Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aftreegeskenk van R40 000 vir Chemie-uitreikinisiatief
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 15/04/2019

'n Skenking van R40 000 is onlangs deur Prof Wolfgang Mackenroth, voormalige visepresident van BASF, en die internasionale welsynsorganisasie Kiwanis, aan die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikinisiatief (SUNCOI) oorhandig.

Prof Mackenroth se jarelange verhouding met die Universiteit Stellenbosch (US) dateer sedert 1984 en 1985 toe hy as eerste voltydse internasionale nadoktorale genoot in prof Ben Burger se navorsingsgroep in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap gewerk het. Sedertdien het hy die departement jaarliks besoek vir samewerkende navorsingsprojekte, sowel as die opleiding van nagraadse studente in sy hoedanigheid as buitengewone professor. 

Prof Mackenroth sê hy het vier jaar gelede van SUNCOI te hore gekom toe prof Klaus Koch (toe departementshoof van Chemie en Polimeerwetenskap) hom na een van die praktiese sessies genooi het wat deur SUNCOI in die departement se laboratoriums aangebied is.

“My dogter, Alexandra, het ook op 'n onlangse besoek aan die US om haar internskap onder  prof. Catharine Esterhuysen te voltooi, as vrywilliger by een van die SUNCOI-geleenthede opgetree – 'n ervaring wat 'n groot indruk op haar gemaak het," sê hy.

Toe dit dus tyd word vir hom om as visepresident van BASF uit te tree, het hy 'n braai as afskeidsgeselligheid gekies en kollegas en gaste gevra om donasies ten bate van SUNCOI te maak, in plaas van die gewone geskenke soos wyn en blomme vir homself. Kiwanis, 'n internasionale welsynsorganisasie bestaande uit vrywilligers  wat poog om gemeenskappe te bemagtig om die wêreld 'n beter plek te maak  deur blywende veranderinge in die lewe van kinders teweeg te bring, het ook 'n bydrae gemaak. Die finale bedrag van R40 000 is uiteindelik op 27 Maart 2019 tydens 'n spesiale oorhandigingseremonie in die De Beers Gebou aan SUNCOI oorhandig.

Dr Rehana Malgas-Enus, een van die medestigters van SUNCOI in 2013, het die skenking verwelkom en gesê dat dit 'n groot bydrae tot die volhoubaarheid van die projek sal lewer: “Met hierdie skenking sal SUNCOI hierdie jaar ten minste twee praktiese sessies vir ongeveer 150 leerders kan aanbied."

Meer oor SUNCOI

Die Universiteit Stellenbosch Chemie-uitreikinisiatief (SUNCOI) wat in 2013 deur dr Rehana Malgas-Enus, met sterk steun van die toenmalige  departementshoof van Chemie en Polimeerwetenskap, Prof Klaus Koch gestig is, het ten doel om hoërskole in minderbevoorregte gebiede te help om chemie-eksperimente wat deur die nuwe CAPS-kurrikulum voorgeskryf word, uit te voer. Hierdie skole beskik nie oor die nodige infrastruktuur of hulpbronne om praktika vir die leerders aan te bied nie. Leerders en onderwysers doen dan die eksperimente met die hulp van nagraadse studentevrywilligers in een van die universiteit se ten volle toegeruste laboratoriums.

Sedert 2013 het meer as 1800 leerders en 350 onderwysers by SUNCOI gebaat en in 2018 is die inisiatief ook na die Universiteit van Pretoria en die Nelson Mandela Universiteit uitgebrei.

In September 2018 het dr Malgas-Enus die Nasionale Navorsingstigting se toekenning vir Uitnemendheid in Wetenskapsbetrokkendheid  ontvang vir haar uitstaande bydraes tot die uitbou van openbare betrokkenheid by wetenskap, en vir die feit dat sy wetenskap en tegnologie meer toeganklik maak vir Jan en San Alleman. 
Op die foto, van links na regs, prof. Klaus Koch en dr. Rehana Malgas-Enus van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, prof. Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, en prof. Wolfgang Mackenroth, voormalige visepresident van BASF. Foto: Anton Jordaan