Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se 7de Biblioteeknavorsingsweek skop af
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 14/05/2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se sewende jaarlikse Biblioteeknavorsingsweek is Maandag, 13 Mei 2019 van stapel gestuur. Dit sal vir die hele week tot Vrydag, 17 Mei duur en word op beide die Stellenbosch- sowel as die Tygerberkampus aangebied.

Vanjaar se tema is Word 'n slimmer navorser met verskeie aanbiedinge wat op die subtemas, Wees voorbereid, Wees oop, Word geïnspireer en Word ondersteun sal fokus.

Die Senior Direkteur: Biblioteek en Inligtingsdienste aan die US, Ellen Tise, het gesê hulle poog elke jaar om alle ontluikende navorsers, nagraadse studente en jong akademici te lok en sy hoop dat hulle weer vanjaar sal kan baat vind by die wonderlike en vrugbare week.

“Ons reël elke jaar kundiges om hul praktiese kennis oor relevante onderwerpe soos navorsingsintegriteit (wat vanjaar onder die loep kom), met ons te kom deel. Ander onderwerpe sluit in skryf, hoe om jou momentum te behou wanneer jy skryf en die literatuursoekstrategie – iets wat ons elke jaar het tydens die navorsingsweek."

Volgens Tise sal die hele navorsingsweek wonderlike aanbiedinge vir navorsers bied en het benadruk dat ontluikende navorsers en ander belanghebbers veral Woensdag se geleentheid tussen 13:00 en 14:00 in die US-biblioteek moet bywoon. Hierdie aanbieding, getiteld Die veranderende landskap van ope toegang wêreldwyd, word deur Glenn Truran van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek- en Inligtingskonsortium (SANLiC) aangebied, met Michael Cherry, 'n akademikus by die US, wat sal repliek lewer.

“Dit is belangrik dat ons hierna kyk en ons wil graag hê soveel mense moontlik, veral nagraadse studente en akademici, moet dit bywoon. Daar is talle internasionale navorsingsinisiatiewe regoor die wêreld, veral die Open Access 2020-inisiatief. Die akademiese landskap is besig om heeltemal te verander en daar is al hierdie wêreldwye inisiatiewe om te verseker dat soveel as moontlik van ons vakpublikasies en navorsing oop en toeganklik sal wees vir enigiemand op enige plek in die wêreld," het Tise gesê.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het die navorsingsweek amptelike geopen. Hy het die belangrikheid daarvan om biblioteke by universiteite te hê, benadruk. “Biblioteke help universiteite om een van ons belangrike mandate in die samelewing na te kom – die mandaat om intellektuele arbeid te omarm. Intellektuele arbeid help ons om vry te wees en vrygemaak te word van die vlug van kompleksiteite. Deur harde werke en gedurende hierdie navorsingsweek moet ons die universiteit en die samelewing help om al hierdie kompleksiteite te hanteer deur die moeilike vrae te vra en hierdie week te gebruik om slimmer navorsers te word."

Die geleentheidspreker by die bekendstelling was prof Johan Fourie, professor by die Laboratorium vir die Ekonomie van Afrika se Verlede (LEAP). Sy onderwerp was Van dokumente tot data: Hoe digitale hulpmiddels geskiedenisnavorsing kan verander. Hy het die belangrikheid van die argivering van dokumente wat oor die algemeen as oninteressant beskou word soos bv. huweliksertifikate, doopseels, ens, wat kan help om die stories te vertel van Suid-Afrikaners wie se geskiedenis nooit volledige opteken is in ons verlede nie, beklemtoon.

“ʼn Deel van my navorsing fokus daarop om nuwe maniere te vind om 'n stem te gee aan die mense wat gewoonlik uitgesluit word van die stories wat die argiewe in Suid-Afrika en ander koloniale lande se geskiedenis oorheers. Bibliotekarisse en argivarisse is belangrike agente wat ons help om hierdie stories op te diep en te vertel," het Fourie gesê.

Vir meer te wete te kom oor die navorsing wat deur Fourie en sy kollegas gedoen word, klik hier.

Besoek http://library.sun.ac.za/af-za/Pages/Home.aspx vir die Biblioteeknavorsingsweek se volledige program. ​

Foto deur Stefan Els.