Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nominasies vir nuwe US-Kanselier open 14 Augustus
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 11/08/2019

Nominasies vir 'n nuwe Kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) open op 14 Augustus. 'n Kieskollege, wat bestaan uit die lede van die Raad, lede van die Uitvoerende Komitee van die Senaat en die President en Visepresident van die US-Konvokasie, kom op 25 September 2019 byeen om vir 'n nuwe Kanselier te stem.

Die tweede en laaste termyn van dr Johann Rupert, die US se 14de Kanselier, kom tot 'n einde aan die einde van 2019 en daar word voorsien dat die nuwe Kanselier vanaf 1 Januarie 2020 die amp sal beklee.

Die Kanselier is die titulêre hoof van die Universiteit, sit voor by gradeplegtighede en ken all grade, diplomas en sertifikate in die naam van die Universiteit toe. Die Kanselier beklee die amp vir vyf jaar en is herkiesbaar vir een verdere termyn van vyf jaar.

“Alhoewel dit 'n seremoniële rol is, is die posisie van kanselier van kardinale belang vir ons instelling. Hy of sy moet in staat wees om met die Universiteit se Visie 2040, sy missie en sy waardes te identifiseer, dit te bevorder en moet ook 'n gesonde belangstelling in die Universiteit Stellenbosch as akademiese instelling toon," sê dr Ronel Retief, US Registrateur. “Die individu moet 'n denkleier in eie reg wees en 'n rolmodel vir die universiteitsgemeenskap."

Nominasies

Alle lede van die US-konvokasie kan nominasies indien en het van 14 Augustus tot 4 September 2019 om hul nominasies in te handig. Nominasies moet skriftelik wees en moet by die Registrateur teen die sperdatum van 4 September ingehandig wees.  

Alle US-graduandi (ingesluit huidige nagraadse studente wat hul voorgraadse studies aan die US voltooi het), ontvangers van US-diplomas na 2010 en voltydse en afgetrede akademiese personeel van die Universiteit, is lede van die Konvokasie

Kandidate vir Kanselier hoef nie lede van die US-konvokasie te wees nie.

Alle nominasies moet deur ten minste 20 Konvokasielede onderteken wees en vergesel word van 'n ondertekende verklaring deur die genomineerdes dat hulle die nominasie aanvaar. Hierdie vorms sal teen 14 Augustus op die Universiteit se webblad (www.sun.ac.za) beskikbaar wees.

Selfs al sou slegs een persoon genomineer word, mag niemand tot kanselier verkies word nie tensy die meerderheid van die aanwesige kieskollege-lede ten gunste van die genomineerde stem.

  • Skakel met Alfreda Coetzee by tel 021 808 4910 of alfreda@sun.ac.za vir meer inligting. Nominasievorms sal teen 14 Augustus op die US se webblad (www.sun.ac.za) beskikbaar wees.