Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US beste met fondswerwing, sê opname
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 18/07/2019

Die Universiteit Stellenbosch (SU) het die hoogste vlak van skenker- en toekenningsinkomste behaal van ál 11 hoëronderwysinstellings wat in 2018 aan die jaarlikse opname oor hoëronderwysfilantropie (ASPIHE) deelgeneem het. 

Volgens die jongste opnameresultate het die US in 2017 bykans R94 miljoen meer as in 2016 ingesamel. Die Universiteit het ongeveer R100 miljoen meer as die instelling in die tweede plek ontvang, was die toppresteerder in die finansieringstrome vir individuele, erflating- en goedereskenkings, en het meer organisatoriese skenkers as enige ander deelnemende instelling gehad.

ASPIHE bied jaarliks vergelykende data oor die stand van filantropiese steun vir universiteite in Suid-Afrika. Elf van Suid-Afrika se 26 universiteite het in 2018 op 'n naamlose grondslag deelgeneem, hoewel elke deelnemende instelling 'n vertroulike verslag oor hulle prestasie ontvang het.

Die opname konsentreer op die optekening en ontleding van die filantropiese en toekenningsinkomste van Suid-Afrikaanse universiteite. Finansiering deur sektorale onderwys- en opleidingsowerhede word afsonderlik aangeteken. Die opname ondersoek ook die direkte koste verbonde aan die werwing van hierdie tipe inkomste, waaronder personeelkoste en die bedryfsbesteding van die instellings se afdelings fondswerwing en alumnibetrekkinge.

“Ek is dankbaar dat ons fondswerwingswerk positiewe resultate oplewer," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB) by die US. Volgens Bruns is dit baie belangrik dat die US hom voortdurend met ander in die sektor vergelyk om relevansie en prestasie te bepaal, en “hierdie opname toon dat die US op bedryfsvlak die beste vaar met fondswerwing in Suid-Afrika".

Maar hoewel die US uiters goed gevaar het, sê Bruns, is daar steeds gebiede wat voortaan ekstra aandag sal verg. “Ons skenkergetalle het deur die bank effens toegeneem, maar die alumnideelnamekoers (skenkergetalle) het van 0,42% tot 0,36% gedaal. Die resultate toon ook 'n marginale verswakking in ons Afdeling se opbrengs op belegging wat betref koste per rand gewerf – van 5c tot 6c. Nogtans is ons steeds ver binne die perke van beste praktyk, en is dit myns insiens 'n uitstekende koste-tot-inkomste-verhouding vir ons Afdeling," voeg sy by.

“Kom ons wees eerlik: Die ekonomiese klimaat in Suid-Afrika – én buitelands – maak fondswerwing moeilik, maar ons beskou dit as 'n aansporing om ons standaarde te lig om steeds volhoubare en toenemende filantropiese inkomste in te bring."

Sy sê die OAB berei tans voor om inkomste verder te verhoog, selfs in die ergste eksterne omstandighede. “Ons sal ons saak vir steun verder versterk, die organisatoriese 'silo's' in ons instelling verder afbreek, 'n positiewe werksverhouding met ons interne belanghebbendes bou omdat fondswerwing sowel voortdurende belegging as voortdurende sorg vereis, en moeite doen om skenkervertroue uit te brei.

“Dit is opwindend en 'n groot voorreg om die toekoms van die US op dié manier te help vorm en bou."