Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties wen sewe goue medaljes by USSA Atletiek
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 15/04/2019

Maties se atletiekspan het sewe goue medaljes gewen by die USSA Atletiek-byeenkoms wat van 4-6 April by Coetzenburg aangebied is.

Justine Palframan het goud in die 200m en 400m gewen, terwyl Gardeo Isaacs die 400m vir mans gewen het. Maties het hul oorheersing in die 400m-items voortgesit toe die mans die goue medalje in die 4x400m-aflos losgehardloop het.

Paalspringer Valco van Wyk, hoogspringer Breyten Poole en tienkampatleet Jesse Perez het ook goue medaljes in hul onderskeie items gewen.

“Ek is so dankbaar vir die geleentheid om te hardloop en om die talent wat God vir my gegee het, ten volle te benut – die medaljes is net 'n bonus," sê Palframan. “Ek sien uit om te sien hoe die seisoen gaan verloop en om elke stap van die reis te geniet."

Terwyl Palframan een van Maties se mees ervare atlete is, het die eerstejaarstudent Poole sy eerste USSA-titel gewen.

“Ek is baie tevrede met my prestasie. Ek het die kompetisie gewen met my beste hoogte dié seisoen (2,23m), so dit was beslis 'n goeie eerste USSA-ervaring vir my. Ek is opgewonde oor die volgende paar kompetisies. Daar is nog baie werk om te doen, maar ek is tevrede met die vordering wat ek sien," het dié oudleerder van Paul Roos Gimnasium gesê.

Van Wyk het sy wenhoogte van 4,90m met 'n wind van voor van 25km/h behaal.

“Met dit in gedagte, is ek ekstra tevrede met die goue medalje. Dit was goeie voorbereiding vir die Afrika-kampioenskap en my uiteindelike doelwit is om vir die wêreldkampioenskap in Doha te kwalifiseer."

Isaacs vaar uitstekend hierdie seisoen en was ook die Victor Ludorum by die tweede Varsity Atletiek-ontmoeting wat in Maart in Potchefstroom aangebied is.

“Ek is verheug dat ek goud in die 400m kon wen op my tuisbaan. My volgende uitdaging is die SA Senior Kampioenskapsbyeenkoms in Germiston."

Perez, gouemedaljewenner in die tienkamp, het gesê: “Ek het pas teruggekom ná ek vir vier maande van 'n besering herstel het en om vier persoonlike beste resultate in die tienkampitems te kon behaal, maak my baie gelukkig."

Maties het altesaam 14 medaljes – sewe goud, drie silwer en vier brons – gewen.

Hadley Volkwyn, Maties Sport Atletiek-bestuurder, het gesê: “Dit was 'n baie suksesvolle byeenkoms as gasheer en as Maties. Ons het op ons uitslag van verlede jaar verbeter en ek is baie trots op al die atlete. Die gehalte van atletiek was baie hoog."

'n Groep van 40 studente sal gekies word om Suid-Afrika by die Wêreldstudentekampioenskap in Napels te verteenwoordig. USSA sal die name in Mei aankondig.