Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IDASA-versameling aan Universiteit Stellenbosch oorhandig
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 20/06/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (20 Junie 2019) amptelik 'n spesiale manuskripversameling van die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA) in ontvangs geneem. Die versameling is met finansiële hulp van die Switserse Konfederasie bekom en is deur die Switserse ambassadeur in Suid-Afrika, Haar Eksellensie me Budliger Artieda, by die US-biblioteek oorhandig.

“Dit was 'n ongelooflike reis. Switserland is trots daarop om met hierdie argief en hierdie manuskripte geassosieer te word. Ons werk al sedert laat 2015 hieraan. Ek is bly dat dit 'n blywende herinnering by die Universiteit Stellenbosch sal wees en dat die versameling nou is waar dit tuis hoort," het Artieda by die oorhandiging gesê.

Die IDASA-manuskripversameling bevat unieke foto's, manuskripte en ander materiaal wat Suid-Afrika se politieke geskiedenis gedurende die tagtiger- en negentigerjare uitbeeld en prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekansellier, glo navorsers en studente sal groot voordeel uit die versameling kan trek.

IDASA -46.jpg

“Die Universiteit Stellenbosch is verbind tot 'navorsing vir impak' – dit is een van ons kerntemas in ons strategiese raamwerk. Dit is ons visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder, en hierdie manuskripversameling sal ons help om presies dit te doen," het De Villiers gesê.

Die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA), later bekend as die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika, is in 1986 deur drr Frederik van Zyl Slabbert en Alex Boraine in die lewe geroep. IDASA se aanvanklike doel vanaf 1987 was om 'n omgewing vir wit Suid-Afrikaners te skep waarin hulle met die verbode vryheidsbeweging, die African National Congress (ANC), kon praat voordat president FW de Klerk die inperking van die ANC in 1990 opgehef het. Ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het IDASA sy fokus verskuif na die vestiging van demokratiese instellings in die land, politieke deursigtigheid en goeie staatsbestuur. Die instituut is in 2013 ontbind.

IDASA -38.jpg

Slabbert, wat in 2010 oorlede is, was 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch en die instelling se 13de Kanselier. Die IDASA-manuskripversameling vul soortgelyke versamelings in die Biblioteek aan, insluitende die Frederik van Zyl Slabbert-versameling wat in 2014 aan die US geskenk en in 2015 amptelik geopen is.

“Ons is baie dank aan drr Slabbert en Boraine verskuldig vir hul hulp om die koers vir die Universiteit Stellenbosch te rig sodat ons meer inklusief kon word tot die punt waar ons is vandag is – 'n geïntegreerde akademiese gemeenskap wat kritiese denke vier, debat bevorder en tot demokrasie, menseregte en sosiale geregtigheid verbind is, met 'n uitwaartse, internasionale fokus op die toekoms," het De Villiers gesê.

Die geleentheid is ook bygewoon deur mnr Paul Graham, voormalige uitvoerende direkteur van IDASA, wat 'n uitgebreide oorsig van die geskiedenis van IDASA gegee het, asook van die belangrike rol wat die organisasie in die vorming van Suid-Afrika se demokrasie gespeel het. Hy het gesê IDASA was altyd verbind tot die bou van kapasiteit vir demokrasie onder landsburgers en hul regerings en dit is 'n model wat vandag steeds nagevolg kan word.

“Ek bly daarvan oortuig dat hierdie take net so noodsaaklik in Suid-Afrika as elders is en ek is bly dat die Universiteit Stellenbosch Biblioteek sal voortgaan om tot daardie taak by te dra deur die materiaal tot beskikking van studente, en hopelik ook praktisyns, te stel," het Graham gesê.

  • Gedeeltes van die IDASA-versameling sal ook digitaal beskikbaar wees op die US-biblioteek se webtuiste by http://digital.lib.sun.ac.za/.
  • ​Skakel Mimi Seyffert-Wirth by die US-biblioteek (tel 021 808 9489) vir meer inligting of stuur 'n e-pos aan mseyf@sun.ac.za.


Fotos deur Hennie Rudman.