In die annale van die Universiteit Stellenbosch (US) sal Alison Barr, Hlanzeka Mpanza en Anja Lategan opgeteken staan as die eerste ontvangers van 'n MSc-graad in Voedsel- en Voedingsekerheid. Die drietal was in 2017 onder die eerstes wat vir die program ingeskryf het, en het hul grade tydens die US se April 2019-gradeplegtigheidseremonie ontvang.
Mpanza is 'n voedingskundige, terwyl Barr en Lategan voedselwetenskaplikes is.
Die program is in 2017 van stapel gestuur om beleidmakers en praktisyns in verskillende sektore die nodige onderbou te gee sodat hulle beter besluite kan maak wanneer dit kom by kwessies rondom die voorsiening van voedsel en voedselsekuriteit. Dit bied aan studente 'n breë en omvattende oorsig oor gesondheidskwessies en die rol wat kos met genoegsame voedingswaarde daarin speel.
Slegs vyftien studente word elke jaar vir die program gekeur. Die program bestaan uit twaalf modules, terwyl studente ook 'n navorsingsprojek moet voltooi. Studente hoef nie voltyds op kampus te wees om dit te kan volg nie. Die kursusinhoud word gesamentlik aangebied deur die Departemente Voedselwetenskap en Landbou-ekonomie in die US Fakulteit AgriWetenskappe, asook die US Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe se Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskap (Afdeling Menslike Voeding).
Volgens die programleiers, prof Xikombiso Mbhenyane van die US Afdeling Menslike Voeding, en prof Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap, is kwessies rondom voedsel en voeding kompleks en multidissiplinêr van aard, omdat die mens se bestaan so nou met kos verweef is.
"Die MSc-program in Voedsel- en Voedingsekerheid wil studente toerus sodat hulle kwessies rondom voedsel- en voedingsekuriteit holisties kan benader, alle faktore in ag sal neem en oplossings vir spesifieke probleme in die voedselstelsel binne die groter prentjie sal kan soek," verduidelik prof Gunnar Sigge van die US Departement Voedselwetenskap. "Die program poog om die natuurlike-, sosiale- en voedingswetenskappe bymekaar te bring om hierdie kwessies aan te spreek."
Voordat Kapenaar Alison Barr haar MSc-studies aangepak het, was sy werksaam in die voedselbedryf en veral gemoeid met kwaliteitbeheer en voedselveiligheid. Sy voel sterk oor mense se regte rondom kos, en die toegang daartoe. Sy stel belang in die ondersteuning van die voedselbedryf en om maniere te vind waarop die waardeketting geoptimaliseer kan word om volhoubare voedselstelsels te skep.
“Die reeks modules waaruit die MSc-program bestaan het my blootgestel aan verskeie aspekte wat ter sake is as dit by voedselsekerheid sowel as voedingsekerheid kom," verduidelik sy.
In haar navorsingsprojek het Barr landbou-ekonomiese beginsels toegepas om die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor die afgelope paar jaar te beskou. Op haar beurt het Anja Lategan gekyk na insekte se voedingswaarde, en of dit gebruik sou kon word as alternatiewe bron van yster, sink, vitamien A, foliensuur en jodium.
"Ek het gedurende my studies belangrike vaardighede aangeleer wat ek weer in die werkplek sal kan gebruik," reken Lategan, wat in Kuilsrivier woon en onlangs 'n nuwe werk in Bellville begin het. “Dit sluit vaardighede soos kritiese en analitiese denke in, asook praktiese vaardighede soos hoe om verslae te skryf en hoe om saam met mense te werk."
Voedingskundige Hlanzeka Mpanza werk vir 'n multinasionale voedselmaatskappy in Durban. Sy het besluit om die MSc-program te volg om meer insigte te kan kry oor hoe besluite rondom voedsel in die breë uiteindelik volhoubaarheid beïnvloed.
Meer oor die MSc-program in Voedsel- en Voedingsekerheid:
- Aanlynaansoeke vir die 2020-inname sluit op 31 Augustus 2019 (vir internasionale kandidate) en 30 September 2019 (vir Suid-Afrikaanse kandidate). Om aansoek te doen, besoek die Universiteit Stellenbosch se webwerf vir voornemende nagraadse studente by www.sun.ac.za/pgstudies.
- Om vir keuring in aanmerking te kom, moet voornemende studente beskik oor 'n toepaslike BSc-graad in die natuurwetenskappe (3 jaar) en 'n Honneursgraad, OF 'n BSc Landbou-graad OF 'n vierjarige graad in Gesondheidswetenskappe, met 'n minimum slaagsyfer van 60%, OF 'n Baccalaureus- en Honneursgraad wat deur die US Senaat goedgekeur is, en op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) is met dieselfde slaagsyfer as hierbo.
- Vir meer inligting, kliek hier vir 'n brosjure.
- Vir vrae rondom die programinhoud, kontak prof Gunnar Sigge (gos@sun.ac.za) of prof Xikombiso Mbhenyane by (xgm@sun.ac.za). Vir algemene navrae, kontak Julia Harper (jrs@sun.ac.za).
In die foto van links: Anja Lategan, Hlanzeka Mpanza en Alison Barr.