Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Dr Elisabet le Roux
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 14/08/2019

​Geestelike leiers en geloofsgemeenskappe kan en moet 'n belangrike rol in die voorkoming van en reaksie op geslagsgeweld speel. Ongelukkig dra hulle dikwels by tot die oortuigings, norme en praktyke wat hierdie teistering in die hand werk en dit verskoon. 

Om die aandag op hierdie spesifieke kwessie te vestig, is presies wat dr Elisabet le Roux van die Eenheid vir Godsdiens en Ontwikkelingsnavorsing in die Fakulteit Teologie nou al vir 'n geruime tyd doen.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe vertel sy ons hoe haar werk 'n verskil in die lewens van vroue maak.

Vertel ons meer van jou navorsing

My navorsing is empiries en fokus in breë trekke op godsdiens en geweld, en meer spesifiek op godsdiens en geweld teen vroue en meisies. Ek werk binne die internasionale ontwikkelingsarena waar geslagsgebaseerde geweld as 'n wêreldwye gesondheids-, ontwikkelings-, humanitêre en menseregtekwessie erken word. My navorsing ondersoek hoe godsdiens, godsdienstige leiers en godsdienstige gemeenskappe geslagsgebaseerde geweld uitdaag en daartoe bydra. Van my onlangse werk tussen gelowe sluit Hindoe-, Islam- en Christelike omgewings in.

My navorsing is 'n vergestalting van samewerkende studie, aangesien dit alles saam met en vir regerings, wêreldwye gelooforganisasies, ontwikkelingsnetwerke of plaaslike organisasies gedoen word. Dit beteken ek is as 'n vennoot geposisioneer en is daartoe verbind om, sy aan sy met praktisyns, gestrenge kennis en bewyse te verskaf. Ek doen heelwat werk in konflikgeteisterde gebiede en die afgelope tien jaar het ek befondsing verkry vir en navorsingsprojekte onderneem in 21 lande op vier vastelande.

Hoe of hoekom het jy in hierdie spesifieke navorsingsveld begin belangstel?

Ek het aan die begin in die HIV/vigs-veld gewerk, eers as praktisyn (gedurende 'n jaar wat ek op die hooglande van Lesotho deurgebring het) en toe as navorser in die Eenheid vir Godsdiens en Ontwikkelingsnavorsing hier by die Universiteit Stellenbosch. Dit was egter tydens 'n navorsingsprojek oor seksuele geweld teen vroue in konflikgeteisterde gebiede wat in 2011 in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Rwanda en Liberië onderneem is dat ek die kwessies waaraan en die ruimte waarin ek die graagste wou werk, kon identifiseer.

Ek vind dit 'n fassinerende en oneindig uitdagende studieveld, aangesien geslagsgebaseerde geweld so uiteenlopend en ingewikkeld is. Dieselfde geld vir godsdiens, omdat dit soveel vorme kan aanneem, afhangende van die godsdienstige tradisie, konteks en kultuur. Omdat al my navorsing vir praktisyns bedoel is en deur hulle gebruik word, word ek ook gemotiveer deur die invloed wat my bevindinge en die implikasies en toepassings daarvan op die werklike lewe het.

 

Hoekom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsveld vir Suid-Afrikaanse vroue?

Iets wat wêreldwyd al hoe duideliker word, is dat die ontwikkelingsvordering wat deur vroue gemaak is, omkeerbaar is. 'n Ooglopende en skokkende voorbeeld is die VSA, waar die teenreaksie teen die vordering in vroue se seksuele en voortplantingsregte gelei het tot 'n verbod op aborsies in verskeie state. Die uitwerking van godsdiens op besluite (in die openbaar en agter geslote deure) wat vroueregte en gelykheid inperk, word dikwels onderskat.

Godsdiens kan 'n sentrale rol speel om die onderdrukking wat vroue moet verduur, asook die geweld wat teen hulle gepleeg word, uit te daag. Ongelukkig kan godsdiens ook 'n belangrike rol in die handhawing van hierdie onderdrukking speel en as verskoning vir die geweld teen vroue dien. Daarom moet ons met godsdiens gemoeid raak indien ons 'n toekoms wil verseker waar vroue en meisies nie onder geweld gebuk gaan nie en hul volle regte erken word.​

Wat beskou jy as die grootste invloed van jou navorsing op vroue in die land?

Ek dink my navorsing is op talle maniere uitdagend, terwyl dit empiriese bewys lewer van hoe en waarom godsdienstige leiers en gemeenskappe skadelik vir vroue kan wees. Ons het sulke uitdagende navorsing nodig om mense en instellings te dwing om die probleem te besef en te erken. Alvorens ons nie erken dat godsdienstige ruimtes nie noodwendig veilige ruimtes vir baie vroue is nie, kan ons nie aandring op verandering nie.

Maar die navorsing daag nie net uit nie; dit bied en stel alternatiewe maniere van doen voor. Godsdienstige gemeenskap kan veilige ruimtes van geslagsgelykheid wees, ruimtes wat slagoffers ondersteun en vroue na waarde ag. Dit is moontlik en het al gebeur – so geen verskonings meer nie!


Wat is jou boodskap aan die volgende generasie vrouenavorsers?

Werk aan dít waaroor jy passievol is. Navorsing is harde werk! En in my veld, en die plekke waarheen ek gaan, aanskou ek dikwels 'n baie donker kant van die menslike natuur (hoewel daar altyd die ligstrale ook is, in die vorm van individue wat ongelooflike werk doen om geweld en stigmas teen te staan). Maar as jy aan iets werk waaroor jy passievol is, sal jy gemotiveerd wees om die hindernisse te oorkom – en daar gaan hindernisse wees!