Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW raap drie Discovery-stigting toekennings op
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 01/07/2019

Drie akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe was die ontvangers van 2019 Discovery-stigting Toekennings.

Hierdie toekennings, wat aan kliniese dokters gee word wat gesondheidsdienste verskaf aan landelike gemeenskappe en gemeenskappe waar daar 'n tekort aan dienste is, is toegeken aan dr Sean Chetty van die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg (wat die toekenning vir die Massachusetts Algemene Hospitaal ontvang het), prof Louis Jenkins van die Departement Huisartskunde en Primêre Sorg (wat die Landelike Institusionele Toekenning ontvang het) en dr Bradley Wentzel van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid (wat die toekenning vir die Landelike Uitgelese Besoeker ontvang het).

Dr Sean Chetty

In die middel van Junie, het dr Sean Chetty van die Departement van Anestesiologie en Kritieke Sorg vertrek om 'n jaar by Harvard Universiteit se Massachusetts Algemene Hospitaal (MGH) deur te bring, waar hy die geleentheid sal hê om saam met wêreldleiers op die gebied van translasionele pyn te werk, en om dan daarna daardie vaardighede saam terug te bring na Suid-Afrika.

'n Verheugde Chetty het in 'n onderhoud gesê dat die besoek aan Harvard nie net 'n uitstekende geleentheid sal wees om meer te leer nie, maar ook 'n groot avontuur sal wees vir sy gesin.

“Die hospitaal is 'n akademiese hospitaal, en ek sal spesifiek daarheen gaan om in die eenheid van translasionele pyn navorsing te werk. Ek wil hoofsaaklik leer en opleiding ontvang in die hospitaal. Die motivering vir hierdie beurs is om die volgende geslag Suid-Afrikaanse akademici te help ontwikkel," het Chetty gesê.

“Ons het baie beslis hierdie vaardighede nodig op die gebied van pynbehandeling in Suid-Afrika. Dit is 'n baie nuwe sub-spesialiteit hier.

Chetty sê hy was beide geskok en opgewonde om te hoor dat hy die toekenning ontvang het. “Dit was so 'n verrassing en 'n eer. Noudat die werklikheid begin insink, is my vrou en twee kinders van onderskeidelik agt en 10, baie opgewonde daaroor om te gaan.

“Dit is 'n geweldige loopbaangeleentheid en die beste daarvan is dat my kinders die lewe in die VSA sal kan ervaar. Ek is geensins van plan om Suid-Afrika te verlaat nie, dus sal dit hulle die geleentheid gee om vir 'n jaar 'n ander kultuur te ervaar.

Oor sy doelwitte het Chetty die volgende te sê gehad: “My doel is om in die akademie te bly. My volgende doel is om 'n pyn-navorsingseenheid te stig by die US en om 'n pyn-opleidingsprogram aan die gang te kry. Op die lange duur sou ek graag vordering wou maak binne die range van die akademie by die universiteit."

Hy het die betekenis van translasionele pyn as volg verduidelik: “Pyn self is 'n gebied waar daar baie misverstande gevind word. Baie mense dink dis 'n simptoom van iets anders, veral chroniese pyn, maar dis 'n siektetoestand op sy eie. As gevolg van hierdie misverstand, word daar nie genoeg navorsing hieroor gedoen nie. Internasionaal is dit een van die grootste navorsingsareas, maar in Suid-Afrika is dit steeds in sy kinderskoene.

“Translasionele pyn kyk na hoe ons laboratorium-gebaseerde navorsing met kliniese werk kan verbind, en hierdie vorm die brug tussen die twee. Dit handel oor hoe ons dit wat ons in laboratoriums leer van toepassing maak op pasiëntesorg. In Suid-Afrika, word daar hier en daar stukkies navorsing gedoen, maar daar word nie veel vordering gemaak om hierdie twee gebiede met mekaar te verbind nie. Daar is 'n geweldige geleentheid vir ons fakulteit om hierdie gebied te ontwikkel en om die brug tussen hierdie leerareas te vorm."

Chetty sê hy sien uit daarna om laboratorium-ondervinding op te doen tydens sy reis na die VSA – "en om saam te kan werk met absolute kenners by die Massachusetts Algemene Hospitaal, sodat ek vaardighede kan terugbring wat sal help om ons eie sentrum van uitmuntendheid te ontwikkel by Stellenbosch."

Prof Louis Jenkins

Prof Louis Jenkins van die Departement Huisartskunde en Primêre Sorg het die Landelike Genootskap se toekenning ontvang. Jenkins, wat ook aan die hoof staan van Huisartskunde en die Noodeenheid by die George-hospitaal, het gesê dat die toekenning van R850 000 oor twee jaar gebruik sal word om 'n leierskapsontwikkelingsprogram te befonds vir mense wat in die gesondheidsektor werk op die Tuinroete en in die Sentrale Karoo-distrikte.

“Ons wil graag 'n model daarstel wat daarop gemik is om mense te help om die deursettingsvermoë te ontwikkel om voort te gaan om in die landelike areas te werk, om transformerende leiers te word, en om bemagtig te word om stelsel-wye kwessies aan te vat, sodat ons hulle kan behou in die landelike gebiede."

Jenkins, wat alreeds 19 jaar lank verbonde is aan die George-hospitaal het gesê: “Ons het opgelet dat die landelike gebied wat ons dek nie daarin slaag om dokters, verpleegsters en ander gesondheidspersoneel te behou nie. Hulle kom doen ondervinding op, en dan trek hulle terug na die stede waar daar meer geleenthede is."

Die program behels 'n twee-dag naweek-werkswinkel vir 15 mense wat almal op die Tuinroete of in die Sentrale Karoo-distrikte werk. Jenkins het gesê hy hoop om vyf werkswinkels per jaar te reël, met die fokus stewig op 'n benadering wat op waardes gegrond is.

“Ons sal dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers – vanaf die vlak van interns tot by senior bestuur – uitnooi om hulle werklike probleme wat hulle by die werk ervaar te kom deel in 'n ruimte waarbinne hulle veilig voel. Hierdie probleme kan wissel van kwessies wat verband hou met oortyd, afwesigheid van personeel, of die verbrokkeling van vertroue tussen verpleegsters en die hospitaalbestuur. Mense dink dikwels hulle is die enigstes wat probleme met sekere kwessies ervaar. In die werkswinkels sal ons hierdie sake van naderby bekyk, en saamwerk om oplossings te vind. Die doel is om samewerkende leierskap, respekvolle kommunikasie en span-gebaseerde probleemoplossing te begryp – met die uiteindelike doel om deursettingsvermoë te bevorder en om personeel te behou. Ons het onlangs in Riversdal 'n loodswerkswinkel gehou en dit het goed gewerk."

Jenkins het gemeld dat hy nou sal saamwerk met dr Zilla North, die mediese bestuurder by die George-hospitaal en prof Arnold Smit van die Stellenbosch Bestuurskool om die model te ontwikkel.

“Ons wil kyk na die waardes wat mense motiveer om voort te gaan, watter etiese beginsels ter sprake is, en hoe ons dit kan oordra om sodoende uitstekende pasiëntesorg te lewer."

Jenkins het gesê dat hy baie dankbaar en opgewonde was om die toekenning te ontvang. “Ons hoop om leierskap onder jongmense te ontwikkel wat in die frontlinies van die gesondheidsdienste in die landelike gebiede werk en om daardie model dan uit te brei vir die ontwikkeling van samewerkende leiers uit landelike gebiede na ander distrikte dwarsoor Suid-Afrika.

“Tydens my jare by die George-hospitaal, het ons besef dat baie van ons personeellede tegnies vaardig was, dat hulle mediese prosedures kon verrig en goeie administratiewe werk kon doen, maar dat hulle gesukkel het met basiese leierskapsvaardighede soos om 'n begrip te toon van stelsels, en om sekere prosesse hulle "eie" te maak. Hulle het byvoorbeeld, nie 'n begrip gehad van die vervoer- en kommunikasie- logistiek betrokke by die neem van 'n pasiënt van 'n klein na 'n groot hospitaal nie. In plaas daarvan om kommunikasieprobleme met die dokters of die paramedici aan die ander kant te hê,  moet ons ons personeel oplei om gesondheidstelsels te verstaan, en om bewus te wees van hoe waardes die praktyk beïnvloed, om leiers met visie te wees, en om om te gee vir kollegas en gemeenskappe.

“Ons wil graag waardes aanwakker wat te make het met omgee, toewyding, die neem van verantwoordelikheid, integriteit, respek en toepaslike reaksies teenoor gemeenskappe onder gesondheidswerkers."

Dr Bradley Wentzel

Dr Bradley Wentzel het die Landelike Uitgelese Besoeker-toekenning van die Discovery-stigting ontvang. Hy werk as 'n pediater en student-koördineerder van die LIM-program by die Harry Surtie Hospitaal in Upington, en het gesê dat die geldelike toekenning gebruik sal word om 'n internis te ondersteun om na die pasiënte by die hospitaal in Upington om te sien.

“Ek is ekstaties oor die toekenning. Dit is 'n groot stap in die regte rigting. Daar is baie probleme met die gesondheidstelsel in die Noord-Kaap, dus sal hierdie toekenning werklik baie help. Die US help ons reeds deur studente te stuur om by die hospitaal te werk, wat 'n groot verskil maak, en hulle het ons ook aangemoedig om vir hierdie toekenning aansoek te doen. Nou het ons ook 'n uiters nodige konsultant in interne geneeskunde.

“Ons hoop altyd dat wanneer studente kwalifiseer, hulle sal terugkeer om in die Noord-Kaap te werk. Dit is nie die meeste mense se eerste keuse vir 'n blyplek nie. Dit is moeilik om mense te kry om hier te kom werk. Ons het tans 'n tekort aan spesialiste in sekere dissiplines, soos oftalmologie, ortopedie en interne geneeskunde, so hierdie toekenning sal help om spesialis-behandeling vir ons pasiënte te bekom. Die toekenning sal aan die universiteit betaal word, wat 'n spesialis, dr Rust Theron, elke paar maande sal stuur om 'n paar dae in Upington deur te bring, en om pasiënte in die buite-pasiënte afdeling te sien, om saalrondtes te doen, en om dokters en studente op te lei. Dit gaan ons baie help.

“Uitdagings in interne geneeskunde – nie-sjirurgiese mediese toestande by volwassenes – plaas 'n swaar las op ons gesondheidstelsel. Hierdie uitdagings sluit hipertensie, diabetes en beroertes in. Op die oomblik het ons geen spesialiste nie en ons het 'n tekort aan personeel in verskeie departemente, so dit plaas 'n groot las op die hospitaal en op die gemeenskap as pasiënte baie lank moet wag vir afsprake."

Wentzel, wat oorspronklik van die Kaap afkomstig was, het sy voorgraadse en nagraadse studies by die US gedoen, sy internskap in Durban, en sy gemeenskapsjaar in 2011 in Upington. Hy het twee jaar daar gebly en as pediater gewerk, en hy het sy vrou in Upington ontmoet. "Ek het gekies om hier te bly, omdat ek regtig glo in demokratiese gesondheidsorg vir almal.

“Die realiteit is dat 'n pasiënt in Kaapstad vinniger 'n spesialis sal sien as wat 'n pasiënt in die Noord-Kaap sou. My doel is om daardie gaping te oorbrug, sodat selfs 'n pasiënt wat 400km van Upington af woon, toegang tot spesialis-behandeling sal hê. Gesondheidswerkers het 'n plig om uit die stede te trek. Buitendien, dis wonderlik om nie vir 'n uur in die verkeer te sit nie!"


Onderskrif: Dr Sean Chetty en prof Louis Jenkins.