Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student wil meer jongmense in politiek sien
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 07/08/2019

Die voormalige staatspresident van Suid-Afrika, wyle Nelson Mandela, het een keer gesê: “Die jeug van vandag is die leiers van môre." Vir 'n student van die Universiteit Stellenbosch (US), Emily O'Ryan, is dit die waarheid.

O'Ryan, 'n honneursstudent in Politieke Wetenskap, meen dat indien die jeug van vandag môre se leiers wil word, hulle meer geleenthede moet kry om in die politiek betrokke te raak en moet hulle selfs hul eie platform in die vorm van 'n jeugparlement kry.

Sy het onlangs die eerste prys in 'n rubriekswedstryd op die aanlyn nuusagentskap Netwerk24 losgeskryf met haar breedvoerige beskrywing van hierdie idee. Haar meningsartikel was getiteld “Give us a youth parlement".

Die wedstryd is gesamentlik deur die US se Transformasiekantoor en Netwerk24 aangebied as deel van 'n Jeugmaand-inisiatief vir Suid-Afrikaanse studente.

O'Ryan het in Junie vanjaar die Wes-Kaapse provinsiale parlement saam met 'n groep van 56 hoërskoolleerders besoek as deel van die Rotariërs se “Adventures into Citizenship"*-program. Die groep se gasvrou en adjunkspeaker van die Wes-Kaapse parlement, Beverley Schaefer, het hulle belowe dat haar kantoor die jeug se droom van 'n jeugparlement gaan bewaarheid.

Hierdie belofte het 'n snaar by O'Ryan aangeraak en sy glo dat Schaefer se kantoor verantwoordbaar gehou moet word vir hierdie belofte.

“Die oproep tot 'n jeugparlement was 'n bevestiging van die bydrae wat jongmense kan lewer om die land te help verander. Ek het al so baie jongmense sien moeg word. Ek dink nie ons jongmense kry genoeg onafhanklikheid nie. Baie besluite word geneem met ons as jongmense wat die gevolge moet dra. As hulle ons meer gee om te doen, sal diegene wat aan bewind is, sien dat ons inderdaad in staat is om dit te doen," sê O'Ryan.

Sy glo ook dat om bewus te wees van jou omgewing, om deel te neem aan geleenthede om die status quo te verander en 'n verskil te maak behoort deel te wees van studentelewe regoor die land, eerder as om net dieselfde tradisionele patroon te volg waarvolgens jy 'n stuk papier ontvang wat sê dat jy nou gekwalifiseerd is en ʼn gegradueerde het.

Sy glo ook die manier hoe kinders grootgemaak word en die manier waarop ons skoolstelsel ons jeug leer om net dít wat rondom hulle is, in te neem en te aanvaar as die waarheid, is problematies op die lange duur.

“Die meeste studente kom Stellenbosch toe om klasse by te woon, toetse te skryf, tussen hierdie vier mure te sit en dan gaan hulle weg nadat hulle 'n stuk papier ontvang het wat sê hulle het graad gevang. Om die groot kwessies in Suid-Afrika te probeer oplos, is nie altyd die enigste manier waarop jy 'n verskil kan maak nie. Indien meer studente by hul instellings en die gemeenskappe waarin hulle is, begin, neem hulle klein treetjies om te help om uiteindelik die groter kwessies wat ons jeug raak, te verander."

O'Ryan het in die Kaapstadse woonbuurt Crawford saam met twee broers wat amper 14 jaar ouer as sy is, grootgeword en hulle het haar altyd as hul gelyke behandel, sê sy. Haar broers se voortdurende betrokkenheid het reeds van jongs af haar passie vir die politiek en haar belangstelling in maatskaplike kwessies gekweek en beïnvloed.

“Ek dink baie jongmense voel hulle word wesenlik ondermyn wanneer hulle ander nader oor die kwessies waardeur hulle gaan en ek dink dit is hoekom 'n jeugparlement so belangrik is."

O'Ryan sê sy het nie aanvanklik gedink dat sy die Netwerk24-wedstryd sal wen nie, omdat die meeste artikels wat sy vir haar honneursprogram en ander US- en eksterne mediavennote skryf, geneig is om baie ernstig en vol argumente te wees.

Sy het altyd 'n sin vir geregtigheid en om ander te help gehad terwyl sy op hoërskool was. Sy het egter nooit gedink sy sou Politieke Wetenskap gaan studeer nie en het altyd gedink sy gaan eerder iets in die sakesektor of openbare skakelwese doen.

O'Ryan se onbewuste passie vir geregtigheid en die politiek het haar weg na die US gebaan, eerder as om 'n kursus in Besigheidstudie aan die Universiteit van Kaapstad – waar sy ook aanvaar is – te volg.

Sy beplan om ná afloop van haar honneursstudies nog te reis en in staatsbestuur in die Wes-Kaap te werk.

“Ons onderwysstelsel en werkloosheidsyfer beleef 'n krisis. Daar is soveel geleenthede om 'n verskil in Suid-Afrika te maak en ek hoop om deel daarvan te wees."

Lees gerus O'Ryan se wenartikel hier:

https://www.netwerk24.com/Stemme/Die-Student/give-us-a-youth-parliament-20190711

__________________________________________________________________________________

More on the Rotary Adventures into Citizenship Programme:

*Rotary International is 'n internasionale diensorganisasie wie se doelwit dit is om sakelui en professionele leiers byeen te bring om sodoende humanitêre dienste te lewer en welwillendheid en vrede regoor die wêreld te bevorder. As deel van hul werksaamhede, het hulle die Rotary “Adventures into Citizenship"-program geïnisieer wat op graad 11- en 12-leerders gemik is wat goeie leierskappotensiaal in hul onderskeie Interact-klubs en skole getoon het. Die program bevorder die burgerlike loopbane wat leiers ná skool kan volg. Gedurende die eerste week van die wintervakansie kom sowat 50 jeugleiers van regoor die land in Kaapstad byeen om samesyn en ontwikkeling te deel. Die groep leerders besoek ook al Kaapstad se vernaamste instellings wat belangrik is vir die sukses van stede en dorpe. Hulle besoek die parlement, die hooggeregshof en die burgersentrum waar hulle leer hoe wette gemaak en gehandhaaf word en hoe 'n stad funksioneer om veelvoudige dienste aan 'n uiteenlopende en wydverspreide gemeenskap te lewer.