Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Chemiese Patologie wil internasionale voetspoor uitbrei
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 15/07/2019

Senior chemiese patoloog, prof Annie Zemlin, het haar hele loopbaan lank altyd ʼn passie gehad vir kapasiteitsbou, transformasie en samewerking aan die Universiteit Stellenbosch (US), in Suid-Afrika, op die Afrika-kontinent en elders. Sedert haar aanstelling as nuwe hoof van die Afdeling Chemiese Patologie aan die US se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het sy dit een van haar hoofprioriteite gemaak.

“My visie vir die afdeling is belyn met die drie kernaktiwiteite van die US en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), naamlik navorsing, onderrig en leer, en gemeenskapsinteraksie," sê Zemlin.

“As afdeling is dit nie net belangrik om voor- en nagraadse studente op te lei en ʼn gehalte laboratoriumdiens aan ons kliënte te verskaf nie. Dit is ook noodsaaklik om ander te help om hul loopbane te bou, navorsing en die deel van kennis aan te moedig, en verdere samewerking met nasionale en internasionale vennote te bewerkstellig."

Wanneer dit kom by die uitbreiding van Chemiese Patologie se voetspoor in Afrika, het Zemlin alreeds baie aanvoorwerk gedoen. Sy is ʼn stigterslid van die Kollege van Patoloë van Oos-, Sentraal- en Suider Afrika (COPECSA) wat in 2010 in Kampala, Uganda, gestig is. En in 2014 het sy, in samewerking met die Koninklike Kollege van Patoloë en COPECSA, gehelp om die LabSkills Africa-program te ontwikkel wat in vyf lande in Afrika, suid van die Sahara uitgerol is. Sy is ook voorsitter van die eerste ouditkomitee in Afrika en het al verskeie oudits uitgevoer met ander lande in Afrika.

Zemlin wys uit dat sy danksy haar voorganger en mentor, prof Rajiv Erasmus, ʼn baie goed-georganiseerde afdeling oorgeneem het. “Ek is alreeds 20 jaar lank betrokke by die afdeling. Ek het in 1999 as kliniese assistent aangesluit, in 2004 as chemiese patoloog gespesialiseer en in 2014 medeprofessor geword. Ek het oor die laaste paar jaar nou saamgewerk met prof Erasmus om die afdeling te bestuur."

Zemlin wil in die toekoms verseker dat Chemiese Patologie meer blootstelling kry in voorgraadse onderrig, meer chemiese patoloë opgelei word om die tekort by die NHLS aan te vul, dat daar groter betrokkenheid is by die translasie van navorsingresultate tot diens, en meer PhD-studente gelok word.

“Ek wil ook graag voortdurende hoë gehalte vir optimale laboratoriumdiens verseker. Dit behels kliniese skakeling en uitreiking na klinieke, die instandhouding van ons laboratoriumakkreditasie, die aanspreek van klagtes en nie-nakomings, oudits as 'n deurlopende gehalteverbeteringsinstrument, die bekendstelling van nuwe toetse – spesifiek punt-van-sorg toetsing (POCT) en patologie-ondersteunde genetiese toetsing (PSGT) – en nasionale dekking."

Zemlin se navorsingsbelange sluit laboratoriumbestuur en operasionele navorsing, bewysgebaseerde laboratoriummedisyne, diabetes mellitus en kardiovaskulêre siekte, en MIV en inflammasie in. "Ek het in 2016 my PhD behaal in diabetes mellitus en kardiovaskulêre siekte in 'n plaaslike gemeenskap. My studie resultate het getoon dat die diagnose van diabetes in ons bevolking herevalueer moet word. Dit het tot gevolg gehad dat ek ʼn nuwe studie in lande regoor Afrika lei wat ʼn ontluikende biomerker van glisemiese beheer, genaamd geglikeerde albumien, inspan."

Zemlin het verskeie artikels in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte gepubliseer, aan talle nasionale en internasionale konferensies deelgeneem, en in 2016 ʼn NRF C2-gradering ontvang. Sy is ook die voorsitter van die Internasionale Federasie van Kliniese Chemie en Laboratoriummedisyne (IFCC) se komitee vir bewys-gebaseerde laboratoriummedisyne.

Gevra hoekom sy besluit het om in chemiese patologie te spesialiseer, bieg Zemlin dat sy eers ʼn belangstelling ontwikkel het nadat sy as dokter gekwalifiseer het. “Ek kan nie juis sê dat chemiese patologie een van my gunstelingvakke as mediese student was nie," lag sy. “Maar, nadat ek gekwalifiseer het, het ek waardering begin kry vir hoe belangrik chemiese patologie is en dat dit werklik die basis van siekte is. Ek het toe gehoor van ʼn vakante pos as kliniese assistent by die Afdeling Chemiese Patologie en besluit om aansoek te doen. Die res is geskiedenis!"


Onderskrif: Prof Annie Zemlin

Foto-erkenning: Damien Schumann