Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Indië ’n goeie leergeleentheid vir Stewart en Freddy
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 15/07/2019

Maties Hokkie se manskaptein Alex Stewart en afrigter Ashlin Freddy het Suid-Afrika verteenwoordig as lede van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan wat onlangs in die finaal van die Wêreldhokkiereeks in Indië gespeel het.

“Dit was 'n ongelooflike ervaring om in my eerste groot toernooi vir my land te speel," sê Stewart.

“Ek was baie opgewonde toe ek vir die span gekies is. Dit was 'n ongelooflike ervaring om Indië toe te gaan en te bewys dat ons die finaal van groot toernooie kan haal. Dit was beslis 'n goeie uitslag vir SA Hokkie.

“Op 'n persoonlike vlak was dit spesiaal om deel te kon wees van só 'n belangrike toernooi. Ek het dit baie geniet om in die uitdagende omstandighede te speel. En ons spangees was baie goed."

Freddy was deel van die afrigtingspan.

“Ek was daar as afrigter en video-analis. Ek het gehelp by die oefensessies en het die wedstryde opgeneem en geanaliseer," sê Freddy.

“Indië was 'n goeie leergeleentheid vir my as afrigter en analis. Dit was 'n ongelooflike ervaring om saam met van die beste hokkiebreine en -talent in ons land te werk. Dit het ook vir my perspektief gegee oor waar ons (Maties Hokkie se) program is in terme van die res van die land en dit was lekker om dit met die res van die hokkiewêreld te vergelyk. Dit was ook baie waardevol om tyd saam met ander analiste te spandeer, goeie gesprekke te hê en by hulle te kon leer. Hierdie ouens doen dit al vir jare en het al saam met van die beste internasionale afrigters gewerk. Hulle was altyd bereid om hul kennis en ervarings te deel, wat van onskatbare waarde vir my was."

Stewart sal in Augustus weer die groen en goud dra nadat hy vir die SA span gekies is wat aan die Afrika-hokkiekampioenskap sal deelneem. Dit word in Stellenbosch aangebied. Sy Maties-spanmaat Andrew Hobson is ook vir hierdie span gekies.

Die Afrika-kampioenskap vir mans en vroue vind van 12-18 Augustus plaas. Die wenners van die toernooi kwalifiseer vir die 2020 Olimpiese Spele.