Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US help Afrika om vorm te gee aan die toekoms van hoër onderwys
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 23/05/2019

Terwyl die golf van die Vierde Industriële Revolusie oor die wêreld spoel – met kunsmatige intelligensie, robotika, die Internet van Dinge, outonome voertuie, 3-D-drukwerk, presisiegeneeskunde en kwantumberekeninge wat die belofte van veranderinge in alle aspekte van die samelewing inhou – is die Universiteit Stellenbosch (US) se doelwit om Afrika te help om deel te word van die volgende revolusie. 

Die vinnig-ontwikkelende vakrigtings, datawetenskap en berekeningsdenke, vorm die kern van al hierdie vooruitgang regoor die wêreld. Om Afrika in staat te stel om te help om vorm aan die volgende revolusie te gee en die tradisionele landskap van onderrig en leer in hoër onderwys te help vorm, stel die US op 29 Julie 2019 die Universiteit Stellenbosch Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke bekend.

Hierdie nuwe Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke sal 'n onkonvensionele, trans-fakulteit-benadering tot onderrig en leer in Datawetenskap en Berekeningsdenke volg. Prof Wim Delva, die waarnemende direkteur van die US Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke, is baie opgewonde oor die toekomstige invloed wat die skool op die ontwikkeling van nuwe navorsing en die opleiding van toekomstige datawetenskaplikes in Suid-Afrika kan hê.

“Die skool sal aan studente die geleentheid bied om as datawetenskaplikes opgelei te word en ondervinding as datawetenskaplikes op te doen binne 'n span (in teenstelling met 'n PhD-student wat in isolasie werk). Dit is belangrik omdat spanwerk beste programmeringspraktyke versterk en uiteindelik tot beter gehaltebeheer en beweeglikheid lei," sê Delva.

Verskeie STEM-fakulteite en -departemente (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) speel reeds 'n groot rol in innoverende en nuwe maniere van onderrig en leer en die Universiteit hoop om alle gegradueerdes voor te berei op die Vierde Industriële Revolusie, om akademici te ondersteun en om as 'n betroubare en gerespekteerde vennoot hulp aan die private en openbare sektore in en vir Afrika te bied.

Volgens prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, het die Universiteit nog altyd daarna gestreef om tred te hou met die ontwikkeling van tegnologie en om nuwe tegnologiese metodes of hulpmiddele by die Universiteit se leer en onderrig te inkorporeer.

“Die Skool vir Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke, wat aspekte van navorsing en kursusinhoud oor kunsmatige intelligensie, robotika en masjienleer insluit, is 'n baie relevante manier waarop die US ons studente op navorsing en onderrig voorberei. Ons almal se grootste uitdaging is om te bepaal wat presies die Vierde Industriële Revolusie behels. Akademici se rol sal wees om te onderskei tussen die ophef wat oor die onderwerp gemaak word en hoe om met sinvolle onderrig hierop te antwoord. Ons moet studente só voorberei dat hulle nie bang is vir die Vierde Industriële Revolusie nie. Ons moet hulle eerder leer hoe om die voordele van tegnologie, insluitende outomatisasie, aan te wend. Hulle moet tegnologie gebruik om geleenthede te skep en die samelewing te verbeter," sê Schoonwinkel.

Voortdurende vernuwing van akademiese programme was nog altyd deel van die US se benadering. Baie meer programme selfs buite die STEM-fakulteite sal groter klem op berekeningsdenke plaas deur byvoorbeeld rekenaars en sagtewarestelsels te gebruik om probleme op te los waarvoor mense wel oplossings het, maar wat rekenaars in sommige opsigte beter kan doen.

“Ons kan nie aanhou om net oor die nuutste tegnologie op universiteit klas te gee nie, want dit verander so vinnig. Wat ons moet aanhou om studente te leer, is analitiese denke, sistemiese denke, kritiese denke; ons moet al hierdie denke by soveel as moontlik modules insluit. Ons berei studente voor om tegnologie ten volle te benut en om selfs met nuwe tegnologie vorendag te kom. Sommige vaardighede wat ons vir studente aanleer, sal altyd relevant bly, ongeag hoe ver tegnologie vooruitgaan of hoeveel robotika gebruik word," sê Schoonwinkel.

Die STEM- sowel as die Sosiale Wetenskappe-fakulteite aan die US sal geleidelik hul kursusse aanpas om te verstaan wat daardie tegnologie kan bied, en ook wat dit aan die samelewing doen en hoe die werkerskorps sal moet aanpas. Volgens Delva sal die Skool vir Datawetenskap en Berekeningsdenke by al die fakulteite geïntegreer word en sal dit dienste aan studente, personeel en selfs eksterne belanghebbers lewer om hulle te help met nuwe en innoverende navorsing en leer.

“Die skool sal ook verskeie opleidings- en leergeleenthede aan mense wat nie voltyds op kampus kan studeer nie, bied. Dit sluit professionele beroepslui wat nie hul loopbane vir lang periodes opsy kan skuif nie en studente wat dit nie kan bekostig om voltyds te studeer nie, in. Die skool sal gemengde leermodules vir hierdie groepe ontwikkel deur die beste materiaal van beide die Massiewe Oop-aanlynkursusse en tradisionele aangesig-tot-aangesig-onderrig te neem."

  • Klik hier vir meer inligting oor die US se strategie en planne ten opsigte van tegnologie in onderrig en leer. 

Foto deur Stefan Els.