Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 13/08/2019

Geleerdheid verander lewens. Dít is die mantra van Eleanor Brink, Sibongile BUlose, Angelique Botha-Dreyer, Bongiwe Mdingi en Alida Hendricks.

Hierdie vyf dinamiese vroue is raadgewers by die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies wat binne die Afdeling Studentetoegang gesetel is. Hulle speel 'n deurslaggewende rol om te help om die toekoms van duisende individue te vorm deur hulle leiding te gee aangaande studiegeleenthede by die Universiteit Stellenbosch (US).

As deel van die US se Vrouemaandvieringe gee hierdie dinamiese span ons 'n blik op hul werk.

Die Sentrum vir Studentewerwing gebruik innoverende benaderings om die US binne die voornemende studentemark as 'n instelling wat waarde toevoeg, te posisioneer. Wat is van hierdie benaderings?

Ons besoek jaarliks 500 skole regoor Suid-Afrika om voorleggings vir graad 9-, 11- of 12-leerders aan te bied en met onderwysers en ouers te skakel. Ons reik ook deur elektroniese kanale, sosiale media en die pos uit na skole.

Ons bied ook die Opedag aan. Dit is 'n omvattende bemarkingsgeleentheid vir die Universiteit se handelsmerk om skole, onderwysers, ouers en voornemende studente te bereik, en fokus veral daarop om inskrywings van graad 12-leerders te genereer. Ons het ook vanjaar twee suksesvolle aansoekdae op kampus gehou.

Ons nooi ook skole om aan ons “'n Dag in die Lewe van 'n Matie"-ondervinding deel te neem. Hierdie inisiatief gee leerders die geleentheid om lesings by te woon en die kampuslewe te ervaar.

Ons bied ook die “Maties on the Move"- en Maties 101-geleenthede in Gauteng en in die Wes-Kaap aan. Hierdie inisiatiewe is op voorlopig-aanvaarde studente gemik.


As raadgewers moedig julle die jeug aan om geleerdheid te bekom. Hoekom is dit so belangrik vir jongmense in Suid-Afrika om geleerdheid te verkry?

Nelson Mandela het gesê “onderwys is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander". Bemagtigde jeug sal nie net 'n positiewe bydrae tot die land se ekonomie lewer nie, maar sal ook goedafgeronde landsburgers wees wat in die wêreldmark kan meeding.

Ons glo ook dat deur in die jeug deur onderwys te belê, armoede en talle ander maatskaplike euwels verminder kan word.

 

Watse bemoedigende boodskap het julle vir jong vroue?

Eleanor Brink: “En eendag het sy ontdek sy is verbete en sterk en vurig, en dat selfs sy nie haarself kon terughou nie omdat haar passie hoër gebrand het as haar vrese." – Mark Anthony. My boodskap aan jong vroue is om altyd hul passies en drome na te jaag; moenie toelaat dat die wêreld jou afskrik om kanse te waag om jou drome te bereik nie.

Angelique Botha-Dreyer: Jou geskenk aan die wêreld lê in jou egtheid. Niemand kan hiermee meeding nie. Wees dapper genoeg om te alle tye getrou aan jouself te wees.

Bongiwe Mdingi: Dit is nooit te laat of te vroeg om te wees wat jy ook al wil wees nie. Ek hoop dat jy 'n lewe sal lei waarop jy trots is. Indien nie, hoop ek jy sal die krag hê om van voor af te begin.

 Alida Hendricks: Jy het baie meer krag as wat jy dink. Moenie bang wees om buite jou gemaksone te beweeg nie en gryp nuwe uitdagings aan. Maak jouself trots.

 Sibongile Bulose: Vroue is versorgers; hetsy as 'n biologiese ouer of nie, het hulle 'n ingebore vermoë om 'n invloed op baie mense lewens te hê. Soos die ou spreekwoord lui: “Deur 'n vrou te onderrig, word die nasie onderrig." Gedurende hierdie Vrouemaand wil ek alle jong vroue aanmoedig om al die geleenthede wat voor hulle lê, aan te gryp; kry daai graad … kry daai werk en maak in verskil in jou gemeenskap. 

Onderskrif: 

Voor (links na regs):Alida Hendricks, Bongiwe Mdingi

Agter (van links na regs): Sibongile Bulose, Angelique Dreyer, Eleanor Brink