Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Dr Funlola Olojede
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 15/08/2019

​Die Bybel word al vir eeue op maniere geïnterpreteer wat vroue op alle lewensterreine tot onderhorigheid dwing, onderdruk en ontmagtig. Deur haar navorsing probeer dr Funlola Olojede van die Geslagseenheid by die Fakulteit Teologie bewys hoe tradisionele en androsentriese (op mans gefokus) interpretasies van die Bybel steeds vroue in verskillende Afrika-kontekste skade berokken.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, vertel sy ons meer oor hoe haar werk 'n verskil in vroue se lewens maak.

Vertel ons meer oor jou navorsing.

My navorsingswerk in geslagstudies fokus op 'n feministiese interpretasie van die Ou Testament uit 'n Afrika-perspektief. Dit is ook begaan oor etiese kwessies en die belangrikheid van konteks wanneer die Bybel gelees word.

Hoe of hoekom het jy in hierdie spesifieke navorsingsveld begin belangstel?

Ek het as vroulike bedienaar van die Woord en as pastor eerstehands die skadelike uitwerking van tradisionele en androsentriese interpretasies van die Bybel op vroue in (Suid-) Afrika gesien – in gesinsverband, in die werksplek, in kerkstrukture en in die openbare sektor, wat 'n wanbalans in inkomste, magsverdeling, werksgeleenthede, ens tot gevolg het. Daarom het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit 'n algehele sistemiese transformasie van tradisionele teoretiese raamwerke en die status quo wat verskeie vorme van hegemonie (heerskappy) in die samelewing bevorder, gaan verg. Met ander woorde, vir die praktyk om te verander, moet dit gegrond wees op gebalanseerde billike teorie.

Hoekom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsveld vir Suid-Afrikaanse vroue?

Bybelse interpretasie is gebruik om vroue histories en kultureel te onderdruk en te ontmagtig. Die doel van my navorsing is om die negatiewe invloede van onewewigtige, patriargale en imperialistiese interpretasies van die Skrif op vroue reg te stel. Terselfdertyd wil ek wys hoe 'n (geslags-) sensitiewe en (geslags-) gebalanseerde interpretasie van die Skrif kan help om vroue in Afrika, veral in 'n post-koloniale, post-apartheid konteks, te bekragtig. Vir baie Suid-Afrikaners bly die Bybel 'n normatiewe of vormende teks; daarom sal 'n regverdige interpretasie van sy teks 'n beter samelewing wat rondom sosiale geregtigheid, billikheid en onderlinge respek gesentreer is, in die hand werk.

Wat beskou jy as die grootste invloed van jou navorsing op vroue in die land?

Dit is om 'n kritiese bewustheid van die benarde situasie van vroue in Afrika in verhouding tot die Bybelse teks te skep.

Wat is jou boodskap aan die volgende generasie vrouenavorsers?

Feministiese en geslagsbewuste interpretasie is nog in 'n vroeë stadium van ontwikkeling. Meer navorsing oor die teorie en empiriese studie is nodig. Vroue moet dapper en kordaat wees om nie net praktyke en teorieë wat hulle verkleineer en op die agtergrond skuif, teen te staan nie, maar ook om gesamentlik en samewerkend op die terrein van voorspraak en beleidsbeïnvloeding te werk.