Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit en Munisipaliteit neem hande om behoeftiges te help
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 05/06/2019

Die uitdagings van behoeftige persone op Stellenbosse strate is bespreek by 'n onlangse vergadering van die Rektor-Burgemeester-forum, 'n struktuur wat die Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Munisipaliteit in die belang van die dorp en sy mense help saamspan.

Die Universiteit het terugvoer gegee oor sy navorsing oor die kwessie, terwyl die Munisipaliteit inligting verskaf het oor sy Give Responsibly-veldtog.

“Daar word geraam dat 150 mense hul op enige gegewe dag op die strate van Stellenbosch Sentraal bevind. Die data kan egter onbetroubaar wees en volgens mense se seisoenale bewegings wissel," het mnr Jacob du Plessis van die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie, wat die navorsing lei, by navraag gesê.

“Die lewe op straat maak mense meer kwesbaar. Daarom moet ons die omvang van die probleem begryp. Dit sal help met toegang tot maatskaplike dienste, sowel as met die opstel van aksieplanne wat hierdie sosiale kwessie aanspreek."

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, sê dit is bemoedigend dat die navorsingsprojek oor verskillende dissiplines heen strek, waaronder sielkunde, regsgeleerdheid, ekonomie, sosiologie en toerisme.

“Ons ondersteun hierdie projek omdat dit 'n beduidende impak op die gemeenskap kan hê," het hy gesê.

Adv Gesie van Deventer, Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch, sê die navorsing sal amptenare in staat stel om hulpbronne doeltreffender te kanaliseer en te bestuur.

Die Munisipaliteit het die Give Responsibly-veldtog vroeër vanjaar van stapel gestuur om die skenking van koepons in plaas van kontant aan te moedig.

Koepons is beskikbaar by handelaars wat die Give Responsibly-plakkaat vertoon. Die koepons kos R10 elk, en die ontvangers kan dit vir voedsel, komberse of skuiling by deelnemende instansies verruil.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Maatskaplike Impak en Transformasie aan die US, sê die Universiteit is 'n aktiewe deelnemer aan die veldtog.

  • Koepons is by sekere koshuise en klusters beskikbaar, en studente en personeel kan dit ook by die KwikSpar Neelsie koop. Meer as 800 koepons is in die eerste drie maande van die jaar verkoop.
  • Lêer-foto hierbo, vir illustrasie-doeleindes, deur José Manuel de Laá, Pixabay