Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-Kameroen-vennootskap versterk MIV-navorsing
Outeur: Birgit Ottermann
Gepubliseer: 22/05/2019

Danksy die Universiteit Stellenbosch se sterk skakeling met die res van Afrika spog die instelling met bilaterale ooreenkomste met 26 hoëronderwysinstellings op die vasteland. Hierdie vennootskappe, wat deur US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika ontwikkel en gekoester word, het oor die jare al talle waardevolle geleenthede en voordele vir studente en personeellede geskep.

Een voorbeeld is dr Graeme Jacobs, 'n senior dosent en navorsingswetenskaplike van die US se Afdeling Geneeskundige Virologie in die Departement Patologie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Jacobs, wat as deel van nGAP (die nasionale program vir 'n nuwe geslag akademici) aangestel is, werk reeds sedert 2014 saam met 'n navorser by die Universiteit van Yaoundé 1 in Kameroen. “Ek is al sedert my nagraadse jare by MIV/vigs-navorsing betrokke," sê hy. Hy is 'n US-alumnus wat 'n BSc in Molekulêre en Sellulêre Biologie en sowel sy honneurs- as magisterkwalifikasie in Geneeskundige Virologie by Stellenbosch verwerf het, en besit 'n PhD in Lewenswetenskappe (Geneeskundige Virologie) van die Universiteit van Würzburg in Duitsland. “Ek het nog altyd hoofsaaklik op MIV-diversiteit en -weerstandigheid in Suid-Afrika en Afrika gekonsentreer – ek stel belang in hoe sekere weerstandigheidsverwante mutasies behandelingsuitkomste beïnvloed."

Sy toevallige ontmoeting met 'n Kameroense navorser, dr George Ikomey, by 'n vergadering van die Europese Molekulêre Biologieorganisasie (EMBO) op Stellenbosch in Februarie 2011 het tot 'n MIV-navorsingsvennootskap gelei wat die twee tot vandag toe saamsnoer. “Ek werk ten nouste saam met dr Ikomey, 'n immunologiekenner van die Sentrum vir die Studie en Beheer van Aansteeklike Siektes aan die Universiteit van Yaoundé I. Hoewel ons samewerking om MIV draai, deel ons ook 'n belangstelling in hepatitis, menslike papilloomvirus (MPV), tuberkulose en ander infeksiesiektes," verduidelik Jacobs. “Ons het gou besef ons navorsingsbelangstellings is baie soortgelyk en het sedertdien 'n hegte vriendskap gevorm, met voortdurende kommunikasie."

Die samewerking tussen hierdie twee produktiewe Afrikanavorsers het al tot 'n hele aantal gesamentlike publikasies, konferensieaanbiedings, navorsingsbesoeke, nagraadse vermoëbousessies en studente-uitruilgeleenthede gelei. “Ons mees onlangse werk was om verskillende antiretrovirale behandelingstelsels vir die Kameroense bevolking te toets om optimale behandelingsopsies vir geïnfekteerde pasiënte te help bepaal," sê Jacobs.

Jacobs skryf hulle sukses grotendeels aan die US se formele vennootskap met die Universiteit van Yaoundé I toe: “Die US voorsien ontsaglik baie steun, veral deur die Afrikasamewerkingstoekenning, wat navorsingsbesoeke moontlik maak. Daarbenewens het studente ook al geleentheid gehad om tussen die twee instellings te reis, wat grootliks deur US Internasionaal gefasiliteer is. Dít het ons aansienlik help groei."

Die Afrikavennootskap het ook 'n kernrol vervul om Jacobs se eie navorsingshorisonne te verruim. “As 'n MIV-navorser, is dit vir my besonder interessant om in Kameroen te werk. Hier in Suid-Afrika werk ons meestal met MIV-1-subtipe C, maar in Kameroen, wat baie mense as die geboorteplek van MIV-kruisinfeksies deur sjimpansees beskou, kom daar talle verskillende, rekombinante stamme voor. Dít beteken hulle MIV-epidemie lyk baie anders as ons s'n, wat ons toegang bied tot 'n verskeidenheid MIV-stamme wat nêrens anders ter wêreld aangetref word nie." Jacobs glo dié toegang tot veelvuldige stamme van die virus bied hulle 'n beter begrip van die genetiese veranderlikheid van MIV, en versterk dus die moontlikheid van beter diagnostiese toetse vir alle MIV-stamme.

Volgens Nico Elema, bestuurder van die Sentrum vir Samewerking in Afrika, is die US se vennootskap met die Universiteit van Yaoundé 1 in November 2013 in 'n bilaterale ooreenkoms geformaliseer. “Die US se vennootskapsontwikkeling bou dikwels voort op bestaande akademiese kontakte, soos in die geval van drs Jacobs en Ikomey. Ons doel is om 'n instaatstellende omgewing vir navorsingsaktiwiteite met ander Afrikalande te skep deur vennootskapsontwikkeling te ondersteun en mobiliteitsprogramme en -toekennings te voorsien."

 Dr Graeme Jacobs

Foto: Florence de Vries