Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Fasiliteitsbestuur toon 67 minute van welwillendheid in Idasvallei
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/07/2019

Vir Mandeladag op 18 Julie, die internasionale dag ter ere van die wyle staatshoof Nelson Mandela, het die Afdeling Fasiliteitsbestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) Donderdag saam met verskeie van sy diensverskaffers die reën getrotseer om hand by te sit by die Kindersorgsentrum in Idasvallei, Stellenbosch.

Ten minste 100 vrywilligers het saamgewerk om krake in die mure en lekplekke in die dak van die sentrum te herstel, en het ook klere, speelgoed en niebederfbare kositems aan dié 100 jaar oue organisasie geskenk. Hiermee is 'n hele week se werk by die sentrum afgesluit.

Personeellede van Fasiliteitsbestuur en hul diensverskaffers het onder meer die bestaande parkeerterrein, plaveisel en ablusiegeriewe opgeknap; bome gesnoei; instandhoudingswerk aan die besproeiingstelsel en tuinuitleg gedoen; plafonne geverf; 'n suigwaaier in die kombuis geïnstalleer; 'n nuwe oprit vervaardig en geïnstalleer om mense met gestremdhede toegang tot die saal te gee; alle ligte met LED-ligtoebehore vervang; en die alarmstelsel hersien.

Volgens Nicolette van den Eijkel, die organiseerder van die Mandeladag-uitreikaksie en Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur, is werk ter waarde van ten minste R500 000 gedoen. Van Eijkel het gesê die span het beoog om ál die instandhoudingstake te voltooi en hulle waardering te toon vir die werk van die Kindersorgsentrumpersoneel. “Vandag gaan daaroor om onbaatsugtig te gee en 'n gevoel van hoop en geluk te skep vir iemand anders wat minder bevoorreg is. Met hierdie inisiatief wil ons die gees van ubuntu handhaaf en versterk met die oog daarop om dié gees nog lank ná Mandeladag uit te leef," het sy gesê.

Sy het spesiale erkenning aan die Universiteit se diensverskaffers gegee en gesê die reusetaak wat by die sentrum verrig is, sou nie moontlik gewees het sonder hul hulp nie, en dat hulle glad nie gehuiwer het om hul dienste en kundigheid aan te bied nie.

Daarbenewens glo Van den Eijkel dat Fasiliteitsbestuur se deelname aan inisiatiewe soos Mandeladag die US se Visie 2040 ondersteun deur by te dra tot 'n “organisatoriese kultuur wat op gemeenskaplike waardes gebou is" en 'n “allesomvattende impak het". “Onbaatsugtige inisiatiewe soos dié een versinnebeeld die kenmerke en waardes waarvoor die US staan, wat vir ons as Fasiliteitsbestuur baie belangrik is," het Van den Eijkel bygevoeg.

Bettie Nieuwoudt, die bestuurder van Kindersorg Suid-Afrika: Stellenbosch, het haar dankbaarheid teenoor die US, sy Afdeling Fasiliteitsbestuur en die diensverskaffers uitgespreek vir hulle hulp op Mandeladag. “Ons is dankbaar dat die Universiteit vandag hulle tyd afgestaan het om ons met instandhoudingswerk te kom help. Dit toon dat die US, nes ons, ook werklik deel is van die gemeenskap," het sy gesê.

Nieuwoudt hoop inisiatiewe soos Mandeladag sal mense meer bewus maak van die lot van diegene wat minder bevoorreg is as hulle. “Ondanks ons beperkte hulpbronne, word die sentrum reeds die afgelope 100 jaar bedryf met 'n personeelkorps van 20 maatskaplike werkers, vyf toesighouers en vyf administratiewe personeel. Dis jammer dat soveel mense steeds onbewus is van ons organisasie en van die realiteite van ander in die omgewing. Ons hoop dít sal verander en dat nog méér mense hulle hulp sal aanbied vir diegene in die Stellenbosch-omgewing wat nood ervaar."

Hoewel van die US se Mandeladagaktiwiteite in die week van 15 Julie 'n aanvang geneem het, sal die meeste vanaf 22 Julie plaasvind. Die US beoog om hom vanjaar opnuut tot doelgerigte vennootskappe te verbind en die belang van volhoubare ontwikkelingsgerigte verhoudings te beklemtoon. ​

Klik hier vir verdere inligting oor al die Universiteit se Mandeladagaktiwiteite én om uit te vind hoe jy betrokke kan raak.

Vir meer inligting oor Kindersorg, gaan na http://www.childwelfarestellenbosch.co.za/.