Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-kandidaat wen prestigeryke SA Historiese Vereniging-prys
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/07/2019

​Bryan Umaru Kauma, 'n PhD-kandidaat in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, het die prestigeryke Nagraadse Opstelprys van die Southern African Historical Society (SAHS) verower by die vereniging se onlangse tweejaarlikse konferensie aan die Rhodes Universiteit. 

Kauma ontvang die streek-toekenning vir sy referaat getitel “Small grains, small gains: African peasant small grains production and marketing in Zimbabwe during the colonial period, c.1890-1980". Die referaat fokus op die 'opgang' en 'verval' van die Afrika-kleinboer, en ondersoek die komplekse en veranderende geskiedenis van hierdie kleinboere as produsente van kleingraan, sorghum, rapoko en giers (millet).

Hy voltooi tans sy PhD deur die Nagraadse Skool vir Lettere en Sosiale Wetenskappe in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Kauma is ook die ontvanger van die Lisa Maskell Genootskap wat geborg word deur die Gerda Henkel Stigting, en wat geadministreer word deur die Nagraadse Skool.

Volgens Kauma het Afrika-produsente, voor 1890, die graan-produksie en -handel gedomineer. Met die koms van kolonialisme, aangevuur deur wetgewing soos die Dieet-ordonnansie en die Wet op Mielie-beheer van 1908 en 1930 onderskeidelik, is perifere Afrika-kleinboere se kleingraan-produksie uit die mark gedruk en vervang met kontantgewasse soos mielies.

“Met tyd het hierdie inisiatiewe kritiese instrumente geword in die onderontwikkeling van die Afrika-kleinboer," verduidelik Kauma. 

“My referaat toon egter dat Afrika-kleinboere nie net passiewe slagoffers was nie, maar dat hulle koloniale pogings om 'n wit kommersiële monopolie in die graan-markte te vestig, weerstaan het. Dit toon hoe Afrika-kleinboere tydens veranderende ekonomiese, omgewings- en politieke periodes die voortgesette oorlewing van kleinboer-gemeenskappe verseker het deur die basis van landbou-ontwikkeling te onderhou."

Kauma se studieleier, prof Sandra Swart van die Departement Geskiedenis, sê dat die 27stekonferensie van die Suidelike Afrika Historiese Vereniging “'n opwindende reeks besprekings deur ontluikende en ervare historici van oor die wêreld" gebied het.

“Sy referaat bevorder die gesprek rondom veerkragtigheid en die deursettingsvermoë van kleinboere wat die wisselvalligheid van Afrika se veranderende klimaat (sowel omgewing-gewys as polities) in die gesig gestaar het. Bryan het meegeding met 'n paar uitstekende nagraadse studente uit suidelike Afrika en het sterk opposisie gehad," sê Swart.

“Boonop is hy so pas genooi om dieselfde referaat te lewer by die jaarlikse konferensie van die African Economic History Network-netwerk in Barcelona, Spanje, in Oktober. Hierdie volledig-befondste besoek sal Bryan in verbinding stel met gesoute akademici van oor die wêreld wat fokus op die ekonomiese en sosiale geskiedenis van Afrika."

Kauma het gesê dat hy opgewonde is om hierdie prestigeryke prys los te slaan.

“Dit was toe nie 'n 'small gain' van hierdie klein-graan nie. Dit is regtig gerusstellend en inspirerend wanneer 'n mens se werk hierdie erkenning ontvang van 'n toonaangewende vereniging soos SAHS. Ek word aangemoedig om voort te gaan om hard te werk totdat hierdie graan “groot" is! Ek moet egter nie in my blydskap nalaat om my opregte waardering uit te spreek aan ons navorsing-,groep “History Friday Morning Dragons" en my studieleier, prof Swart, sonder wie se ondersteuning en toewyding niks hiervan moontlik sou gewees het nie – en vir my beurs van die Nagraadse Skool. “Ons het dit reggekry, ouens," het 'n opgewonde Kauma gesê.  

Foto: 'n Baie trotse prof Sandra Swart met Bryan Umaru Kauma, 'n PhD-kandidaat in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, wat die prestigeryke Nagraadse Opstelprys van die Suidelike Afrikaanse Historiese Vereniging onlangs gewen het. (Verskaf)