel te neem?
Uit die US-student en -akademikus se hoek gee dit hulle 'n wonderlike geleentheid om op só 'n manier te leer wat hulle in staat te stel om tot ander verbind te voel, wat bemagtiging, transformerende leer en holistiese studenteontwikkeling in die hand werk. Transformerende leer vind plaas wanneer studente aan nuwe ondervindinge en perspektiewe blootgestel word, soos interaksie met uiteenlopende portuurgroepe. Dit gaan daaroor om jou vooroordele en oortuigings uit te daag. Ons moedig deelnemers aan om na te dink oor en hulself daartoe te verbind om tot die algemene welsyn by te dra en om 'n sin vir eie en sosiale verantwoordelikheid te ontwikkel. Om op hierdie manier te leer, gee jou die geleentheid om iemand anders te plek in te neem.
Dit is nie 'n maklike taak om aan die spits van so 'n inisiatief te staan nie. Wat is jou dryfkrag?
Dit is die regte ding om te doen. Wanneer die geleentheid hom voordoen om mense se lewens te verander, moet ek as mensliewende persoon dit aangryp.