Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Module wat Dosente Bang Maak
Outeur: CTL / SOL
Gepubliseer: 25/06/2019

SOL AUXIN SESSIE, 23 APRIL 2019

by Den Bosch, 12:45 – 13:45

 

In hierdie Auxin sessie het Dr Michael Schmeisser verslag gedoen oor 'n onwetenskaplike module vir eerstejaars in 'n wetenskaplike omgewing: Hortologie.  Die module is in 2018 ingelei om studente te bemagtig met sagte vaardighede soos selfrefleksie en konsepkartering.

 

Schmeisser het die module ontwerp met inspirasie uit Herrington & Oliver (2000) se werk oor outentieke leer-raamwerke en die operasionalisering daarvan in 'n gegewe situasie.  Terwyl sy department besig was met herkurrikulering, het Schmeisser 'n oortuigde argument gevoer dat so 'n onwetenskaplike module nodig is om studente te help met motivering vir en bewuste deelname aan hulle universiteitsloopbaan.  Schmeisser meen dat hulle studente goed voorberei word vir die akademiese, die wetenskaplike en selfs die bedryfswêreld, en dat hulle hopenlik goed toegerus word met kennis, logika en kritiese denkvaardighede deur hulle vier jaar van studie.

 

“Maar ek het altyd aangevoel dat hulle nie regtig bewus is van die finale soort student wat gevorm probeer word teen die einde van hulle studies nie.  En as hulle deur die jare wandel sonder 'n duidelike doelwit vir hulle studies, word die akademiese paadjie somber en sonder betekenisvolle leer.  Hierdie behoefte aan 'n sin vir 'n doel met wat hulle leer, is die rede hoekom ek aan hierdie module gedink het," sê hy.

 

Maar toe hy toestemming kry om die module vir sagte vaardighede te ontwikkel, was sy eerste gedagte: “Ek moes my mond gehou het."  Dit was skrikwekkend vir 'n wetenskaplike om 'n module te ontwerp en te doseer sonder wetenskaplike inhoud.

 

Schmeisser het die bul by die horings gepak deur te fokus op die doel van die module, en deur heelwat gasdosente in te nooi.  Die doel van die module is om studente voor te berei vir die volgende drie studiejare deur hulle doelgerigtheid te ontwikkel.  Hulle selfrefleksie en refleksie vir hulle eie leer, het die goue draad geword wat al die temas in die module saambind.

 

Naas leer hoe om te reflekteer, het studente ook geleer om hulle eie e-portefeuljes saam te stel, om konsepte te karteer (concept mapping), en om hulle CVs saam te stel en te ontwikkel.  Hulle is ook vroeg reeds aan die bedryf van hulle vak blootgestel, en aangemoedig om vakansiewerk in die bedryf te doen in 'n “vocational vacation".

 

Wanneer Schmeisser die sukses van die module evalueer, merk hy op dat student se terugvoer gedurende die proses verander het vanaf negatiewe na positiewe terugvoer.  Aan die einde het hulle terugvoer aangedui dat die module hulle in hulle studies gehelp het.  Een student, byvoorbeeld, se terugvoer is dat die module haar “letterlik gered" het van opskop. Ander het aangedui dat die leerinhoud oor streshantering en geestelike welstand spesifieke ondersteuning gebied het, soos om hulle bekend te stel aan die ondersteuningstelsels op kampus.

 

In antwoord op Auxin bywoners se vrae het Schmeisser aangedui dat die module opgevolg word in studente se vierde jaar.  Dan word refleksie as 'n gewoonte versterk en die e-portfolio word klaargemaak met die oog op loopbaanontwikkeling. Op 'n vraag oor 'n wyer aanwending van so module, het Schmeisser geantwoord dat dit sy voordele sou verloor as dit los staan en nie gekoppel is aan 'n dissipline nie.  So 'n skakel met 'n spesifieke vak skep 'n situasionele raamwerk waarin studente vaardighede kry om hulle kenniseenhede te integreer, en dit help hulle om toegang daartoe te kry in lewenskontekste waar probleme opgelos moet word.  Hy is steeds vasbeslote dat die module se inhoud onwetenskaplik moet bly – al is dit skrikwekkend.

 

Om na 'n potgooi van die Auxin sessie te luister, kliek hier.

Vir navrae, maak gerus kontak met Dr Michael Schmeisser by schmeisser@sun.ac.za .

Om deel te neem aan 'n gefokusde belangegroep (FIG), kontak SOL Adviseur Charmaine van der Merwe by cvandermerwe@sun.ac.za .

 

Foto 1:  Wetenskaplike Dr Michael Schmeisser deel sy vrese oor onwetenskaplike modules in 'n Auxin sessie.

 

Volgende Auxin Sessie: 

23 Julie 2019 by die Opvoedkunde Fakulteit, kamer E3008, 12.45 – 13.45.

Anita Kleinsmidt van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, bespreek aspekte rondom die leer en onderrig van 'n aanlynkursus in navorsingsetiek.