Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vier aanvang van Afrikaweek
Outeur: SU International
Gepubliseer: 22/05/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) is toegewy aan Suid-Afrika en die vasteland en streef na transformerende vennootskappe om die wêreld ten goede te beïnvloed en te verander. So het prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, aan personeellede en studente gesê by die amptelike aanvang van Afrikaweek op Maandag 20 Mei.

Die geleentheid het die US se vieringe van Afrikadag ingelui, wat die Universiteit op 25 Mei saam met vele ander wêreldwyd sal vier.  

Prof Klopper het die gehoor meegedeel dat die US, getrou aan sy visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word, na plaaslike relevansie, 'n streekswye impak en 'n wêreldwye reikwydte streef. Oor die US se uitgebreide skakeling op die vasteland het sy gesê: “Ons sal voortgaan om ons 120 samewerkingsvennootskappe in 30 lande in Afrika te koester. As 'n universiteit, is ons verbind tot die bou van akademieskap oor die hele vasteland."

Die geleentheid het ook die bekendstelling van die US Afrika-webtuiste ingesluit. Hierdie aanlyn platform is afgestem op voornemende en huidige studente en personeellede, navorsers, vennootinstellings, die regering, die sakesektor en lede van die publiek wat belang stel in die opwindende akademiese en navorsingsgeleenthede op die vasteland wat die US bied. Die webtuiste, wat deur US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) gekoördineer word, sal inligting bied oor vennootskappe, netwerke sowel as studente- en personeelmobiliteitsgeleenthede op die vasteland.

Dr Nico Elema, bestuurder van die SSA, en prof Sarah Howie, direkteur van die Afrikasentrum vir Akademieskap (ASA), het boonop van die geleentheid gebruik gemaak om die gehoor te vertel van inisiatiewe waarby hulle onderskeie sentrums betrokke is. Prof Howie het gesels oor die Afrika Doktorale Akademie (ADA), wat onder die ASA val, en hoe dit doktorale onderrig by die US en deur die hele Afrika voortdurend ondersteun en versterk. Die ADA is in 2009 bekend gestel, en is dus trots daarop om vanjaar tien jaar van doktorale uitnemendheid te vier. Dr Elema het op sy beurt uitgewei oor die US se sterk betrokkenheid op die vasteland, wat al bilaterale ooreenkomste met 26 ander hoëronderwysinstellings in Afrika die lig laat sien het.

Klik op die skakels hieronder vir meer oor komende Afrikadagverwante aktiwiteite:

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering (derde regs) saam met gaste tydens Afrikaweek-vieringe.

Foto: Hennie Rudman