David Niyukuri, 'n PhD-student in Wiskunde van die Universiteit Stellenbosch (US), was lid van die span epidemioloë wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gedurende Mei 2019 in die Demokratiese Republiek van die Kongo bygestaan het in die beplanning van hul reaksie op die Ebola-uitbreking, en die daaropvolgende behandelingstrategie.
Daar word geraam dat 2020 mense in die Noord-Kivu- en Ituri-provinsies reeds geïnfekteer is met die Ebola-virus sedert die begin van die uitbreking in Augustus 2018. Van hierdie 2020, is 1354 se dood bevestig. Die voortdurende konflik in bogenoemde streek het egter die hantering van die Ebola-uitbreking erg gekompliseer.
David is 'n lid van Infection Control Africa Network (ICAN), wat geaffilieer is by die Global Outbreak Alert and Response Network (GOARN). In tye van gesondheidskrisisse beroep die WGO hulle op hierdie netwerk ten einde vrywilligers met die nodige tegniese kennis en vaardighede op grondvlak te ontplooi - waar en wanneer hulle die nodigste is.
Vanaf 14 April tot 14 Mei 2019 was hy lid van die span wat op grond van data wat op grondvlak in die veld ingesamel is, die WGO se aktiwiteite in die bekamping van die siekte, te help rig. Die data waarmee hulle gewerk het, sluit onder andere in: waarskuwings van nuwe gevalle, soos gerapporteer deur waarnemingspanne wat uitgestuur is; 'n lys van alle persone waarmee elke geïnfekteerde pasiënt vóór diagnose in kontak was; en die voorkoms van bevestigde gevalle van virale hemorragiese koors, ('n siekte wat deur onder andere die Ebola-virus veroorsaak word). Nie net is die insidensiedata van bogenoemde koors gebruik nie, maar ook inligting oor die geaffekteerde individue wat o.a. demografiese data, kliniese tekens en simptome, sowel as risikofaktore insluit.
Ten einde die data te verwerk en praktiese riglyne vir die WGO te kan verskaf, is verskeie analitiese tegnieke ingespan: soos epidemiologiese kurwes, ruimtelike geval-analise, oordragkettings, tipe oordrag, risikogebiede, en eenveranderlike en meerveranderlike analises.
Hy het skouer-aan-skouer gewerk met spesialiste van internasionale instellings soos die London School of Hygiene and Tropical Medicine, die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) in die Verenigde State van Amerika, asook die WGO se streekskantoor vir Afrika.
Onder normale omstandighede is David 'n NNS-TWAS doktorale genoot in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesonheidswetenskappe en die DWT-NNS Suid-Afrikaanse Sentrum van Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA), gehuisves by die US. The World Academy of Sciences (TWAS) is die grootste doktorale en nadoktorale navorsingsgenootprogram in die Suidelike Halfrond en word deur UNESCO ondersteun.
Alhoewel dit die eerste maal was wat hy in die veld ontplooi is, moedig hy studente, (veral dié in epidemiologie), aan om van hierdie geleenthede gebruik te maak: “Die veld van epidemiologie in die werklike lewe verskil van dit wat ek verwag het. Die menslike dimensie in die praktyk maak intervensies in die veld meer kompleks as wat dit in die teorie lyk."
Hy sê interne veiligheidsmaatreëls is getref ten einde alle personeel te beveilig, en dat sy korttermyn ontplooiing nie inbreuk op sy studies gemaak het nie: “Oor die algemeen was dit 'n ongelooflike ervaring vir 'n ambisieuse epidemioloog!" vertel hy.
David het in Burundi, Oos-Afrika grootgeword en aan Lycee Sainte Famille de Kinama in Bujumbura gematrikuleer. Nadat hy 'n graad in Wiskunde aan die Universiteit van Burundi behaal het, het hy 'n meestersgraad by die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe in Suid-Afrika verwerf. Hierna het hy as assistentlektor na die Universiteit van Burundi teruggekeer. In 2016 ontvang hy 'n NNS-TWAS Afrika-renaissance Doktorale Genootskap en hy is tans besig met sy PhD onder studieleiding van Prof Wim Delva by SACEMA, Stellenbosch. Sy navorsing fokus op die ontwikkeling van nuwe metodologieë vir studies vir die voorkoming van MIV-infeksies, gebaseer op die verstaan van die dinamika waarvolgens die MI-Virus oorgedra word, en deur die gebruik van biogedragsdata en filodinamika. Hy is lid van die Infection Control Africa Network, sowel as van die Next Einstein Forum se Community of Scientists. Hy is ook 'n alumnus van die Lindau Nobelpryswennersvergadering van 2018.
Op die foto, bo, David Niyukuri (voor in die middell was deel van 'n span van epidemioloë en data-analiste wat die Wêreldgesondheidsorganisasie in die Demokratiese Republiek van die Kongo bygestaan het in die bekamping van die Ebola-uitbreking daar. Vanaf links na regs, Patrick Keating (London School of Hygiene and Tropical Medicine), Amber Dismer (Centres for Disease Control and Prevention), Richy Ngombo (WGO), David Niyukuri (SACEMA), Franck Fortuné Mboussou (WGO-AFRO), Yurie Izawa (WGO-Geneva), Nabil Tabbal (WGO), Anita Shah (WGO) en Bernadette Gergonne (WGO).