Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Help leerders presteer – uit liefde vir die wetenskap
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 04/07/2019

Wat 'n ervaring om skuins ná 08:00 op 'n Saterdagoggend (25 Mei 2019) die lesingsaal in die De Beersgebou binne te stap en sowat 120 graad 11-leerders daar aan te tref, almal in wit laboratoriumjasse, slaggereed vir 'n dag van chemie-eksperimente.

Die graad 11's was daar op uitnodiging van die Universiteit Stellenbosch Chemie-uitreikinisiatief (SUNCOI) om vyf eksperimente vir hulle voorgeskrewe Chemie-prakties oor intermolekulêre kragte onder die knie te kry. Ewe oorgehaal was dr Rehana Malgas-Enus, prof Catherine Esterhuysen, die tegniese personeellede mnre Jabu Lukhele en Shafiek Mohamed sowel as ongeveer 15 magister- en PhD-studente om die leerders by te staan en die eksperimente te fasiliteer.

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, het die leerders welkom geheet, en gesê sy hoop om hulle oor 'n paar jaar as Maties-eerstejaars op kampus terug te verwelkom. Sy het ook Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) vir hulle finansiële steun vir die inisiatief bedank.

Dr Mvula Yoyo van die SBA het in Afrikaans, Engels en Xhosa geantwoord. Hy het bevestig dat die SBA passievol is oor die onderwys, en dat dít juis is waarom hulle hierdie inisiatief reeds die afgelope drie jaar ondersteun.

Die dag se program het begin met 'n praatjie oor laboratoriumveiligheid deur mnr Lukhele van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, want, in die woorde van dr Malgas-Enus: “Dit is 'n chemiegebou, ouens, so veiligheid is ons eerste prioriteit."

Prof Esterhuysen, die eerste vroueprofessor in die Departement Chemie, het die leerders se geheue oor intermolekulêre kragte verfris, en dr Malgas-Enus het die grondbeginsels van eksperimente bespreek en 'n swaweleksperiment gedemonstreer. Daarna is die leerders opgewonde laboratorium toe vir 'n dag propvol leer en begrip.

Wat is SUNCOI?

Dr Malgas-Enus, 'n Chemiedosent wat in nanotegnologie spesialiseer, is die stigter van die Universiteit Stellenbosch Chemie-uitreikinisiatief (SUNCOI). Op skool op die Kaapse Vlakte was sy die enigste hoërgraadleerder in Wiskunde, en een van slegs twee hoërgraadleerders in Fisiese Wetenskappe. Hoewel haar skool geen chemielaboratorium of -hulpbronne gehad het om eksperimente te doen nie, het sy steeds op 28 'n PhD in Chemie verwerf.

Kort ná haar aanstelling by die US in 2012, en met die steun van prof Klaus Koch, in daardie stadium die hoof van die Departement Chemie, het dr Malgas-Enus begin werk aan 'n uitreikprogram waarmee sy 'n positiewe verskil sou kon maak vir leerders in dieselfde omstandighede as waarin sy destyds was.

Toe onderwysers haar hulp vra om die formele en informele praktiese assesserings vir hulle Fisiese Wetenskappe-leerders in graad 10, 11 en 12 aan te bied, het sy eers die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring- (KABV-)dokumente bestudeer. Sodoende wou sy seker maak dat die eksperimente wat sy op die punt was om te ontwerp die goedkeuring van die Wes-Kaapse onderwysdepartement sou wegdra. Omdat sy maar alte goed geweet het dat soveel skole voldoende laboratoriumfasiliteite en -hulpbronne kortkom, het sy daarna besluit om die skole te nooi om die eksperimente oor naweke in die Universiteit se laboratoriums te doen. Die laaste element om die inisiatief te laat werk was om die nagraadse studente van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap te betrek as fasiliteerders terwyl die leerders die eksperimente uitvoer.

Byna 2 000 leerders het sedert 2013 direk by hierdie inisiatief baat gevind (en die Universiteit se laboratoriums besoek) en sowat 400 Fisiese Wetenskappe-onderwysers het werksessies bygewoon oor hoe om die praktiese aktiwiteite in hulle klasse by hulle skole aan te bied. Daarbenewens het die SUNCOI-span laboratoriumstelle ontwerp met die minimum hoeveelheid chemiese reagense en basiese verbruiksgoedere wat nodig is om 'n volledige praktiese aktiwiteit vyf keer uit te voer. Die jongste byvoeging by die SUNCOI-aanbod is die ontwikkeling van eksperimente vir laerskoolleerders, en die uitbreiding van die inisiatief na landelike gebiede soos Matzikama en Leeu-Gamka.

Dr Malgas-Enus onderstreep dat SUNCOI nie soseer daaroor gaan om leerders vir die vakgebied van Chemie te werf nie. “Ek gebruik eerder die vak as 'n instrument om te toon dat daar ander maniere is om te ontsnap uit die omstandighede waarin jy gebore is. Besef dat jy die potensiaal het en dat niks jou kan terughou nie. Ek kan dit sê, want ek was self daar. En as ék dit kon doen, kan enigiemand anders ook."