Die Winterskool van
die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch is onlangs vir die agtste keer
aangebied. Die Winterskool is ‘n inisiatief van die fakulteit, Communitas,
Ekklesia en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, wat fokus op
dialoog oor hedendaagse kwessies wat gemeenskappe en veral gemeentes raak. Dit bied
ook ‘n ruimte vir verdere teologiese opleiding van geestelike leiers, asoook
die bemagtiging van gemeentelede.
Prof Anita Cloete,
koördineerder van die Winterskool, vertel: “Hierdie jaar het ons reflekteer op
25 jaar van demokrasie in gesprek met religie. Die hoofsprekers het die tema vanuit
verskilende perspektiewe belig en veral die publieke rol van die kerk
beklemtoon. Op die eerste dag het Prof
Nadine Bowers-du Toit gefokus op identiteitspolitiek en hoe dit enersyds
polarisasie bevorder, en andersyds dikwels verweef is met religie. Dr Pali
Lehohla, voormalige Statistiek-generaal, het op dag twee die verhaal van
demokrasie geskets met die hulp van statistieke oor Suid-Afrika. Prof Allan
Boesak het die Winterskool afgesluit met die klem op die sentrale plek wat
geloof gespeel het in die stryd teen apartheid, asook die noodsaaklikheid
daarvan vir die toekoms van demokrasie. “ Klik op die skakel vir 'n kopie van sy voordrag. ProfAllanBoesak.pdf
“Die oggend- en
middag paralelle sessies het grootliks by die hooftema aangesluit. Die
Winterskool was soos in die verlede, baie goed bygewoon met meer as 200
deelnemers. Een van die groot winspunte van die Winterskool is dat dit mense
bymekaar bring vanuit verskillende denominasies, kulture en generasies. Hierdie diversiteit verleen ook diepte aan
ons saamwees en gesprekke omdat ons oor grense van mekaar kan leer. Elke dag het begin met ‘n saam stilword
rondom die Woord voordat die onderskeie sessies begin het – met die terugvoer
het deelnemers dit deurgans as een van die mees gewaardeerde oomblikke van die
Winterskool beskryf. “
“Ons hoop dat hierdie
insiatief sal bly voortleef as ‘n manier om hoop te kommunikeer aan ons gemeentes
en gemeenskappe. “
Die datums van die
2020 Winterskool sal binnekort aangekondig word.