Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Soveel boeke en so min tyd
Outeur: Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 19/07/2019

Ons almal het 'n boek of twee op die rak wat ons nooit gelees het nie, of baie lanklaas gelees het. Hierdie vergete boeke kan nou 'n nuwe tuiste vind met die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se Boek Tsunami.

Ter viering van Wêreld Geletterdheidsdag, en om die die belangrikheid van lees te uit te lig, beoog die Taalsentrum om die Neelsie Studentesentrum op die Stellenbosch kampus op Vrydag 6 September in een groot deurloop biblioteek te omskep.  Dié boeke is gratis beskikbaar vir enige iemand om huis toe te neem solank jy dit weer vir iemand anders gee. Dit is 'n soort van “pay it forward" manier om mense bewus van lees te maak.

Wêreld Geletterdheidsdag word jaarliks op 8 September gedenk nadat die  Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies (UNESCO) se Algemene Konferensie hierdie dag tot Wêreld Geletterdheidsdag verklaar het. Die doel is om die belangrikheid van geletterdheid aan individue, gemeenskappe en samelewings uit te lig.

Vernita Beukes, Taalsentrum koordineerder, sê dat vanjaar die derde agtereenvolgende jaar is dat die projek aangebied word.

 “Die vorige twee was baie suksesvol en ons het baie goeie terugvoer gekry. Enige boeke wat oorbly hou ons vir die volgende jaar om te verseker dat die projek volhoubaar is."

Die Taalsentrum doen 'n beroep op personeel, die publiek en studente om boeke vir die projek te skenk. Enige boeke, enige taal. 'n Boek is 'n boek en iemand sal 'n tuiste daarvoor hê. Boeke kan by Bosmanstraat 7 in Stellenbosch afgelaai word.