Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kliniese Farmakologie herkies as PharmaTrain Sentrum vir Uitnemendheid
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 03/07/2019

​Daar was baie om te vier toe die Afdeling Kliniese Farmakologie se Farmaseutiese Geneeskunde se ontwikkelingsprogram onlangs weer sertifikasie ontvang het van die PharmaTrain Sentrum vir Uitnemendheid. Sertifikasie deur die sentrum is een van die grootste prestasies wat 'n instituut kan bereik op die gebied van internasionale farmaseutiese ontwikkeling.

Prof Helmuth Reuter, wat aan die hoof staan van die Afdeling Kliniese Farmakologie, het die her-sertifikasie van die afdeling, na 'n streng assesseringsproses, as 'n groot eer beskryf.

“Ek is verheug dat ons Afdeling se Farmaseutiese Geneeskunde-Ontwikkelingsprogram weer hierdie registrasie toegeken is," het Reuter gesê. Hy het bygevoeg dat die programme aan die Universiteit Stellenbosch die enigste sentrum in Afrika is wat erkenning gegee is deur PharmaTrain en dat dit aangewys is as die enigste sentrum van uitmuntendheid buite Europa.

“Ons het tans studente van dwarsoor Afrika wat by ons studeer. Hierdie sertifikasie verleen 'n status aan ons, en as ons werk daaraan, sal ons ook studente van buite Afrika kan lok.

“Ons het dosente van buite Afrika, maar sou potensieel geïnteresseerd wees om hierdie kursus ook aan te bied aan mense buite Afrika," het Reuter gesê.

Reuter het die belangrikheid van die verantwoordelike ontwikkeling van geneesmiddels soos volg verduidelik: “Geneesmiddels is 'n wonderlike menslike uitvindsel wat dikwels op plante, natuurlike produkte of chemikalieë gebaseer is. In die nuwe era van biologiese middels, is dit natuurlik baie belangrik om te vereseker dat die molekules en strukture waaruit die middels bestaan veilig en effektief is in die stryd teen en die voorkoming van siektes. Om dit moontlik te maak, moet daar 'n ontwikkelingsproses plaasvind. Die ontwikkeling van geneesmiddels sluit die toetsing van die middels in om die effektiwiteit daarvan te bepaal, om ook seker te maak dat hulle veilig en nie-toksies is, en natuurlik moet die middels ook deur 'n regulasieproses geneem word. Wanneer die hele dossier inligting geassesseer is, moet 'n besluit geneem word of die geneesmiddel geregistreer kan word en op die mark gesit kan word."

“Die PharmaTrain-assessore het tot die gevolgtrekking gekom dat die huidige Nagraadse Diploma in Farmaseutiese Geneeskunde (PG Dip Medicines Development) kursus saam met die Meestersgraadprogram (MPhil) in Farmaseutiese Geneeskunde (MMD) (wat ter voorbereiding daarvoor in 2020 'n aanvang neem) wat deur die Afdeling Kliniese Farmakologie aangebied word, voldoen aan die PharmaTrain-standaarde en die kwaliteitsvereistes vir 'n sentrum van uitenemendheid se sertifikasie," het Reuter gesê.

Die sertifikasie-inisiatief het begin as 'n projek van die Innovative Medicines Initiative (IMI) in Europa met die oogmerk om die bottelnek te verwyder in die ontwikkeling van geneesmiddels. Die inisiatief het in 2014 tot die PharmaTrain Federasie ontwikkel om sy missie te vervul buite die raamwerk van bloot 'n Europese projek wat deur staatsgeld befonds word.

Die projek het riglyne en standaarde geformuleer vir die ontwikkeling van nagraadse kursusse in die ontwikkeling van geneesmiddels en verwante gebiede. Dit het kriteria en prosesse opgestel om die universiteite te harmoniseer en te evalueer wat hierdie kursusse aanbied, alles met die oogmerk daarop om die gehalte van die opleiding op hierdie gebied te verhoog.

Reuter sê dat studente in die afdeling baie baat sal vind by die sertifikasie. "Dit verskaf internasionaal-gerespekteerde erkenning in die kringe van farmakologiese ontwikkeling. Dit sal meer nagraadse studente lok omdat hulle 'n internasionaal-erkende diploma sal kan verwerf."

“Alle kursusse wat deur 'n PharmaTrain-kursus evalueringsproses gaan, word die PharmaTrain se kursus-erkenning gegee as hulle minstens een PharmaTrain sillabus onderwerp dek en ook voldoen aan die PharmaTrain se kriteria vir kwalifikasie," het hy gesê.

Reuter sê die sertifikasie van sy afdeling beteken dat die kandidate op die kursus vaardighede sal opdoen op al die gebiede van farmakologiese ontwikkeling. “Die meeste van die mense wat hierdie kursus volg sal in die farmakologiese- of gesondheidsindustrie werk – en hulle sal opgelei wees om hulle werk op 'n uitmuntende manier te doen," het hy gesê.

“Die farmaseutiese industrie is enorm – so dit is baie belangrik vir diegene wat in die industrie werk om bekend te wees met die prosesse, sodat op die ou end, geneesmiddels meer doeltreffend en veilig gemaak kan word, en dat daar ook genoeg tyd gelaat kan word sodat die regulasie en registrasie daarvan kan plaasvind."