Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huis ten Bosch-brand: Dak en agt kamers beskadig
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 13/08/2019

Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van die Huis ten Bosch-koshuis by die Universiteit Stellenbosch (US) is verwoes in die brand wat omstreek 19:00 Maandagaand (12 Augustus 2019) in dié koshuis uitgebreek het. Al 164 inwoners van Huis ten Bosch is egter veilig ontruim en van alternatiewe verblyf voorsien.

ʼn Assessor word vandag (Dinsdag 13 Augustus) by Huis ten Bosch verwag om die skade te evalueer sodat die herbouingsproses kan begin. Sommige inwoners sal nie vanjaar na hul kamers kan terugkeer nie, en alternatiewe huisvesting sal vir hulle voorsien word.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het gesê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

“Ons voel verlig en dankbaar dat al die studente veilig is. Ons opregte dank gaan aan die Stellenbosse nooddienste wat ons te hulp gesnel het en tydens die brand verskillende vorms van ondersteuning gebied het. Teen 20:30 was die brand onder beheer,” het prof De Villiers gesê.

Een student is vir brandwonde aan haar hande in die Stellenbosch-hospitaal behandel, en ʼn ander student vir rookinaseming. Albei studente maak goeie vordering.

Nadat die gebou ontruim is, het inwoners by die nabygeleë Wilgenhof-koshuis byeengekom waar prof De Villiers hulle verseker het dat hul veiligheid die US se grootste prioriteit is. Alternatiewe oornaghuisvesting is vir hulle gevind, en die US is daartoe verbind om omvattende ondersteuning te bied.

Die nodige beradings- en ondersteuningsdienste is ook reeds beskikbaar vir die studente. Die 24-uur-krisisdiens van die Universiteit se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), in samewerking met ER24, is in werking gestel (tel: 010 205 3032) en hul personeel is in Monica-koshuis se ontspanningsaal ontplooi.

Weens brand- en waterskade kon inwoners nie Maandagaand na Huis ten Bosch terugkeer nie, en alternatiewe oornagverblyf is in ander koshuise verskaf. Sekuriteitsdienste is by die koshuis ontplooi, en waar dit op die eerste en tweede vloer veilig genoeg was, is inwoners deur die koshuis begelei sodat hulle van hul persoonlike besittings vir die nag kon gaan haal.

“Die Universiteitsbestuur het ʼn gebeurlikheidskomitee byeengeroep om die nodige reëlings te begin tref vir die brand en die nadraai daarvan. Ons onmiddellike prioriteit is die veiligheid en welwees van ons studente en personeel, maar ons het ook akademiese ondersteuning vir die inwoners van Huis ten Bosch vir die komende dae en weke bespreek,” het prof De Villiers gesê.

“Ek en my kollegas wil graag die inwoners en leiers van Huis ten Bosch loof vir hul dapperheid tydens hierdie noodsituasie. Danksy gereelde brandoefeninge in US-koshuise het die koshuisinwoners vinnig, kalm en effektief gereageer toe die brandalarm geaktiveer is,” het prof De Villiers bygevoeg.

Hy het sy dank aan die hele studentegemeenskap uitgespreek wat saamgestaan het onder moeilike omstandighede om ondersteuning en hulp aan Huis ten Bosch se inwoners te bied, asook aan US-personeel wat vinnig gereageer het soos wat die situasie Maandagaand ontvou het.

“Baie dankie ook aan die Stellenbosch-gemeenskap wat hulp en ondersteuning aangebied het. Ons is besig om behoeftes te bepaal en sal binnekort verder daaroor kommunikeer,” het prof De Villiers gesê.

  • Hou die US se webblad en sosiale media platforms dop vir meer inligting. Daar sal gereeld kommunikeer soos wat meer besonderhede beskikbaar raak.