Die eerste wynproe-geleentheid van Kroatiese wyne in Suid-Afrika is verlede week by die Universiteit Stellenbosch se Departement Wingerd- en Wynkunde gehou. Die aand was die breinkind van Matija Lesković (27), 'n Kroatiese student wat sedert middel-2018 met sy doktorsgraad in wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch besig is.
Kroatiese wyne is geproe, terwyl Lesković ook 'n oorsig gegee het oor sy moederland en die druifvariëteite waarmee geboer word. Die Republiek van Kroasië lê in Sentraal-Europa, en word begrens deur lande soos Slowenië, Hongarye en Serwië.
"Soos in baie Europese lande, het Kroasië baie inheemse druifvariëteite - meer as 120 van hulle! Ongeveer 40 kultivars word gereeld in wingerde in twee groot streke geplant, "het hy aan die gehoor verduidelik.
Volgens Lesković het die idee vir die wynproe ontstaan na aanleiding van talle gesprekke wat hy die afgelope jaar met Suid-Afrikaners gehad het oor sy moederland, en watter skilderagtige toerismebestemming dit is. Wanneer mense hoor dat hy besig was om op Stellenbosch aspekte rondom witwyne te bestudeer as deel van sy doktorsgraad, is hy dan noodwendig uitgevra oor wynproduksie in Kroasië.
"Mense wil altyd weet watter wyne in Kroasië geproduseer word, en of ek enigsins bottels daarvan het om te kan proe," lag Lesković, wat aan die Universiteit van Zagreb in Kroasië se hoofstad gestudeer het, en 'n werksgeleentheid by wêreld se derde grootste wynmakery, Concha y Toro in Chili, op sy CV lys.
Dit het uiteindelik aanleiding gegee tot die Wyne van Kroasië-aand wat hy gereël het. Die teenwoordiges het Pošip en Teran aangewys as hul gunsteling wit en rooi wyne. Pošip word op die suidelike Kroatiese kus gemaak en beïndruk met sy komplekse, vars aromas van steenvrugte en grenadella en varsheid op die palet. Teran kom van die noordkus, en verras met sy volrondheid, goeie tannienvlakke, diep persrooi kleur, hoë asiditeit en donker kersie-aromas.
"Albei wyne word in 'n Mediterreense klimaat soortgelyk aan dié van die Wes-Kaap verbou," het Lesković gesê. "Hierdie druiwevariëteite het oor die eeue bestand teen droogte en hoë temperature geword, en word dikwels op rotsagtige gebiede sonder veel beskutting langs die Kroatiese kus verbou."
Volgens Lesković het dit talle wynmakers teenwoordig aan die dink laat sit oor die moontlikheid om Teran in Suid-Afrika te verbou, en te gebruik as 'n rooiwynversnit weens die druif se geneigdheid tot hoë asiditeit (tot 10 g / L) selfs in warmer gebiede.
Meer oor Kroatiese wyne:
• Kroasië word deur hoë berge in twee hoof-wynproduserende streke verdeel.
• Die Kroatiese binneland geniet 'n koeler kontinentale klimaat, en wit variëteite word hoofsaaklik verbou.
• Die pragtige kusgebied ervaar 'n Mediterreense klimaat en is meer geskik vir rooi druifvariëteite.
• Onder die gewildste wyne is Graševina, Malvazija istarska, Pošip, Malvasija dubrovačka, Teran, Babić en Plavac mali.
• Zinfandel is die bekendste wyn wat aan die kus geproduseer word. Dit is baie gewild in Kalifornië.
• 'n Variasie van Zinfandel, genaamd Plavac mali ("Klein blou") word in Kroasië gedrink. Plavac mali is meer bestand teen swamsiektes.
Inligting oor Matija Lesković se navorsingsprojek oor wit wyne:
• Lesković is besig met sy PhD-navorsing onder leiding van prof Wessel du Toit en dr Jeanne Brand van die Departement Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch.
• Sy projek is getiteld "“Varietal thiol aromas and reductive compounds in white wines".
• Dit word deur Winetech geborg.
• Die projek behels 'n kombinasie van werk met wyne, chemiese aspekte en mense.
• Lesković en sensoriese wynkenner dr. Jeanne Brandt, is besig om 'n wynpaneel te leer hoe om spesifieke aromas in witwyn te herken. Dit sluit in swaelverbindings wat natuurlik in wyn voorkom. Vlugtige tiole is organiese verbindings wat tropiese, vrugtige aromas aan 'n wyn gee. Reduktiewe swawelverbindings ruik op hul beurt soos vrot eier en kool, en is gewoonlik 'n teken van ondergemiddelde wynmaakpraktyke.
- Foto: Matija Lesković, 'n PhD-student in Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, met enkele van die Kroatiese wyne wat geproe kon word. Foto: Marcel Kok
Slegs vir media-navrae (moet asb nie versprei nie):
Matija Lesković
PhD-student in Wynkunde
Universiteit Stellenbosch
0767026679
matija@sun.ac.za
_________________________________________________________________________
Vrygestel deur: Engela Duvenage, namens die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch
engeladuvenage@gmail.com