Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oes van boombas het negatiewe impak op voëls in Oos-Kaapse woude
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 29/05/2019

Die ongereguleerde oes van hout, bas en boomstamme (wat as pale gebruik kan word) in inheemse woude van die Oos-Kaap, het 'n negatiewe impak op die voëldiversiteit van hierdie kwesbare woude. Dít was die bevinding van 'n studie wat pas by die Universiteit Stellenbosch gedoen is.

46% van Suid-Afrika se oorblywende natuurlike woudbedekte areas, kom in die Oos-Kaap voor en sluit baie van die land se mees bedreigde woudtipes in. Dit maak ook deel uit van die Maputuland-Pondoland-Albany gevaarpunt vir biodiversiteit. Alhoewel daar 'n toename is in die oppervlakte wat met woude bedek is, het die agteruitgang van die woude - wat hoofsaaklik aan informele oesbedrywighede toegeskryf kan word - 'n negatiewe invloed op die voëllewe in hierdie woude. 

In 'n studie wat verlede week in die vaktydskrif Forest Ecology and Management gepubliseer is, het PhD-student Jessica Leaver en medenavorsers die impak van hout-, bas- en paal-oesting op die voëldiversiteit in vyf Oos-Kaapse woude ondersoek, naamlik: in Mqaba, Manubi, Ntlaboya, Gomo en Pirie.

Hulle studie het nie slegs op die aantal spesies gefokus nie, maar ook op die aantal ekologiese rolle wat voëls binne hierdie woude vervul. “Spesies wat meer diverse en gespesialiseerde rolle in 'n woud vervul, is meer sensitief vir die versteuring van die omgewing," verduidelik Leaver.

Volgens Prof Michael Cherry, 'n gedragsekoloog in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch en mede-outeur, is die handhawing van voëldiversiteit van kritieke belang vir die funksionering en regenerasie van hierdie woudsisteme, waarvan sommige ten minste al vyf miljoen jaar oud is.

“Baie verskillende voëlspesies speel baie belangrike rolle in hierdie woude, soos byvoorbeeld t.o.v. die verspreiding van sade en in die proses van bestuiwing. Wanneer hierdie voëls en die funksies wat hulle vervul dus begin verdwyn, raak dit ook die algehele gesondheid en veerkragtigheid van die woude," waarsku hy.

Daar is altesaam 64 voëlspesies in die vyf woude aangeteken: 23 spesies in Gomo; 42 spesies in Mqaba; 51 spesies in Manubi; 44 in Ntlaboya; en 38 in Pirie. Sover bekend is dit die eerste keer dat voël diversiteit vir dié woude aangeteken is.

Hulle het bevind dat tot 29% van die bome in hierdie woude waarvan die bas verwyder is,  tot so mate van bas gestroop is dat dit binne die volgende jaar sal doodgaan. Dié verlies aan bome het 'n negatiewe uitwerking op verskillende kategorieë van spesialisvoëlspesies, by name die insek- en saadetende spesies.

Van die inseketende voëls wat negatief geraak word, sluit in die Swartvlieëvanger (Melaenornis pammelaina), die Bloukuifvlieëvanger (Trochocercus cyanomelas), en die Donkervlieëvanger (Muscicapa adusta). Die rede hiervoor is dat, hoe meer sonlig deur die boomkap dring as gevolg van bome wat doodgaan van die oes van bas, dit tot minder insekte op die woudvloer lei.

Drie spesies van saadeters, naamlik: die Gestreepte kanarie (Crithagra scotops), die Groenkolpensie (Mandingoa nitidula) en die Kaneelduifie (Aplopelia larvata), word ook op dieselfde wyse negatief geraak deur die oes van bas. Hoe meer sonlig deur die boomkap dring as gevolg van bome wat doodgaan, hoe meer loofstruike groei op die woudvloer, ten koste van gras. Dus is daar minder saad beskikbaar.

Die oes van pale, of te wel die selektiewe verwydering van kleiner boomstamme (wat as pale gebruik kan word), het ook 'n negatiewe uitwerking op spesialiswoudspesies, soos die Bosmusikant (Ploceus bicolor), die Bloukatakoeroe (Coracina caesia), die Olyfboslaksman (Chlorophoneus olivaceus), die Geelstreepboskruiper (Phyllastrephus flavostriatus) en die Geelkeelsanger (Phylloscopus ruficapilla). Bogenoemde is almal woudvoëls wat hoofsaaklik hou in die boomtoppe wat die boomkap van die woud vorm.

In teenstelling hiermee, is gevind dat die oes van pale 'n positiewe uitwerking gehad het op die meer algemene voëlspesies soos die Kaapse Glasogie (Zosterops capensis) en die Swartkopwielewaal (Oriolus larvatus). Hierdie spesies pas makliker aan by veranderings in hul habitat.

'n Studie wat in 2017 deur Prof Cherry se navorsingsgroep gedoen is, het getoon dat daar sedert 1992 'n afname was in die verspreidingsarea van die helfte van Suid-Afrika se woudafhanklike voëlspesies. Hierdie afname in voorkoms was die prominentste in die Oos-Kaap, ten spyte van die toename in die oppervlak wat deur woude bedek word in hierdie streek, oor dieselfde tydperk.

“Dit blyk nou dat die agteruitgang van die habitat wat voortspruit uit die informele oespraktyke, 'n negatiewe invloed het op die aantal ekologiese rolle wat deur woudvoëls in hierdie streek vervul word, en dit dra by tot die afname in hulle voorkoms," waarsku Cherry.

Op die foto's bo: Navorsers van die Universiteit Stellenbosch beraam dat bykans 30% van bome in die Oos-Kaapse woude waarvan die bas verwyder is, tot so mate deur basstroping beskadig is​ dat dit binne die volgende jaar sal doodgaan. Hier is 'n voorbeeld van 'n stinkhoutboom (Ocotea bullata) in die Gomo-woud wat van sy bas gestroop is. Foto: Jessica Leaver

 En op die ander foto is 'n Groenkolpensie wat as deel van die Universiteit Stellenbosch se navorsing in die Gomo woud in die Oos-Kaap gevang is. Foto: Jake Mulvaney

 

Medianavrae

Prof Mike Cherry

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 3233

E-pos: mic@sun.ac.za

Jessica Leaver

Sel: 076 460 9454

E-pos: jes.leaver@gmail.com