Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-atlete ‘geëerd en dankbaar’ om Bettie Harmsen-beurs te ontvang
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 16/04/2019

“Die Bettie Harmsen-beurs is 'n beurs met 'n persoonlike invalshoek. Dit gaan nie bloot daaroor om vir julle geld te gee nie, maar eerder om vir julle geleenthede te gee om sukses te behaal waarby ander ook uiteindelik sal baat."    

Dit is hoe Bettie se suster, Louisa Hall, onderhoof aan Hoërskool The Settlers in Bellville, die waarde van die beurs aan die 2019-ontvangers, Anika Pretorius en Kwezi Mtoba – studente aan en atlete van die Universiteit Stellenbosch (US) – verduidelik het.         

“As 'n familie het ons gesoek vir studente wat meer as net atlete is – studente wie se droom dit is om 'n bydrae tot die gemeenskap te lewer."

Bettie Harmsen, née Buitendag, was 'n ywerige atleet en US-gegradueerde wat in 1989 haar BSc-honneursgraad in Mediese Biochemie verwerf het. Nadat sy aan die US gegradueer het, het Bettie 'n suksesvolle loopbaan in die farmaseutiese bedryf gehad, eers in Suid-Afrika en later in die Verenigde State waar sy saam met haar man en twee kinders gewoon het. Bettie is op 21 Desember 2016 in die ouderdom van 50 aan kanker oorlede.

'n Paar dae voor haar dood het sy en haar man, Hans, besluit om 'n beurs aan belowende baan- en veldatlete van die US toe te ken. Die gesin het hulself daartoe verbind om vir 'n minimum van tien jaar elke jaar $10 000 te skenk.

Baanatlete en Maties-studente Justine Palframan en Gardeo Isaacs was in 2018 die eerste ontvangers. Vanjaar is die beurs toegeken aan Anika, 'n Paralimpiese atleet wat vir 'n meestersgraad in Sportwetenskap ingeskryf is, en Kwezi, 'n BCom Bestuurswetenskappe-student in sy finale jaar en veldatleet.       

Stargardt se siekte is by Anika gediagnoseer toe sy 13 jaar oud was – dit is 'n toestand wat progressiewe agteruitgang van die macula, 'n klein deel in die middel van die retina, veroorsaak. As gevolg van dié gestremdheid het sy haar fokus van gimnastiek na atletiek verskuif, 'n sport waarin sy baie goed gevaar het.         

Sy is in 2012 gekies om Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele in Londen te verteenwoordig in die verspring vir siggestremde atlete (T13). Sy het weens 'n besering die 2016 Rio Paralimpiese Spele misgeloop en berei tans voor vir die Wêreld Para-atletiekkampioenskap in Dubai later vanjaar en die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio. Haar fokus is nou op die 100m (T13).         

“Ek het 'n hele paar beserings gehad wat my weerhou het om deel te neem, en nou omhels ek net die genade om te kan hardloop. Ek is dankbaar vir hierdie beurs en die finansiële ondersteuning wat dit my bied om te doen waarvoor ek lief is. Dit is 'n voorreg om deel van Bettie Harmsen se nalatenskap te wees."   

Kwezi se belangstelling in die verspring- en driesprong-items het eers in die hoërskool begin nadat 'n skouerbesering hom weerhou het om krieket te speel. Hy het uitsonderlike potensiaal gewys en was die nommereen-driesprongatleet vir juniors in SA en Afrika in 2016. Hy was ook lid van die SA Studentespan vir die KUKSA Spele in 2018. Sy doelwit vir hierdie jaar is om vir die SA span vir die Wêreld Studentekampioenskap gekies te word.         

“Ek voel baie geëerd en spesiaal om met die hand uitgesoek te wees vir hierdie beurs. Dit beteken baie dat hulle potensiaal in my kon raaksien en my in my loopbaan as 'n studente-atleet wil ondersteun. Dit dien ook as aansporing om werklik goed te doen hierdie seisoen en moedig my aan om die beste student en atleet te wees wat ek kan wees."

Die vier pilare van die beurs stem ooreen met die fokusareas van die Maties Sport Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid), naamlik sportprestasie, akademiese prestasie, persoonlike bemagtiging en ontwikkeling, en gemeenskapsbetrokkenheid.

Volgens Hans Harmsen, Bettie se man, was die familie beïndruk met die onderskeie kandidate vir die beurs.               

“Dit was baie moeilik om te besluit. As mens Anika se siggestremdheid in ag neem, kan ons ons net indink watter opdraandestryde sy moes veg en die uitdagings wat sy te bowe moes kom om te kom waar sy nou is. Met haar betrokkenheid by kinderkerk en die onderrig en afrigting van gestremde kinders, stel sy die gemeenskapsbewustheid ten toon wat vir ons belangrik is. Anika blyk duidelike doelwitte te hê, nie net vir haarself nie maar ook hoe sy waarde kan toevoeg tot diegene rondom haar, onder meer die kinders wat sy aanraak met haar uitreikwerk.

“Kwezi vaar nie net akademies goed nie, maar daag homself deurlopend uit, sowel akademies as op die atletiekbaan. Kwezi se persoonlike motivering, perspektiewe en allesomvattende doelwitte – sy strewe om die beste mens te wees wat hy kan wees in elke sfeer van die lewe – het ons beïndruk.          

“Op hul eie manier weerspieël Anika en Kwezi se aansoeke sleutelaspekte van Bettie se uitkyk op die lewe: Sy is gedryf deur haar geloof, het 'n “kan-dit-doen"-benadering tot enige uitdaging gehad en het diep omgegee vir die mense rondom haar terwyl sy probeer het om die beste mens te wees wat sy kon wees: vrou, ma, suster, dogter, vriendin, sakevrou, kollega, Sondagskoolonderwyseres, en – jare gelede – vyfkampatleet met die spesialis-items verspring en hekkies. Ons hoop die beurs sal Anika en Kwezi help om hul persoonlike doelwitte in 2019 te bereik, én inderdaad in elke sfeer van hul lewe te groei."   

Volgens Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport, is hulle geëerd om Bettie Harmsen se nalatenskap namens haar familie voort te sit.

“Studente-atlete is baie spesiale mense omdat dit van hulle verwag word om 'n balans te vind tussen hul akademiese en sportprestasies. Die voortsetting van die Bettie Harmsen-beurs demonstreer dat vennootskappe van krag tot krag kan gaan."