Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US neem afskeid van 'n passievolle wingerdboukundige
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/07/2019
Die Departement Wingerd - en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) betreur die afsterwe van prof Piet Goussard, 'n steunpilaar van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Prof Goussard is Maandagoggend by sy huis in Stellenbosch oorlede. Hy was bekend vir die passie waarmee hy wingerdboukunde onderrig het, en vir sy betrokkenheid by ampelografie, die identifikasie en klassifikasie van wingerdstokke. Hy het in 2010 afgetree, maar was tot 2018 steeds betrokke by die Departement Wingerd- en Wynkunde se werksaamhede. Gedurende sy loopbaan was hy vir 14 jaar voorsitter daarvan.

Prof Goussard is in Prieska gebore, en het daarna in Agter-Paarl grootgeword en in 1963 aan Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer. Sy loopbaan as wingerdkunde-dosent het in 1971 aan die Universiteit Stellenbosch begin, nadat hy ook aan dié instelling studeer het. Hy het in 1984 sy doktorsgraad verwerf.

Deur die loop van sy akademiese loopbaan het hy meer as 100 artikels in vaktydskrifte en in die media gepubliseer. Hy het verskeie toekennings ontvang, waaronder die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (SAWWV) se merietemedalje in 2001, asook die 1659-erepenning by Groot Constantia in 2019.

Hy het as navorser belangrike werk gedoen om te verseker dat plaaslike wingerdkwekerye virusvrye plantmateriaal kweek danksy die gebruik van in vitro metodes. Dit het 'n geweldige positiewe impak op die Suid-Afrikaanse wynindustrie gehad.

Prof Goussard was 'n beskeie persoon met 'n ware passie vir fotografie. Hy het gedurende sy leeftyd 'n versameling foto's opgebou wat abiotiese sowel as biotiese stressors uitbeeld wat 'n impak op Suid-Afrikaanse wingerde het.

Hierdie foto's het sy boeke geïllustreer. Die tekste omvat onder meer die druifkultivars wat in Suid-Afrika geplant word, die groeisiklus van 'n wingerdstok, en afwykings, siektes en plae wat in plaaslike wingerde aangetref word. Van sy pragtige foto's is te sien in die Paul van der Byl-gebou op die kampus van die Universiteit Stellenbosch.

Prof Goussard laat sy vrou, Laetitia, drie kinders en een kleinseun agter. Die Departement Wingerd- en Wynkunde het met familie en vriende gesimpatiseer.

​