Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke bekend
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/07/2019

 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke is Maandag (29 Julie 2019) amptelik by 'n funksie by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) bekendgestel. Die nuut-gestigte Skool, wat daarop gemik is om 'n instelling van wêreldgehalte vir datawetenskap en rekenaardenke in en vir Afrika te wees, sal regoor al tien van die US se fakulteite werksaam wees met multi-, inter- en trans-dissiplinêre samewerking. Dit sal ook die hele akademiese projek dek – van voor- en nagraadse opleiding tot navorsing en spesialiskonsultasiewerk.

 


 

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het by die beke​nstelling die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke as 'n spelbreker in die hoër onderwys hier in Suid-Afrika en ook verder beskryf. 

“Die Universiteit Stellenbosch is deur middel van ons nuwe Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke gereed om Suid-Afrika se mededingendheid in die Vierde Industriële Revolusie te versterk.

“Die Skool verskaf 'n enkele platform om kennis samewerkend op 'n interdissiplinêre manier in diens van die samelewing te bevorder."

De Villiers het gesê die wêreld is vinnig aan die verander, veral ten opsigte van die insameling, deel en benutting van data en die nuwe Skool is die US se belang in die toekoms wat besig is om te ontvou.

Hy het bygevoeg dat die nuwe Skool 'n tasbare uitdrukking is van die US se nuwe Visie 2040 en Strategiese Raamwerk in terme waarvan die instelling daarna streef om relevant te wees vir die mense van Suid-Afrika, die vasteland en die res van die wêreld, en om betekenisvolle bydraes van die hoogste gehalte tot die mensdom se vooruitgang te maak.

In aansluiting by De Villiers, het Dr Wim Delva, waarnemende direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, gesê die entiteit sal mense op regeringsvlak, in die sakesektor en van nie-winsgewende organisasies bymekaar bring in hul pogings om groot data te gebruik om die uitdagings wat Suid-Afrika as 'n land in die gesig staar, aan te spreek.

Afgesien van aanlyn-kursusse wat toekomsbestand is, sal die Skool ook 'n padkaart aan voornemende studente verskaf oor wat hulle alles op die gebied van datawetenskap kan studeer, het Delva bygevoeg.

Hy het die verskeie rolspelers uit die samelewing genooi om vennootskappe met die Skool te sluit, en gesê ons moet saamwerk om groot data tot voordeel van alle Suid-Afrikaners aan te wend.

Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande, het in 'n videoboodskap die bekendstelling as 'n transformerende en geskiedkundige gebeurtenis vir die US en hoër onderwys in Suid-Afrika beskryf. Hy het gesê die regering is veral verheug oor die feit dat die Skool afstands- en aanlyn-onderrig sal aanbied en sal help om studente voor te berei op 'n ongewone en vinnig-veranderende werksomgewing.

“Ons taak as regering en universiteite is om ons jeug en volwassenes voor te berei vir die vaardighede van die toekoms, wat onder meer robotika, kunsmatige intelligensie, die internet van dinge, outonome voertuie en 3D-drukwerk insluit."

“Die nuwe werksplek gaan 'n plek wees waar die ontdekking van nuttige inligting in data 'n integrale deel sal word van dít wat die meeste studente in die toekoms sal doen," het Nzimande bygevoeg.

  • Kliek hier vir die Rektor se toespraak.
  • Kliek hier vir die Rektor se meningsartikel oor groot data as 'n spelbreker in die hoër onderwys.
  • Kliek hier vir dr Wilm Delva se artikel oor datawetenskap in Afrika. ​

Foto: Dr Wim Delva, waarnemende direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaarkunde, aan die woord by die bekendstellingsgeleentheid. Fotograaf: Stefan Els