Hout word al vir duisende jare deur die mens gebruik vir bouwerk, vir brandstof, gereedskap en 'n magdom ander doeleindes. In meer onlangse tye het nuwe funksies bygekom, en deesdae word hout ook gebruik om gesuiwerde sellulose te produseer, en verwante produkte soos sellofaan. Hoe presies vorm bome hout? En meer spesifiek, hoe vorm bloekombome hout wanneer hulle volgroeid raak onder verskillende toestande? Sulke vrae sal beantwoord word deur navorsing wat onder die vaandel van die nuutgestigte Hans Merensky-Navorsingsleerstoel in Gevorderde Modellering van Bloekomhoutproduksie (of EucXylo) gedoen gaan word. Die totstandkoming daarvan in die Departement Hout- en Boskunde aan die Universiteit Stellenbosch word moontlik gemaak danksy die Hans Merensky Stigting.
Die kontrak waardeur die inisiatief van tien jaar geformaliseer is, is onderteken deur dr Khotso Mokhele, president van die raad van trustees van die Hans Merensky Stigting, en prof Eugene Cloete, viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch.
Die leier van die inisiatief is dr David Drew, 'n senior lektor verbonde aan die US Departement Bos- en Houtkunde. Hy sal kragte saamsnoer met ander wetenskaplikes in die Fakulteite Agriwetenskappe en Natuurwetenskappe aan die US, asook vooraanstaande internasionale navorsers.
Medefinansiering via die leerstoel maak nuwe laboratoriumfasiliteite en navorsingsapparatuur in die Departement Bos- en Houtkunde moontlik. Dit maak voorsiening vir die aanstelling van 'n nuwe tegniese personeellid. Die eerste groep nagraadse studente en nadoktorale genote wat deur die leerstoel ondersteun word, sal na verwagting in 2020 met hul navorsing begin. In die eerste vyfjaar-fase sal ses nagraadse studente (MSc en PhD) en minstens nadoktorale genote befonds word.
Xylogenese, of die vorming van hout
Volgens dr Drew is die proses waardeur bome hout vorm wêreldwyd van belang, en is dit 'n proses wat nie onderskat moet word nie.
"Houtvorming, tegnies bekend as xylogenese, help met die vaslegging van koolstofdioksied in die stabiele, waardevolle en pragtige materiaal wat ons hout noem. Hierdie proses is uiters belangrik vir die produksie van een van ons planeet se toenemend belangrike hernieubare bronne waarmee gebou kan word," verduidelik hy.
Volgens dr Drew is studies oor xylogenese beslis 'n nisveld waarmee net 'n klein persentasie van wetenskaplikes wêreldwyd gemoeid is. Die meeste werk daaroor is in die noordelike halfrond op populier, sagtehoutsoorte en klein, sogenaamde modelplantspesies gedoen.
Hy sê daar is baie goeie redes waarom die betrokke navorsingstoel spesifiek op bloekoms of Eucalyptus-spesies fokus: "Hulle is die soort hardehoutbome wat omtrent die mees algemene in die wêreld aangeplant word. Die bome word vir 'n verskeidenheid redes gebruik. Dit wissel van pulp tot houtbalke wat in konstruksie gebruik word."
“In ons studies aan die Universiteit Stellenbosch wil ons nou probeer verstaan en modelleer hoe prosesse wat belangrik is in die houtvorming van Eucalyptus plaasvind binne die konteks van die fisiologie van die hele plant," verduidelik hy.
Volgens dr Drew het kollegas aan die Universiteit van Pretoria reeds geweldige vordering gemaak met navorsing oor die molekulêre genetika agter bloekombome se houtvorming.
Hy voeg by dat die navorsingsleerstoel ook die inspirerende nalatenskap van geoloog en landboupionier dr Hans Merensky weerspieël. Nadat hy baie groot mineraalafsettings regoor Suid-Afrika (insluitende diamante, platinum en goud) ontdek het, het dr Merensky kommersiële bloekomplantasies in veral die noordelike dele van die land gevestig.
Navorsingsuitsette
Navorsingswerk wat danksy die EucXylo-leerstoel gedoen word, sal hopelik 'n ontwikkelende, ineengeskakelde stel modelle daarstel oor hoe bloekomhout vorm. Studies oor die faktore wat houtvorming beïnvloed sal bestudeer hoe bome reageer op periodieke droogtesiklusse.
"Dit sal gedoen word deur 'n reeks projekte wat deur nagraadse studente, nadoktorale genote en akademici voltooi sal word. Daarvoor sal die beste hoë akkuraatheidmetingstegnieke gebruik word, tesame met intensiewe opnames en laboratoriumanalises," verduidelik dr Drew. "Die insigte wat ons daaruit verkry, sal navorsers help om voortdurend hul voorspellingsmodelle te verbeter."
Hierdie modelle sal ingesluit word in 'n sagteware simulasieraamwerk. Daar word gehoop dat ander plaaslike en internasionale wetenskaplikes dit ook sal kan gebruik, om verdere hipoteses te ontwikkel en te toets.
Bykomende inligting oor dr David Drew:
• Dr David Drew is 'n alumnus van die Departement Bos- en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch, en het in 1999 die graad BSc (Boskunde) ontvang.
• Hy het sy MSc (Biologie) aan die destydse Universiteit van Natal voltooi, terwyl hy terwyl hy vir die Wetenskap en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) gewerk het. Dit het die grondslag gelê vir sy belangstelling in houtvorming.
• Hy het in 2009 'n doktorsgraad aan Monash Universiteit in Australië verwerf vir navorsing wat variasies in die temporale groei en houteienskappe in bloekombome beskryf en voorspel.
• Dr Drew was as navorsingswetenskaplike in Hobart (Tasmanië) by CSIRO, Australië se nasionale wetenskaplike agentskap werksaam. Hy doseer sedert 2015 bosbestuur aan die Universiteit Stellenbosch.
Agtergrond:
- Die Hans Merensky Stigting is in 1949 gestig deur geoloog en landboukundige dr Hans Merensky. Vir meer inligting: www.hmfoundation.co.za
- Die Departement Bos- en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch is die enigste universiteit in Suid-Afrika wat 'n omvattende vierjarige BSc-graadprogram in beide Boskunde en Houtprodukkunde aanbied. Daardeur word die hele bosbouwaardeketting gedek. Dis ook die enigste tersiêre instelling in Suid-Afrika wat opleiding op BSc-, MSc- en PhD-vlakke bied in beide Bos- en Natuurlike Hulpbronne en Houtprodukkunde. Die Departement streef daarna om veelsydige bestuurders en navorsers vir die houtverwerkings- en bosboubedrywe op te lei wat die vaardighede het die kompleksiteite rondom tegnologie-oordrag te bestuur en te verstaan.