Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB-student woon internasionale konferensie in Duitsland by
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 29/05/2019

Me Malira Masoabi, 'n PhD-student van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB), het in Mei na Hannover, Duitsland, gereis om 'n Keystone-konferensie oor klimaatsveranderingsverwante strestoleransie by plante by te woon. Wetenskaplikes van oor die hele wêreld het by dié geleentheid byeengekom om vernuwende navorsing te bespreek wat beoog om die impak van klimaatsverandering en beperkte waterbeskikbaarheid op gewasproduksie teen te werk. Onderwerpe op die agenda was onder meer nuwe ontwikkelings in fisiologiese en molekulêre fenotipering, en die erkenning van multigeenroetes wat stresweerstandigheid by gewas- en modelplantspesies skep.

Op grond van die opsomming wat sy aan die konferensieorganiseerders voorgelê het, is Malira nie net genooi om 'n plakkaat aan te bied nie, maar ook om 'n mondelinge aanbieding te doen oor haar werk getiteld “Die rol van SUMO-proteases in die posttranslasionele regulering van droogtereaksie by suikerriet". Die werk maak deel uit van Malira se doktorale studie, waarvoor sy vorendag gekom het met transgeniese suikerriet met 'n ooruitdrukking van sekere proteasegene wat met die posttranslasionele SUMOïlasie-aanpassingsproses by plante verbind word. SUMO-proteases klief die SUMO-proteïene totdat dit so aangepas is dat dit die binding proteïene teiken wat die abiotiese stresreaksie van die plant kan beïnvloed. Malira se besoek is moontlik gemaak deur die KIC-program (“Knowledge, Interchange and Collaboration") van die Nasionale Navorsingstigting, wat 'n toekenning aan haar projekleier, dr Christell van der Vyver, beskikbaar gestel het.    

Dít was Malira se eerste oorsese reis. Benewens bywoning van die konferensieverrigtinge, het sy ook tyd ingeruim om 'n paar plaaslike toeristeaantreklikhede te besoek, waaronder die Herrenhausenpaleis en -tuine sowel as Hannover-oustad.


Artikel pic 1.png