Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huis ten Bosch brand geblus, studente veilig
Outeur: Corporate Communication
Gepubliseer: 12/08/2019


Al die inwoners van Huis ten Bosch het huisvesting vir die nag nadat ’n brand omstreeks 19:00 Maandagaand (12 Augustus 2019) in die koshuis uitgebreek het.

Die brand by die Huis ten Bosch-vrouekoshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch is teen 20:30 onder beheer gebring. Sover vasgestel kon word, is alle inwoners na veiligheid gebring. Een studente is vir brandwonde aan haar hande en nog een vir rookinaseming by die Stellenbosch-hospitaal behandel. Albei studente is in ’n bevredigende toestand.

Die brand is omstreeks 19:00 aangemeld. Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, en prof Stan du Plessis, Bedryfshoof, was op die toneel. Die 164 studente wat na veiligheid gebring is, het by die Wilgenhof-koshuis bymekaar gekom, waar inligting verskaf is en prof De Villiers hulle toegespreek het. “Ek het gesê dat ons hulle ondersteun, ons is daar vir hulle en daar sal alternatiewe verblyf vir hulle gereël word. Ons wou net baie seker maak dat hulle almal veilig is. Ons is baie dankbaar vir almal se hulp en samewerking,” het prof De Villiers gesê.

Die Universiteit se belangrikste prioriteit op die oomblik is om die veiligheid van ons studente te verseker en om alternatiewe verblyf vir hulle te reël. Die nodige beradings- en ondersteuningsdienste is ook reeds tot hul beskikking gestel. Ons Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) se 24-uur-krisisdiens, in samewerking met ER24, is in werking gestel en kan by 010 205 3032 geskakel word.

"Baie dankie aan alle personeel, studente en die groter Stellenbosse gemeenskap wat ondersteuning en hulp aangebied het. Ons is tans besig om ’n behoeftebepaling te doen, en sal later meer inligting verskaf," het prof Du Plessis gesê​.

Die studente kon weens brand- en waterskade nie na Huis ten Bosch terugkeer nie, maar alternatiewe verblyf is in ander koshuise verskaf. 

Nadat die brand onder beheer gebring is en oornagverblyf vir die studente gereël is, het die Universiteit se bestuur ’n gebeurlikheidskomitee byeengeroep in die Raadsaal in die Admin B-gebou.

Die Universiteitsbestuur het gisteraand by die vergadering van die gebeurlikheidskomitee hul dank en waardering uitgespreek teenoor studente vir die ondersteuning en hulp wat aan Huis ten Bosch se inwoners verleen is. "Dit was wonderlik om te ervaar hoe ons studentegemeenskap onder moeilike omstandighede saamstaan," het prof Schoonwinkel gesê​​. "Ons opregte dank en waardering ook teenoor die Stellenbosse nooddienste vir die verskeie vorms van hulpverlening tydens die brand," het prof De Villiers gesê​.

  • Reëlings word tans getref vir akademiese bystand vir al die inwoners.
  • ER24 sal regdeur die nag op bystand wees in Monica-koshuis se ontspanningsaal.
  • ​Sekuriteit is gereël om Huis ten Bosch deur die nag te bewaak.​​