Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het haar intreerede met die titel Mind the gap: Income inequality in post-apartheid South Africa, op 7 Augustus 2019 gelewer.
Prof Woolard, wat ook 'n hoogleraar in die Departement Ekonomie is, het 'n prentjie geskets van die veranderende ongelykheid in inkomste in Suid-Afrika sedert demokrasie aangebreek het, asook die belangrikste faktore wat tot hierdie ongelykheid gelei het.
Sy het daarop gewys dat, alhoewel armoede sedert 1993 gedaal het, ongelykheid in dieselfde tydperk nie veel verander het nie. Hierdie stelling het sy op navorsing oor die afgelope 25 jaar baseer.
“Die armste 40% van die bevolking verdien ongeveer 6% van die totale inkomste in Suid-Afrika, terwyl die rykste 10% ongeveer 57% van die inkomste verdien. Dit toon 'n baie duidelike beeld van inkomste-ongelykheid," het sy gesê .
Sy het lig gewerp op die rol wat die fiskale beleid – persoonlike
inkomstebelasting, kontantoorplasings, onderwys- en gesondheidsbesteding – in die afname in inkomste-ongelykheid speel.
Volgens prof Woolard bly daar steeds vrae oor die rolle en belangrikheid van bates en welvaart in die voortbestaan van die hoë vlakke van ongelykheid, en waarom die Suid-Afrikaanse arbeidsmark steeds sulke buitengewoon hoë vlakke van werkloosheid toon.
"Dit verg 'n beter begrip oor die aanvraag na arbeid, tesame met 'n meer gevorderde begrip van die markstruktuur en markkrag," het sy gesê.
“Ekonome is onvoldoende opgelei om hierdie onderwerpe te ondersoek, wat nog te sê om aan te spreek. Om vordering te maak met die vermindering van ongelykheid, verg veel groter samewerking met kollegas uit ander dissiplines, soos historici, politieke wetenskaplikes, regsgeleerdes, demograwe en sosioloë," het sy ter afsluiting gesê.
Prof Woolard se navorsingsbelangstelling sluit die volgende velde in: die meting van armoede en ongelykheid, werkloosheid, sosiale beskerming en fiskale beleid. Sy is 'n navorsingsgenoot by die Verenigde Nasies se University World Institute vir navorsing oor ontwikkelingsekonomie, die Institute for the Study of Labour en die Commitment to Equity Institute, asook 'n ereprofessor by die Universiteit van Kaapstad.
Sy het van 2008 tot 2014 in die Kommissie vir Diensvoorwaardes – wat die Suid-Afrikaanse minister van arbeid adviseer het oor sektorale bepalings rakende werksomstandighede en minimum lone in sektore waar kollektiewe bedinging swak is – gedien. Van 2013 tot 2018 het prof Woolard ook in die Davis-belastingkomitee gedien.
- Om 'n video van die intreerede te sien, kliek hier.
- Foto deur Anton Jordaan: V.l.n.r. is prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel; prof Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; en prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch.