Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie (AKK) van die Universiteit Stellenbosch (US) het drie van sy publikasies Vrydag (2 Augustus) tydens ʼn geleentheid in die US Biblioteek bekend gestel.
Die geleentheid was daarop gemik om die kampusgemeenskap in te lig oor die publikasies, wat die Geïntegreerde Jaarverslag 2018, Matieland, sowel as die nuwe Korporatiewe Profiel is.
Die Geïntegreerde Jaarverslag 2018 reflekteer op die Universiteit se Eeufeesjaar en is op 18 Junie deur die US-raad goedgekeur. In die verlede het die US verskeie publikasietoekennings gewen vir sy jaarverslag, waarvan me Mattie van der Merwe van die AKK die redakteur is.
Die jongste uitgawe van Matieland, die US se bekroonde 62-jarige tydskrif vir alumni en belanghebbers, het ʼn vernuwing ondergaan en word nou in ʼn klein, maklik leesbare formaat gepubliseer. Met die verfrisde inhoud en uitleg, is die tydskrif nou in lyn met die ses kern- strategiese temas van die Universiteit wat in die Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 uiteengesit word. Dr Wayne Muller van AKK is die redakteur.
Die nuwe Korporatiewe Profiel gee aan lesers ʼn bondige beskrywing van die breër instelling, sy aktiwiteite en sy mense om te kommunikeer hoe die Universiteit se aktiwiteite en hulpbronne aangewend word om die US se visie en kern- strategiese temas te dien.
Hierdie publikasie, ook onder redaksie van Muller, is in ʼn klein formaat van 48 bladsye wat op die US se breë belanghebbers gerig is, insluitende voornemende en huidige studente en hul ouers; werknemers en pensioenarisse; regerings-, regulatoriese en professionele liggame; alumni; skenkers; diensverskaffers; en die media.
“Die drie publikasies wat ons bekendstel, ondersteun die institusionele strategiese doelwitte van Visie 2040 deur ʼn nuwe institusionele narratiewe fokus te dryf wat belyn is met ʼn konsekwente institusionele boodskap – of eenvoudig gestel, die US-storie," het dr Phumzile Mmope, Senior Direkteur van die AKK, gesê.
Sy het bygevoeg dat die AKK deur middel van hierdie publikasies hoop om 'n relevante dog boeiende US-verhaal te vertel wat nie net die instelling van ander onderskei nie, maar ook die Universiteit gunstig posisioneer, en wat resoneer met alle belanghebbers.
“By die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie glo ons dat die bekendstelling van hierdie publikasies nie die doel op sigself is nie, maar ʼn manier is om nouer samewerking te fasiliteer om 'n konsekwente US-verhaal te skep, te kommunikeer en te versterk wat nie net die Universiteit se handelsmerk en reputasie bevorder nie, maar die handelsmerk gunstig by ons uiteenlopende belangegroepe posisioneer.
“Ons hoop dat die kampusgemeenskap die publikasies, veral die Korporatiewe Profiel, betekenisvol sal vind, en ons hoop dat hulle dit sal geniet om hierdie publikasies te lees en te deel net soos wat ons dit geniet het om dit saam te stel," het Mmope gesê.
- Al die publikasies is in digitale en gedrukte formaat beskikbaar. Vir gedrukte publikasies kontak Marjorie van Rooy by mvanrooy@sun.ac.za of skakel 021 808 9923. Gaan na https://www.sun.ac.za/english/news-media en rol af na “Publikasies" om die digitale weergawes van hierdie publikasies af te laai.