Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US lewer eerste boek en DVD-stel vir dowe en horende kinders
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 14/05/2019

Danksy die harde werk en toewyding van 'n groep personeellede en 'n nagraadse student van die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die eerste SA Gebaretaal-boek en DVD-stel wat tegelyk deur dowe en horende kinders geniet kan word, vrygestel. Die stel bestaan uit 'n Engelse boek deur verskillende skrywers getitel Sign Language Savesen dit word vergesel van 'n DVD in vyf tale – SA Gebaretaal (SASL), Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu.

Dowe kinders kan nou die Engelse boek lees of dit in Gebaretaal kyk op die DVD terwyl horende kinders die storie kan volg saam met hul dowe eweknieë in een van die vier vertalings op die DVD terwyl hulle ook die SASL-gebare sien.

Die span wat aan die projek gewerk het sluit in Maryke van Velden, 'n projek-illustreerder en kreatiewe skrywer wat die estetiese aspekte van die boek-ontwerp hanteer het; Sima Mashazi, 'n junior lektor en MA-student wat die Engels en isiZulu oorklanking gedoen het; Prof Frenette Southwood wat die Afrikaanse oorklanking gedoen het; en PhD-student Khanyiso Jonas, wat die isiXhosa oorklanking gedoen het. Vanessa Reyneke, 'n projek-koördineerder vir die ontwikkeling van onderwys- en leerondersteuningsmateriaal in SASL in die Departement Algemene Taalwetenskap, was verantwoordelik vir die gebaretaal op die DVD en die bestuur van die hele projek. Die projek is befonds uit die Rektor se Strategiese Fonds, met 'n addisionele boek wat later in 2019 volg en nog een in 2020.

Volgens Reyneke het die projek sy oorsprong in die span se ondersoek na die moontlikheid om SASL leesmateriaal te ontwikkel vir skole wat dowe en horende leerders saam sou kon lees.

“Ons het 'n Vlaamse kinderboek ontdek wat ons in 'n SASL boek kon omskep en 'n DVD met karakters eie aan Suid-Afrika," verduidelik Reyneke.

Sy het die skrywers van die boek genader, wat ingestem het dat die storie in Suid-Afrika gereproduseer kon word en dat die gebaretaal aangepas kon word om SASL-gebare te weerspieël.

Om by die finale boek en DVD-stel uit te kom, moes die span 'n lang proses volg wat gewissel het van die verkryging van kopiereg om die boek te produseer tot die wysiging van sommige van die illustrasies van Suid-Afrikaanse wilde diere, die gebruik van gebare in die illustrasies en die vervanging van die oorspronklike Vlaamse gebaretaal met SASL gebare.

“Ons was aangetrokke tot die Vlaamse boek want die karakters was almal diere wat in Afrika gevind word. Ons het gedink bekendheid met hierdie diere sou die storie vir kinders in Suid-Afrika van verskillende agtergronde en kulture meer toeganklik maak. Daar was sommige dinge wat ons versoek is om dieselfde te hou, soos die stert van Noah die Leeu, wat piets om te wys hoe opgewonde hy is. Hy is ook die hoofkarakter en dra altyd rooi in die Vlaamse boek, dus het ons dit so behou in die Suid-Afrikaanse weergawe."

“Daarna moet ons die SASL op die DVD vertaal na gesproke Afrikaans, Suid-Afrikaanse Engels, isiZulu en isiXhosa. Terwyl daar slegs een gebaretaal-weergawe van die storie op die DVD is, is die klankbaan in die verskillende tale gedoen."

Een van die belangrikste dinge van hierdie reeks, sê Reyneke wat self doof is, is dat horende kinders nou blootgestel word aan en bewus gemaak word van SASL.

Terwyl gebaretaal geleer word in skole vir dowes, is dit nie 'n amptelike Suid-Afrikaanse taal nie en daarom nie een waaraan horende kinders blootgestel word nie.

“Gebaretaal is iets wat verborge bly, uit die openbare oog. Selfs wanneer jy gebaretaal op TV sien, word dit gedoen deur 'n tolk in die regterkantste onderste hoek van die TV-skerm. So ons blootstelling aan SASL is beperk," sê Reyneke.

“Met hierdie boek kan ons kinders blootstel aan gebaretaal, wat ek meen 'n wonderlike idee is aangesien dit bewustheid van die taal onder horende kinders sal bevorder. Wie weet, dit mag hulle selfs aanspoor om die taal te leer om te kan kommunikeer met dowe persone."

Die boek en DVD-stel sal horende ouers met dowe kinders in staat stel om saam met hul kinders te lees.

“Die meerderheid dowe kinders se ouers kan hoor maar dusver was daar geen SASL materiaal wat horende ouers toelaat om 'n storie saam met hul dowe kind te geniet nie. Dit skep 'n geleentheid vir ouers en kinders om 'n band te vorm en hul verhoudings te bou."

Hoewel Reyneke die projek gelei het, wys sy vinnig daarop dat sy dit nie sou kon voltooi het sonder die bystand van haar kollegas, Van Velden en Mashazi, en PhD-student Jonas nie.

“Omdat ek nie kan hoor nie moes ek ook staat maak op 'n tolk wat kan hoor en gebaretaal kan gebruik en kon verseker dat die tempo van my gebare aangepas het by die gesproke taal en beelde op die skerm."

Noudat die eerste boek en DVD-stel algemeen beskikbaar is en twee ander in die proses is om geïllustreer te word, hoop Reyneke om ook 'n DVD met oorklankings in die Afrikaanse dialek Kaaps te skep.

“Ons het 'n vinnige toets gedoen deur die tweede boek, wat tans geïllustreer word, te deel met 'n groep horende en dowe kinders en hulle was mal daaroor. Hulle het gevra wanneer hulle nog sulke boeke kan kry om te lees."

Vir nou is Reyneke gelukkig met die wete dat sy, tesame met haar kollegas, 'n hele nuwe wêreld geopen het vir horende sowel as dowe kinders om saam te geniet.

“Dit is iets wat nie voorheen in Suid-Afrika beskikbaar was nie, en nou dat dit gedoen is, hoop ek dit toon dat baie meer in die toekoms moontlik is."

Foto: Die eerste Suid-Afrikaanse Gebaretaal-boek en DVD-stel wat gelyktydig deur dowe en horende kinders geniet kan word, is onlangs vrygestel danksy die harde werk van die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, met befondsing uit die Rektor se Strategiese Fonds. (Foto verskaf.)​