Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch begin met die opleiding van Data-ingenieurs
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 13/06/2019

Die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) bied vanaf Februarie 2020 'n nuwe BIng-graad in Data-Ingenieurswese aan. Die graad is 'n nuwe spesialisasiestroom in die bestaande voorgraadse graad in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, oftewel BIng (E&E). 

“Die doel is om studente voor te berei vir die Vierde Industriële Revolusie waar die wêreld van werk fundamenteel verander het en daar 'n stortvloed data is wat gestruktureer, gemodelleer en ontleed moet word. Die doel is om data-geleide organisasies in staat te stel om die onderliggende kennis te ontdek en om goed-ingeligte besluite te neem," sê prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die US. 

Data-Ingenieurswese omvat alle take wat nodig is om data beskikbaar te stel vir analise, kennisontdekking en besluitnemingsprosesse. Data-ingenieurs ontwikkel 'n organisasie se data-pyplyn-stelsels en implementeer algoritmes om data na 'n nuttige formaat vir analise om te skakel. 

Take sluit in die versameling, stoor, sinchronisasie, transformasie, skoonmaak en bestuur van data, asook die ontwikkeling van datamodelle. 

Tegniese vaardighede waaroor data-ingenieurs moet beskik is 'n grondige kennis van die ontwerp van databasisse en van veelvuldige programmeringstale. Daarmee saam word uitstekende kommunikasievaardighede benodig ten einde bevindinge so aan te bied dat 'n gehoor dit maklik kan verstaan.

Vanaf die eerste studiejaar word die Data-Ingenieurswese spesialisasie gebou op die stewige grondslag van Wiskunde, Statistiek, Rekenaarwetenskap en Kunsmatige Intelligensie. Die spesialisasie bring ook nuwe voorgraadse modules in Data-Ingenieurswese in wat onderwerpe soos Groot Data Platforms, Probabilistiese Grafiese Modelle vir Masjienleer en Grondslae van Diepleer en Kunsmatige Intelligensie dek. Studente sal die ingenieursvaardighede ontwikkel om wiskundige-, fisiese- en statistiese modelle van werklike stelsels, insluitende datastelsels, te skep. 

Ná die verwerwing van die kwalifikasie sal die US se nuwe Data-ingenieurs hierdie kennisareas kan integreer om komplekse stelsels krities te ontleed ten einde innoverende oplossings vir werklike probleme te implementeer om 'n fundamentele impak op die samelewing te bewerkstellig. Dit sal gedemonstreer word deur studente wat 'n sluitsteenprojek in Data-Ingenieurswese suksesvol in hul finale studiejaar voltooi.

Al die BIng-programme gaan aan die nuwe spesialisasieveld blootgestel word, maar slegs studente wat die spesifieke rigting volg, gaan die wiskundige en statistiese grondslae van datawetenskap in diepte behandel.

Die inisiatief ondersteun ook die Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke wat binnekort aan die US gevestig word. 

“Dié skool sal regoor al ons fakulteite op interdissiplinêre wyse werk en sal oor die hele akademiese projek strek, van voor- en nagraadse opleiding tot navorsing en spesialiskonsultasie. Die Fakulteit Ingenieurswese sal 'n sleutelrol in die nuwe skool speel, want dit was nog altyd toekomsgerig met voorpuntnavorsing," sê prof Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier. 

​·      Voornemende studente word aangemoedig om voor 30 Junie 2019 aansoek te doen om toelating tot die BIng (Elektriese en Elektroniese) Data-Ingenieurswese spesialisasie in 2020. Laat aansoeke sal oorweeg word, maar hul toelating sal onderworpe wees aan beskikbaarheid van plekke.

·      Om aansoek te doen, besoek www.sun.ac.za en kies “Studente" en dan “Voornemende studente". Hierdie webwerf gee ook verdere inligting soos die toelatingsvereistes.

·      Voornemende studente kan mnr August Engelbrecht (august@sun.ac.za, tel 021 808 3947) kontak vir meer inligting.

·      Medianavrae en industrievennote: Skakel met prof Wikus van Niekerk by wikus@sun.ac.za, 082 256 4131 vir meer inligting.                                                 

MEER INLIGTING

WAT DOEN DATA-INGENIEURS?

Data-ingenieurs is verantwoordelik vir die ontdekking van tendense in datastelle en die ontwikkeling van algoritmes om rou data nuttiger te maak. Dit vereis 'n aansienlike stel tegniese vaardighede, insluitende 'n diepe kennis van die ontwerp van databasisse en van veelvuldige programmeringstale. 

Data-ingenieurs is dikwels verantwoordelik vir die bou van algoritmes om toegang tot gestruktureerde en ongestruktureerde data makliker te maak, maar dit verg begrip van 'n organisasie se doelwitte in die gebruik van groot datastelle. Data-ingenieurs benodig uitstekende kommunikasievaardighede om met verskeie belanghebbendes binne en buite die organisasie te skakel om te verstaan wat sakeleiers van Groot Data wil verkry. Hulle moet ook hul bevindinge kan aanbied op só 'n wyse dat die gehoor dit maklik kan verstaan.

Data-Ingenieurswese omvat alle take wat nodig is om data beskikbaar te stel vir analise, kennisontdekking en besluitnemingsprosesse. Die belangrikste taak van die data-ingenieur is om 'n organisasie se data-pyplyn-stelsels te ontwikkel en in stand te hou, en om algoritmes te implementeer om data na 'n nuttige formaat vir analise om te skakel. Die take van 'n data ingenieur sluit in die versameling, stoor, sinchronisasie, transformasie, skoonmaak en bestuur van data, asook die ontwikkeling van datamodelle.