Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
O&L Seminaar: Prof Faadiel Essop
Outeur: Anthea Jacobs
Gepubliseer: 24/05/2019

​LEER-EN-ONDERRIGVERRYKINGSEMINAAR, 9 MEI 2019 in Kamer 3008, Opvoedkundegebou, 12:45–13:45

Prof Faadiel Essop van die Departement Fisiologiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuurwetenskappe was die aanbieder van die Leer-en-Onderrigverrykingseminaar op 9 Mei 2019. Sy kernfokusgebiede behels onder meer samewerkende en aktiewe leer in betreklik groot klasse. Hy is passievol oor die skep van 'n onderrig-en-leer- (O&L-)omgewing wat kritiese denke, probleemoplossing en 'n dieper begrip van vakinhoud bevorder. Die onderwerp van sy praatjie was “Outonomieroetes om aktiewe onderrigmetodes in voorgraadse Fisiologieklasse te vergelyk". Vir die aanbieding het prof Essop 'n uitgesoekte aantal voorbeelde van intern ontwikkelde Fisiologieklasaktiwiteite by die Universiteit Stellenbosch aan die hand van die outonomiedimensie van Karl Maton se legitimeringskodeteorie (LKT) bestudeer. Al die voorbeeldaktiwiteite is ontwerp om kritiese redenering- en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel.
Prof Essop het sy praatjie met agtergrondinligting oor die vakgebied van Fisiologie begin. Daarna het hy 'n aantal O&L-verwante uitdagings van die vakgebied uitgelig, waaronder (i) die aard van die vakgebied, en (ii) die wêreldsienings van die naoorlogse geslag (“baby boomers") en die sogenaamde “generasie X". Volgende het die klem verskuif na aktiewe leerstrategieë om O&L-uitdagings in Fisiologie die hoof te bied. Prof Essop het beklemtoon dat dit hier nie net oor inhoud gaan nie, maar veral ook oor die skep van vreugde, opwinding en 'n liefde vir leer, en dat die bekendstelling van aktiewe leerstrategieë 'n belangrike rol in dié verband vervul. 


Hierna het hy Karl Maton se LKT aan die gehoor verduidelik. Dié teorie gaan daaroor om kennispraktyke of die onderliggende grondbeginsels daarvan te ondersoek of te onthul. Prof Essop het verduidelik hoe hy “outonomietoere" in sy onderrig gebruik. Wanneer 'n mens aktiewe leertegnieke deur die lens van outonomie evalueer, kan jy die veronderstelde waarde en doeltreffendheid van elke metode bepaal om uiteindelik 'n probleemoplossingskultuur in voorgraadse Fisiologieklasse te bevorder.


Hy het sy praatjie afgesluit deur te verwys na die voordele wat die dosent uit die inwerkingstelling van aktiewe leerstrategieë kan put. Hierdie strategieë skep 'n rustige en veilige klimaat, respek en inklusiwiteit, en verg boonop minimale hulpbronne. Daarbenewens dien die dosent as 'n mentor – hy/sy stel 'n voorbeeld van opregtheid, deernis en egtheid.

Vir meer inligting oor die onderwerp, kontak gerus die aanbieder by mfessop@sun.ac.za.

Die volgende Leer-en-Onderrigverrykingseminaar vind plaas op 5 September 2019.