Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gardeo gaan van krag tot krag
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 12/06/2019

Maties se spoedvraat Gardeo Isaacs (20) is nie net die huidige Suid-Afrikaanse 400m-kampioen nie, maar ook 'n lid van die span wat Suid-Afrika in Julie by die Wêreldstudentespele in Italië sal verteenwoordig.

Dié Bestuursrekeningkunde-student in sy tweede jaar by die Universiteit Stellenbosch gee krediet aan Maties Sport se Hoëprestasie-program (HP-program) vir sy groei as 'n atleet oor die afgelope twee jaar.

Vandat hy by Maties Atletiek aangesluit het, trek Gardeo voordeel uit die uitgebreide ondersteuning wat hoëprestasie-studente-atlete by die HP-eenheid ontvang.

“Veral twee komponente van die program het my baie gehelp. Die krag- en kondisioneringafrigting het van my 'n beter hardloper gemaak, omdat oefening soveel meer as net hardloop om die baan insluit. Die sessies met die sielkundige Eugene Oppelt het my ook baie gehelp, veral met wedlope ver van die huis af," sê Gardeo.

Die 2019-seisoen het tot dusver baie goed verloop vir Gardeo. Hy het goed presteer by die Varsity Atletiek-byeenkomste en is as die USSA-kampioen gekroon voordat hy die groot titel gewen het: Suid-Afrikaanse 400m-kampioen in 'n persoonlike beste tyd van 45.39 sekondes.

“Ek wou baie graag die Suid-Afrikaanse senior titel wen. Om die titel met 'n persoonlike beste tyd te wen, was 'n groot bonus."

Gardeo het Suid-Afrika in Mei by die Wêreldafloskampioenskap verteenwoordig waar Suid-Afrika 'n sesde plek behaal het. Die volgende uitdaging is die Wêreldstudentespele.

“Ek wil net my beste gee en die geleentheid geniet. Ek wil ook baie graag 'n kwalifiserende tyd hardloop sodat ek aan die Wêreldkampioenskap in Doha kan deelneem. Soos vir enige atleet, is dit ook my droom en doelwit om aan die Olimpiese Spele deel te neem."

Gardeo het in Parow grootgeword en is al sedert sy laerskooldae mal oor atletiek.

“Ek het as 'n hoogspringer begin, maar het gou belangstelling verloor. Van al die baanitems het die 400m vir my uitgestaan."

Selfs nog voordat hy by Maties aangesluit het, het Gardeo op Coetzenburg geoefen onder die wakende oog van sy afrigter, Heinrich Fortuin.

“Toe die geleentheid kom om by die Universiteit Stellenbosch te studeer, was ek so gelukkig. Ek het goeie tye behaal en 'n geleentheid is aan my gebied. Ek het nie gehuiwer nie. Ek is mal oor die atmosfeer hier op Stellenbosch en die stelsel is fantasties."