Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA se nederige suring: heldin van die Kaapse Blommeryk
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 23/07/2019

Suid-Afrika se nederige suring het oor die afgelope 15 miljoen jaar 'n arsenaal van die mees unieke en ekstreme voortplantingstrategieë in die Kaapse Blommeryk ontwikkel.

Maar die einste strategieë wat hierdie delikate klein plantjies in staat gestel het om in die mees onherbergsame plekke denkbaar te groei – dink aan die Richtersveld, Knersvlakte, Oorlogskloof en in Gifberg – kan nou tot hul nadeel strek as hul nie blitsig by die vinnig veranderende klimaatstoestande kan aanpas nie.

In 'n studie wat onlangs in die American Journal of Botany gepubliseer is, beskryf dr. Michelle Jooste van die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) 'n kontinuum van ontkiemingsstrategieë vir 64 Oxalis-spesies: dit strek van ontkieming binne die bestek van 24 uur (weerspannige sade); tot by sade wat vir jare dormant lê en wag vir die ideale omgewingstoestande voordat hul ontkiem (ortodokse sade).

Prof Léanne Dreyer, mede-outeur en 'n kenner van Suid-Afrikaanse Oxalis, sê die suring se ontkiemingstrategieë is plein vreemdsoortig, ekstreem en uniek in die Kaapse Blommeryk.

Oxalis (oorspronklik afkomstig uit Suid-Amerika) moes ter plaatse aanpas by 'n Mediterreense tipe klimaat waar dit aan lang, warm en droë somers onderwerp is wat afgewissel is met baie voorspelbare nat, winterreënseisoene: “Aangesien dit hierdie twee uiterstes, wat stabiel gebly het vir die afgelope 15 miljoen jaar, moes hanteer, het dit Oxalis in staat gestel om ontkiemingstrategieë tot 'n volgende vlak te neem," verduidelik sy.

Wat selfs meer uniek is, is die voorkoms van omgekeerde ontkieming by sommige Oxalis-spesies: die kiemblare en die eerste blaar ontwikkel en hou aan met groei nog vóórdat die kiemwortel en haarwortels vervolgens te voorskyn kom.

“Dit is 'n merkwaardige verskynsel," sê Dreyer, “en dit gebeur teen die spoed van lig, aangesien die plant genoeg tyd moet hê en genoeg middelle in 'n enkele groeiseisoen moet opbou ten einde ook 'n bol te vorm wat dit in staat stel om ondergronds te oorleef gedurende die warm en droë somermaande."

Oxalis germination_Facebook.png
Maar nog steeds is dit het einde niet. Die navorsers het opgemerk dat sommige van die weerspannige spesies 'n dik gomagtige stof (slymgom) tydens die ontkiemingsproses produseer. Hulle ondersoek nou die teenwoordigheid van bakterieë in die slymgom. Die bakterieë blyk in 'n simbiotiese verhouding met hierdie sade te wees. Simbiose is die wisselwerking wat heers wanneer twee of meer organismes in 'n noue wedersyds voordelige verhouding met mekaar leef.

Die toppunt van eksentrisiteit is egter daardie Oxalis-spesies waarvan die sade die vermoë het om óf vinnig te ontkiem óf dormant te wag, sogenaamde intermediêre sade: “Hierdie sade het die voordeel van onmiddellike ontkieming indien die omgewingstoestande gunstig is, maar kan ook ontkieming uitstel tótdat omgewingstoestande gunstig is," verduidelik Dreyer.

Hierdie tipe sade is egter uiters skaars. Dit kom voor by slegs 19% van die 64 Oxalis spesies wat bestudeer is. Die intermediêre en weerspannige spesies (56%) kom hoofsaaklik in die Kaapse winterreënvalgebied voor, terwyl die ortodokse spesies (24%) in die somer- én winterreënvalgebiede voorkom.

Volgens Dreyer word die ortodokse strategie beskou as die oerstatus onder Oxalis-spesies. Die groot vraag is nou of Oxalis nog 'n bykomende oorlewingstrategie in die arsenaal het ten einde die droër toestande, sowel as die minder voorspelbare winterreënval in die Kaapse Blommeryk te oorleef, soos wat toekomstige klimaatsveranderingsmodelle voorspel.

Indien die Oxalis nie met nog 'n oorlewingstrategie vorendag kan kom nie, is die verlies van meer as 50% van Kaapse Oxalis-spesies dalk ons voorland – 'n verlies van meer as 115 spesies!

Op die foto bo, 'n dagoud saailing van Oxalis gracilis met die eerste blaar wat tussen die saadlobbe begin ontwikkel, gebed in 'n gomagtige stof. Daar is duidelik nog geen sprake van 'n wortelstelsel nie. Foto: Léanne Dreyer

Medianavrae

Prof Léanne Dreyer

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

Tel: +27 _21 808 3070

E-pos: ld@sun.ac.za