Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Straatslim Mentors met Geestesvrugte
Outeur: CTL
Gepubliseer: 20/06/2019

SOL AUXIN SESSIE, 23 APRIL 2019
By Fakulteit Opvoedkunde E3008, 12:45 – 13:45
 
Me Shona Lombard het in hierdie Auxin aanbieding navorsing gedeel oor die unieke ondersteuning en diepgaande bydrae wat senior student as mentors kan bied om eerstegeslag-universiteitgangers suksesvol te integreer in die eerste jaar van verlengde graadprogramme (VGP’s).    
 
Die titel van hierdie Auxin aanbieding, Geestesvrugte saam met Straatslimheid, kom uit die antwoord van een van die senior mentor-studente, toe sy gevra is oor die eienskappe van ‘n goeie mentor.  Haar antwoord dat ‘n mentor voetsoolvlak wysheid soos straatslimheid nodig het, saam met die geestesvrugte in die Nuwe Testament (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid), het sommige van Me Lombard se bevindings goed saamgevat. Vir Auxin bywoners, was dit van besondere nut toe Me Lombard sulke voorbeelde in die mentors se eie stemme gedeel het.
 
Me Lombard het verduidelik hoe die formele mentorprogram vir VGP’s aan die US sedert 2015 ontwikkel het.   Die aanbieder se teoretiese begronding en literatuuroorsig vanuit haar FINLO-befondsde studie het gelei tot nuttige gesprek tussen fakulteite en disciplines, oor toepassings en praktyke.  Tans is die doel van die mentorprogram om ‘n veilige ruimte te skep waarbinne eerstejaars in die VGP in gesprek tree met senior VGP-studente. Die mentorsessies fokus dus nie op akademie nie, maar op hulle gedeelde ervarings om die gaping tussen skool en universiteit te oorbrug, terwyl akademiese ondersteuning in ander programme aandag kry.
 
Die kwantitatiewe en kwalitatiewe data en die jaarlikse evaluasieproses dui aan dat die mentorprogram wel veilige, ondersteunende en uitdagende ruimtes bied waarbinne kritiese en kreatiewe denkprosesse bevorder is wat kan lei tot positiewe gedragsverandering by sowel die mentors as die medestudente wat deur hulle gementor word.
 
Sedert 2017 is die aanbieder ook betrokke by ‘n proses om ko-kurrikulêre akkreditasie te bewerkstellig vir die mentorprogram, sodat mentors erkenning vir hulle rol kan kry op hulle akademiese transkripsies.  As ‘n voorbeeld van ervaringsleer (Kolb, 1984) bied hierdie mentorprogram heelwat geleenthede vir wisselwerking tussen die mentors en die gementordes se persoonlike kennis en sosiale kennis in ‘n ruimte van ontwikkeling.
 
Die Auxin bywoners het deelgeneem aan interdissiplinêre gesprek oor toepassings wat werk in verskillende fakulteitskontekste, en het terugvoer gegee dat hulle hierdie studie se teoretiese begronding baie waardeer het.
 
Om na ‘n potgooi van die sessie te luister, besoek gerus: http://www.sun.ac.za/english/learning-teaching/ctl/professional-learning-opportunities-for-t-l/auxin/auxin-resources
 
Vir meer inligting en literatuur, kontak gerus die aanbieder:
Me Shona Lombard [shonal@sun.ac.za]
 
Foto 1:  Me Shona Lombard saam met ‘n groep mentors wat die mentorprogram suksesvol afgelê het.